Britse Reaper-aanval laat Siriese skietstilstand wankel

Sirië se skietstilstand het verkeer op die rand van ineenstorting, nadat ’n Amerikaans-geleide koalisie-aanval die lewe van dosyne Siriese regeringsoldate geëis het.

Aleppo is ook vir die eerste keer in byna ’n week weer gebombardeer.

’n Reeks aanvalle Sondag op gebiede in Aleppo wat in rebelle-hande is, het ou gevegsfronte heropen en is die ernstigste bedreiging vir die skietstilstand tot nog toe.

’n Staking van gevegte in en om Aleppo, sodat broodnodige humanitêre bystand gelewer kon word, was een van die sleutelbepalings van die ooreenkoms.

’n Week ná die aanvang van die skietstilstand, het desperate inwoners van gebiede onder beleg nog geen bystand ontvang nie, omdat vegtende partye nie die veiligheid van humanitêre agentskappe kan waarborg nie.

Die mede-borge van die skietstilstandooreenkoms, Rusland en Amerika, het mekaar beskuldig en betrekkinge is verder versuur.

Sirië het Amerika daarvan beskuldig­ dat dit die skietstilstand saboteer.

“Die rede vir hierdie Amerikaanse aggressie is om die skietstilstand te laat misluk,” het Basjar Jaafari, Sirië se ambassadeur by die Verenigde Nasies, gesê.

Brittanje se militêre betrokkenheid by die lugaanval is deur hul Verdedigingsministerie bevestig. Verslae dui op ‘n Reapertuig wat gebruik kon gewees het.

Australiese sowel as Deense magte is deel van die VSA-geleide koalisie. By die hoofkwartier van die Deense militêre magte het ‘n woordvoerder ook hul betrokkenheid by die dodelike aanval erken.

“Twee Deense F-16s het deelgeneem saam met vliegtuie van ander lande in hierdie aanvalle. Die aanval is onmiddellik gestop toe ‘n verslag van die Russiese kant aangedui het dat ‘n Siriese militêre posisie getref is,” lui die Deeense verklaring.

“Dit is natuurlik jammer as die koalisie verkeerdelik enigiets anders as ISIS-magte getref het,” het die verklaring voortgegaan.

Die Siriese konvooi het noodvoorraad in ‘n plattelandse gebied in Urm al-Kubra afgelewer. Die VN sê minstens 18 van die 31 vragmotors, sowel as ‘n pakhuis is getref.

‘n Aantal noodlenigingswerkers is volgens berigte dood of gewond het die VN se spesiale raadgewer oor humanitêre sake, Jan Egeland bevestig.

Saoedi-aanval op skool in Jemen maak opslae

‘n Saoedi-geleide lugaanval op ‘n skool wat die dood van tien leerlinge veroorsaak het, het kommer laat opvlam oor die toename in burgerlike sterftes in dié land, het hulpverleningsagentskappe gesê.

Die aanval was in die rebelbeheerde provinsie van Jemen en is die jongste in die 17 maande lange burgeroorlog, het AFP berig.

‘n Verdere 28 kinders is in die aanval gewond wat Saterdag in die dorp Haydan in die Saada-provinsie uitgevoer is, sê Dokters Sonder Grense (MSF). Die aanval is deur die Verenigde Nasies (VN) bevestig.

Die koalisie van Arabiese state onder aanvoering van Saoedi-Arabië veg sedert Maart 2015 teen die Iran-gesteunde rebelle nadat hulle die hoofstad van Sanaa ingeneem en hul magsbasis na ander dele van die land uitgebrei het.

Saoedi-Arabië het voorheen hewig gereageer op ‘n besluit in Junie vanjaar om die koalisie te swartlys nadat ‘n VN-ondersoek bevind het die Arabiese koalisie is vir 60% van die 785 kindersterftes verlede jaar in Jemen verantwoordelik.

Sowat tien dae gelede het die koalisie toegegee daar was “tekortkomige” in twee van die agt gevalle van aanvalle op burgerlike teikens in Jemen.

