Dit was die eerste keer dat ek so iets doen, om saam met volslae vreemdelinge in 'n klas te gaan sit en 'n kreatiewe skryfkursus by te woon, maar wat 'n ervaring was dit toe nie. Die huiwering van onbekendheid het vinnig verdamp, en in plek daarvan het 'n kameraderie ontstaan, 'n wonderlike ervaring.
Elkeen het uit 'n ander agtergrond gekom en dit het in die koffiedrinktydjie 'n geselsery van 'n ander wêreld afgegee. Elkeen se drome, wense en verwagtinge was so wyd uiteenlopend, en tog was daar een deurlopende draad: elkeen het die versugting om woorde op papier te pen, om watter doel ook al.
Anne Marie du Preez Bezdrob, die aanbieder, is 'n briljante fasiliteerder. Haar gemaklike manier van gesels en om 'n boodskap oor te dra, het almal vinnig op hul gemak geplaas. Haar ervarings, waarvan 'n mens in Sarajevo Roses, kan lees, gee jou net 'n klein kykie in haar kleurryke lewe, wat jou sommer ook lus maak om berge te probeer versit.
Die kursus het afgeskop met 'n lekker koppie koffie en 'n geselsie, en daar was deur die dag koffie en tee beskikbaar vir dié wat 'n ietsie warms nodig gehad het om kreatiewe denke te stimuleer.
Ek het besluit om die naweek weg te kom van die rekenaar, en hoewel ek die skootrekenaar saamgedra het, het die blikbrein in die sak bly lê terwyl ek weer die ink-op-papier-metode gevolg het. En dit was heel insiggewend. Omdat 'n mens deesdae meestal op 'n rekenaar werk, verroes jou handskrif vinniger as wat jy dink. Met ons eerste oefening het my skrif ongeveer gelyk soos 'n krap wat in ink getrap en homself skeef-skeef oor my bladsye begewe het, maar gelukkig het dit verbeter namate die dag gevorder het.
Die kursus was 'n luide wekroep, want skryf is nie so maklik as wat die meeste mense dink nie – dit behels baie meer as om net woorde neer te pen.
Dit was vir my interessant hoe elkeen se verstand dieselfde stukkie inligting inneem en anders verwerk, so asof elkeen sy of haar eie "kopfliek" sien van dieselfde stukkie inligting. Dit was insiggewend om ná die eerste oefening te hoor watter oorspronklike benadering elkeen gevolg het.
So het die dag aangegaan en, ná 'n lekker tuisgekookte ete (ingesluit by die kursusfooi) het ons weer ingeval.
Iets wat my opgeval het, is hoeveel van jouself 'n mens in jou werk projekteer sonder dat jy eens daarvan bewus is. Dit gebeur heel spontaan en is baie insiggewend. Jy weet dikwels nie wat in jou binneste broei totdat jy begin skryf nie. Ek dink ons het almal baie van onsself en die ander op die kursus geleer, ook uit mekaar se ervarings, belangstellings en avonture.
Wat opvallend was, is hoe goed die kursus gestruktureer was, en hoe gemaklik die aanbieding.
Die volgende dag se oefeninge het intense skryfwerk opgelewer. Mense het diep uit hul harte geskryf en was soms so emosioneel dat hulle nie hul eie werk kon voorlees nie. 'n Paar keer het iemand gesit en snik terwyl iemand anders sy/haar werk probeer voorlees het.
Dit was ontroerend om dinge te hoor wat lank en diep in mense se binneste versteek was.
Aan die einde van die kursus het Anne Marie, wat die slaggate in die skryfbedryf goed ken, vir ons waardevolle raad gegee.
Dit was vir seker twee dae se waardevolle ondervinding wat ons opgedoen het en ek kan die kursus sterk aanbeveel vir mense wat wil skryf. Anne Marie het 'n slag om mense se kreatiwiteit te stimuleer, te laat borrel met interessante gedagtes wat net wag om neergepen te word.
Vir inligting oor die volgende kursusse kan belangstellendes die boekwinkel Bibliophile in Clarens kontak, of Anne Marie du Preez Bezdrob by 082 228 5134.
Die kursus word in die mooi dorpie Clarens aangebied – 'n goeie verskoning om uit die stad se rotresies weg te breek en jouself 'n slag weer te vind.
Kursusgangers moet self reël vir huisvesting by een van die dorp se besprekingskantore.

Dit was met 'n mate van huiwering dat ek die Vrydagoggend my sak gepak het met skryfblok, pen en ander los goed om my te gaan aansluit by die ander mense op die kursus. Daar was soveel vrae, onsekerhede wat in my binneste rondgemaal het, om nie eens te praat van die opgewondenheid oor die interaksie met die ander mense nie.