Vredesgeprek in Burundi stol

Burundi se opposisie boikot tans vredesgesprekke met die regering. Die dialoog het Maandag uit protes teen die moord van ‘n opposisieleier, Zedi Feruzi, ten einde geloop.

Die VN het vroeër ingegryp om ‘n maand van protes en geweld te beëindig in dié Oos-Afrika land.

Minstens 20 mense is dood sedert oproer uitgebreek het op 26 April, ‘n dag nadat President Pierre Nkurunziza aangekondig het dat hy vir ‘n derde termyn van vyf jaar sal dien omdat hy nie vir sy eerste termyn verkies is nie.

Die oproeriges teen Nkurunziza is telkens deur soldate onderdruk wat in die lug gevuur het, net om weer elders te hergroepeer.

Daar is ook spanning in weermaggeledere dae ná die mislukte staatsgreep wat deur ’n topgeneraal gelei is, het AFP berig.

Soldate was in straatgevegte met mekaar gewikkel. Die polisie het nou grootliks op straat oorgeneem in ’n poging om die betogings te verhinder.

Voor die mislukte staatsgreep is die weermag deur betogers as meer neutraal as die polisie beskou. Soldate het dikwels tussen die polisie en betogers inbeweeg om konfrontasie te voorkom.

Minstens 20 mense is in straatgevegte gedood voordat die generaals verlede week ’n mislukte staatsgreep uitgevoer het.

Pacifique Nininahazwe, ’n leidende figuur in die protes teen Nkurunziza se poging om vir ’n derde presidentstermyn te staan, het gevra vir ’n “vreedsame betoging sonder beledigings en sonder dat klippe gegooi word”.

“Ons stop wanneer die polisie ons konfronteer. Ons sit met ons hande in die lug en daarna stap ons verder,” het hy in ’n boodskap gesê wat op sosiale media versprei is nadat vier onafhanklike radiostasies deur die owerhede gesluit is.

In die hoofstad se Nya-kabiga-distrik het die weermag in die lug gevuur terwyl betogers met hul hande in die lug op die grond gelê het en die volkslied gesing het.

Bujumbura se burgemeester, Juma Saidi, het Sondag op staatstelevisie gewaarsku dat betogers “as deel van die staatsgreep” beskou sou word en veiligheidsmagte opdrag gegee om hulle as sodanig te behandel.

’n Groep topgeneraals het vroeër probeer om Nkurunziza uit die kussings te lig, terwyl hy op ’n besoek aan Tanzanië was.

Nkurunziza word daarvan beskuldig dat hy ’n veldtog van onderdrukking teen sy opponente van stapel gestuur het. Hy het ook probeer om die onafhanklike media stil te maak sedert die staatsgreep­leiers ná hewige gevegte die knie voor lojalistiese troepe gebuig het.

Sewentien ­beweerde staatsgreepsame­sweer­ders, insluitende ’n voormalige minister van verdediging en twee toppolisiekommissarisse, het reeds in die hof verskyn op klagte dat hulle probeer het om die staat omver te werp.

Swazi’s vat Cosatu-leiers vas

Mswati III
Mswati III

Cosatu beweer die Swazilandse polisie het ‘n opposisieleier in hegtenis geneem asook ‘n vergadering van vakbondleiers uit Suid-Afrika ontwrig.

Cosatu se buitelandse sekretaris, Bongani Masuku, sê Mario Masuku, die leier van PUDEMO – die Swazilandse opposisieparty, is Vrydag in hegtenis geneem onderweg na ‘n betoging teen die regering van Koning Mswati III.

Die Swazilandse polisie het dit as onwaar bestempel.

‘n Verteenwoordiger van Cosatu en voormalige minister in Mandela se parlement, Jay Naidoo, en Biskop Paul Verryn van die Metodistekerk is eergister ook deur die Swazilandse polisie vir ondervraging ingeneem saam met nog lede van ‘n Suid-Afrikaanse groep wat die regte van werkers in Swaziland ondersoek.

Swaziland, Afrika se laaste absolute monargie, sal op die 20ste van vandeesmaand ‘n Parlementêre verkiesing hou. – RSG