Koop nou met u kredietkaart.

So nou en dan kom daar ’n vonds oor jou pad waarvan jy kwalik genoeg kan kry. Die CD wat ek ’n ruk gelede toevallig in ’n musiekwinkel raakgeloop het, is só ’n ontdekking.
Genoeg is genoeg ! heet die album. Daar is ’n prentjie van ’n weegskaal op die omslag. Die skaal trek swaar na onder met die volgende woorde daarop gebalanseer:
Bedrog
Geweld
Misdaad
Korrupsie
Diensverskaffing
Onbevoegdheid
“10 Protesliedjies deur ons land se nuwe stemme,” meld die omslag verder.
Groot was die verrassing toe ek die name van die kunstenaars agterop bekyk. Bekende sangers soos Koos Kombuis, Bok van Blerk, Klopjag en Gian Groen het bydraes gelewer.
Die boodskap in bykans al die liedjies is dieselfde : almal is moeg vir misdaad en korrupsie. Die reënboognasie oortuig nie meer nie. Afrikaners is ontnugterd. Hierdie protesmusiek gaan waarskynlik iewers deur iemand met die Voëlvrybeweging vergelyk word. Die groot verskil is egter dat die kunstenaars van Genoeg is genoeg! nie om verskoning vra nie. Die skuldgevoel is weg en is vervang met ’n strydlustige opstandigheid teen die onreg van die huidige bestel, soms met ’n weemoedige noot daarby.
Abel Kraamsaal het spesiaal ’n snit genaamd B.E.E vir dié CD geskryf – myns insiens een van die treffendste liedjies van die album :
Toe die gravy trein ontspoor
Het ons miljoene verloor
En ons politicians sing steeds voor in die koor…
Bedrieg en vermoor, dis net ons wat bly verloor
Maar daar is iets wat ons kan doen
Teen hierdie knoeiery
Ons moet hande vat en saamstaan,
Teen daai B.E.E…
Omgekeerde rassisme is aan die orde van die dag
Terwyl boere op plase wakker lê in die nag
Vir die eerste keer word die werk van Liezl Op Bladsy 5, Hanru Niemand en die Transkei Cowboys gehoor. Die nuwelinge Glaskas en Foto Na Dans maak ook hulle verskyning.
Daar is verder bydraes deur Snotkop, Zinkplaat, Die Kaalkop Waarheid, Rian Malan, Mallies le Roux, Blouklip, Die Helde en Die Melktert Kommissie.
Sommige van hierdie kunstenaars is nog nie baie bekend nie, maar gaan beslis nog vir hulleself naam maak. Een van die interessantste figure is die sanger Snotkop. Sy regte naam is Francois Henning. Op sy webwerf word sy musiek soos volg beskryf: “Die edgy ‘funk-punk-rock’ album sal jou ma laat regop sit en haar kinders laat toesluit in hulle kamers.”
Henning het in 2000 sy eerste kontrak losgeslaan as “Lekgoa” – die land se eerste wit kwaito- sanger. Hy het vinnig een van die mees gewildste kwaito-sterre in Suid-Afrika geword. Henning en sy ses dansers het dwarsdeur Afrika getoer en voor miljoene aanhangers opgetree. Hy is ook vir beide Sama en Kora All Africa-toekennings genomineer. “Lekgoa” het ’n groot impak gemaak op gehore in Frankryk en London en daar is verskeie internasionale dokumentêre programme oor hom vervaardig. Ná vier jaar as Suid-Afrika se wit kwaito-held het Henning egter besluit dat dit tyd is om eerder in sy moedertaal te sing.
Sy liedjie op die album Genoeg is genoeg! heet Ons gaan dit nie vat nie en is uitdagend strydlustig. Die musiek is natuurlik dié van Twisted Sister:
Ons gaan dit nie vat nie
Nee, ons gaan dit nie vat nie
Ons gaan dit nie vat nie, nee nee nee
Ons het die reg om te veg, ja
En dis die een ding waarvoor ons sal opstaan
Nardus du Plooy en sy Pretoria-gebaseerde groep, Die Kaalkop Waarheid, se liedjie Willem is een van die hoogtepunte van die album.
Willem, hierdie brief wat ek skryf,
Ek bid dat jy dit kry…
Die rassehaat en nyd sê vir my:
Hoeveel keer gaan ek nog probeer
Om my onskuld te bewys?
Hoeveel keer geëtiketteer, ontken, verwyt?
En wanneer kom die vrede?
En wie gaan ons kan help?
En wat was die redes?
Was dit mag? Gesag? Was dit geld? …
Ek hoor ons tyd is nou verby
Vir my was die grootste verrassing op die album die verwerking van Sarie Marais deur Hanru Niemand. Die melankoliese toon van hierdie liedjie bly mens dae lank by.
Niemand het aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en woon tans in Bloemfontein. Sy eerste CD heet Tot Stilte. Hy is in 2005 aangewys as ’n beurshouer van die Mandela-Rhodes-stigting en was een van Maties se beste studente.
My Sarie Marais is so ver van my hart
Dalk iewers in ’n sloot
Soos Siembamba se kindjie met sy kop oopgekloof
Ja, dalk is my Sarie dood
O bring my terug na daai ou, ou land
Daar waar my Sarie woon
Waar Siembamba nog speel oor die radio
Daai land was so wonderskoon
Mineurklankies is daar wel. Die vrotsige Afrikaans van sommige kunstenaars (ag nee, Melktert Kommissie) en die swak taalversorging van die Afrikaans op die omslag ("die Afrikaans spreukende jeug“) doen ’n bietjie afbreuk aan die kwaliteit van die produk. En Rian Malan … ja, miskien moet hy hom eerder by joernalistiek bepaal.
Dit bly egter fassinerend om te sien hoe die versetbeweging in Afrikaans stadig maar seker vorm aanneem. Hierdie album is een van die opwindendste manifestasies van die protes in Afrikaanse geledere.
Sorg dat jy ’n eksemplaar bekom! Bestel dit teen R100 by inlig@praag.org of betaal per kredietkaart hier.
.
Genoeg is genoeg!
Hoezit Music
дизайн отдыха в банеДанильченко Харьков