Beurtwater vir Gauteng ingestel

Gautengers kan binnekort uitsien na beurtwater. Rand Water sê die vraag is groter as die water wat in opgaardamme beskikbaar is.

Die instelling sê om aan die hoër vraag te voldoen moet water uit opgaardamme vrygelaat word wat die provinsie in ‘n kwesbare situasie laat.

“Ons sal in sekere gevalle moontlik moet ingryp. Ons het Rand Water gevra om te kyk na die verbruikvlaktendense. As dit nodig raak om watervoorsiening veral gedurende sekere ure te beperk om die volumes water in reservoirs en stoorfasiliteite te bestuur, gaan ons dit doen,” het die voorsitter van die Gauteng Water en Sanitasie Forum Jacob Mamabolo gesê.

Intussen sal alle gebiede in Gauteng waar water gepomp, versprei en gestoor word, vrygestel word van beurtkrag.

Die Forum sê dit is om waterbesparing te verseker in die lig van die huidige waterkrisis oor die hele land. Rand Water sê die vraag na water het toegeneem.

Kragonderbrekings raak pompkapasiteit en verlaag sodoende water in die reservoirs, sê Mamabolo.

Waterkrane drup weer

Rand Water is besig met die voortgesette monitering van reservoirs in Gauteng en sê geen waterrantsoenering word tans toegepas nie, het RSG berig.

Rand Water het vroeër gesê twee van sy pompstasies in Pretoria het weer water begin pomp. Die Eikenhof- en Palmiet-pompstasies was sedert verlede Maandag buite werking, na bewering weens vandalisme en kabeldiefstal.

Meer as 25 reservoirs in verskeie dele van die Tshwane Metro het ook drooggeloop, wat duisende inwoners in gebiede wes van Pretoria sonder water gelaat het.

Die Tshwane Metro het gister 17 watertenkwaens ontplooi in die gebiede wat deur watertekorte geraak is.

Intussen het hoogliggende gebiede in die Johannesburg-omgewing, soos Bedfordview en Primrose nog watertekorte omdat die waterdrukking tans nog laag is. Rand Water sê dit sal egter stelselmatig verbeter.

Johannesburg se waternood duur voort

Dele van Johannesburg het Maandagaand steeds onder waternood gebuk gegaan.

Die watertorings en reservoirs is glo egter besig om weer vol te loop nadat probleme met die pompstasies ontstaan het.

Lae watervlakke pla by die volgende reservoirs: Rabie Ridge, President Park en Randjesfontein. Die buurtes wat hierdeur geraak word, is Ebony Park, Kaalfontein, Ivory Park, President Park, Glen Austin, Allendale, Country View, Rabie Ridge en Mayiboye.

Watertenks is voorsien en is beskikbaar by:

South Hills-watertoring en 21 Risana-pad

Westdene op die hoek van 4de Laan en Thornton-pad

Triomf op die hoek van Miller- en Edward-straat

Coronationville-hospitaal.

Die publiek word gevra om watergebruik in te kort.