“Dokters Sonder Grense het 10 liggame en 28 beseerde kinders, almal onder die ouderdom van 15 jaar, ontvang wat slagoffers is van die lugaanval op die skool in Hayden,” het woordvoerder Malak Shaher aan AFP gesê.

Die beseerdes is opgeneem in ’n veldhospitaal naby die skool voordat hulle na ’n openbare hospitaal oorgeplaas is, het sy gesê.

“Ons eis dat alle partye die nodige maatreëls sal tref wat nodig is om burgerlikes te beskerm,” het Shaher verder gesê.

Die VN se agentskap vir kinders, Unicef, het ook die aanval veroordeel en gewaarku dat die toename in geweld in die land in die afgelope week die aantal kinders wat gesterf het en beseer is, skerp laat toeneem het.

Die rebelle het foto’s en video’s van dooie en bebloede kinders, toegedraai in komberse, op Facebook geplaas.

Hoethi-woordvoerder Mohammed Abdul Salam het gesê vegvliegtuie het kinders by die Jomaa bin Fadhel skool geteiken, in wat hy as ’n “afskuwelike misdaad” beskryf het.

Die Saoediese nuusagent­skap het aangevoer die koalisie se vegvliegtuie het Saterdag ’n “Hoethi-opleidingsentrum” in Saada ingeval en verskeie rebelle-insypelaars insluitend ’n leier, Yehya Munassar Abu Rabua, doodgemaak.

Die Arabiese koalisie het op 26 Maart 2015 oorlog teen die Hoethi-rebelle verklaar.

Russiese verkenningsvliegtuig draai ‘n seemyl van Amerikaanse vliegdekskip

Op 27 Oktober 2015, het ‘n Tupolef 142 herhaaldelik nadervlugte aan die vliegdekskip die USS Ronald Reagan uitgevoer. Dié vliegdekskip is deel van die Sewende Vloot en die Suid-Koreaanse vloot se maneuvers in die ooste van die skiereiland.

Sedert April 2014, het die Russiese vliegtuie sorties onderneem om sy eie kommunikasiestoringstelsel en die bevelstruktuur van NAVO te toets.

Verskeie van die Amerikaanse vliegdekskip se vliegtuie kon opstyg voordat die Russiese vliegtuie hul kommunikasie en die VSA se bevelketting onderbreek het.

Die Amerikaners was uiteindelik in staat om die indringer te verwilder, maar die Tupolef het binne 500 voet van die vliegdekskip gedraai voordat die Sewende Vloot kon reageer.

Dié oefening lê die feit bloot dat Rusland in staat is om ‘n vlagskipvaartuig van NAVO te vernietig.

Die Russiese kommunikasiestoringstelsel en NAVO se opdragstruktuur word tans daagliks getoets in Sirië in ‘n werklike oorlogsituasie.

Die Russe dek ‘n radius van 300 kilometer vanaf Latakia in Sirië wat nou buite bereik is van die Atlantiese Verdragslande.

Dieselfde stelsel is ook ontplooi binne ‘n deel van die Swart See en omstrede Kaliningrad.

Onwettige immigrante dood toe boot omslaan

Minstens tien mense het omgekom en 121 is gered, nadat ’n boot wat onwettige immigrante uit Noord-­Afrika na Sicilië vervoer het, omgeslaan het, het die Italiaanse kuswag Woensdag verklaar.

Talle mense het die afgelope maande gesterf in ’n toestroming van onwettige immigrante uit konflikgebiede in Noord-Afrika en die Midde-Ooste wat ’n heenkome in Europa gaan soek.

’n Patrollieboot van die Italiaanse kuswag het die oorskot na die Siciliaanse hawe, Augusta, geneem. Die meeste bote wat onwettige immigrante vervoer, vertrek uit Libië.

Libië is gedestabiliseer deur ‘n Amerikaanse inval en word beskou as ‘n falende staat. Die VSA het mbv NAVO die infrastruktuur van die land in puin gelê deur lugbombardemente om die land na die “Steentydperk” terug te neem en ‘n “rebellebeweging” met wapens ondersteun wat tans as ISIS funksioneer.

Libië was voorheen ‘n stabiele en vooruitstrewende land.