Vragmotors sal loop: Spoorweë kan nie verhoogde graaninvoer hanteer

Met die verval in spoorinfrasktuur ná 21 jaar van ANC-bewind, sal Suid-Afrika se voorgenome voedselinvoere per pad vervoer moet word. Die reusehoeveelhede graan wat R15 tot R20 miljard gaan kos, is nodig weens die droogte en “grondhervorming” wat tot ‘n drastiese afname in graanproduksie gelei het. Die land word tans deur die ergste droogte sedert 1992 geteister.

Verlede week het die ANC-SAKP se minister van landbou, bosbou en visserye, Senzeni Zokwana, gesê dat die graan dringend ingevoer moet word aangesien Suid-Afrika se voedsel vir menslike en dierlike verbruik mag opraak. Zimbabwe gaan ook van graan deur Suid-Afrikaanse hawens voorsien word.

Transnet meen dat die land se hawens en spoorweë steeds oor die kapasiteit beskik om die graaninvoere te hanteer. ‘n Span “deskundiges” is glo deur die maatskappy byeengebring om ‘n “geïntegreerde benadering” te verseker. Die hawens wat in staat is om graaninvoere te hanteer, is Durban, Kaapstad, Port Elizabeth en Oos-Londen, met kapasiteit by Richardsbaai wat ook onlangs beskikbaar geraak het.

 

Daar heers onenigheid oor die hoeveelheid graan wat reeds per pad vervoer word, met die res wat per spoor verskuif word. Graan SA, wat 5 500 boere verteenwoordig, meen slegs 75% word per pad vervoer, maar die Standardbankgroep beweer dat die spoorweë so agteruit gegaan het dat ‘n volle 90% per pad vervoer word.

“Dit het meer te make met die gebrek aan instandhouding op spoortrajekte wat die graangemeenskappe bedien as enigiets anders,” sê die hoof van Standardbank se voertuig- en batefinansiering, vir sake- en handelsvoertuie, Toni Fritz.

Om die land se groeiende bevolking te voed, sal daar tussen 5 en 6 miljoen ton mielies ingevoer moet word, ná aanvanklike ramings van 4 miljoen ton.

Private vervoerkontrakteurs gaan waarskynlik goeie sake weens die verhoogde graaninvoere doen. Boere met hul eie vragmotors kan self inspring om daaraan deel te neem, maar indien daar haakplekke by die hawens is, kan hulle nogmaals geld verloor, afgesien van hul swakker opbrengste.

Transnet het blykbaar 2 000 goederetrokke weer in gebruik gestel om sy kapasiteit uit te brei.

 

‘n Ekonoom van Graan SA, Corné Louw, sê dat daar “beslis” ‘n toename in die padvervoer van graan gaan plaasvind. Transnet is egter “vol vertroue” dat die grootste deel van die graan per spoor gehanteer sal word.

Ongeveer 5 miljoen ton mielies sal in die bemarkingsjaar van 1 Mei tot April aanstaande jaar ingevoer word, volgens Graan SA.

Terselfdertyd sal koringinvoere meer as 2 miljoen tydens dieselfde periode bereik. Gewoonlik voer Suid-Afrika slegs 2 miljoen ton mielies en 1,5 miljoen ton koring in.

 

Ander lande wat ook via die Suid-Afrikaanse hawens bedien gaan word, is Zimbabwe, Botswana, Lesotho, Namibië en Swaziland wat 630 000 ton mielies en 270 000 ton koring sal ontvang.

Indien ‘n noodtoestand ontstaan, kan van Transnet se uitvoerkapasiteit ook in invoerkapasiteit omgeskakel word. “Gebeurlikheidsplanne” vir so iets bestaan.

 

VSA woedend oor EU-besluit wat GM-gewasse raak

Die Europese Kommissie se voorgestelde wette wat individuele lidlande van die Europese Unie sal toelaat om invoere van geneties gemanipuleerde gewasse te beperk of te verbied, het ‘n skerp reaksie van die VSA ontlok.

Selfs al is sulke GM-gewasse goedgekeur vir die EU as ‘n geheel, sal lidlande nog self kan besluit of dit strydig is met hul gesondheidsvoorskrifte.

Die VSA is woedend oor die planne wat menslike voedsel sowel as dierevoere raak.

Die EU se houding jeens die omstrede geneties gemodifiseerde kosse en veevoer, volg na ‘n vroeëre besluit deur die Europese Parlement in Januarie, wat aan die 28 EU-lande die reg gee om individueel te besluit of hulle GMO’s wil aanplant.

“Ons is baie teleurgesteld deur vandag se aankondiging van ‘n regulerende voorstel wat byna onmoontlik sal wees om te versoen met die EU se internasionale verpligtinge,” sê Michael Froman, die Amerikaanse handelsverteenwoordiger.

Die kompromie is aanvanklik verwelkom, maar omgewingsgroepe sê dat GMO’s die EU nou via die agterdeur kan binnekom op aandrang van reuse Amerikaanse agri-voedsel maatskappye.

Maar aan die ander kant, het die VSA en nywerheidsgroepe gesê die ooreenkoms verbreek die EU se kardinale reël dat die blok as ‘n enkele mark funksioneer waar produkte veronderstel is om vrylik versprei te kan word.

Slegs een GMO word tans toegelaat in die EU. Dit is die multinasionale Monsanto se handelsmerk vir koring GMO MON810 wat in Spanje, Portugal en die Tsjeggiese Republiek verbou word.

Amerika is die grootste produsent van geneties gemanipuleerde gewasse. Die oorgrote meerderheid van die mielies wat in Suid-Afrika geproduseer word, is ook geneties gemanipuleer.

Wintergraanprodusente maak stem dik

Wintergraanprodusente hoop om eienaarskap terug te kry om voordeel te put uit marktoestande.

Gedurende die wintergraankomitee se werksessie op Bothaville vandeesweek het voorsitter Andries Theron laat weet dat tusen 80% en 85% van boere nie werklik hul gewasse besit nie.

Die komitee het verder gehoor dat meer deursigtigheid nodig is ook met betrekking tot vervoer, chemiese en ander insette in die bedryf.

Theron sê koringprodusente gebruik hul klein winsmarges om hul lenings te finansier wat die risiko verder verhoog.

Hy sê daar is nie genoeg tyd om surplusse te genereer nie, iets wat tans ‘n probleem in die mieliebedryf ook gesien word.

Gedurende sy slotrede het Graan SA voorsitter Louw Steytler aan afgevaardigdes gesê dat daar na alternatiewe vir Safex gekyk word omdat dit blyk dat die termynmark nie liggingsdifferensiaal in die vastelling van komoditeitspryse gaan uitfaseer nie.

Theron sê hierdie kwessies, sowel as vervoer en groot landbounywerhede het ‘n enorme impak op produksie.

Gifbier: Mosambiekse man vas

Die polisie in Mosambiek het ‘n man in hegtenis geneem wat daarvan verdink word dat hy tradisonele bier vergiftig het.

Sowat sewentig mense is dood nadat hulle pombe, ‘n tradisionele Mosambiekse bier by ‘n begrafnis gedrink het. Die bier, wat gemaak word met gort of koring, word oor twee dae gebrou.

Graciano Antonio is in hegtenis geneem terwyl hy probeer het om te vlug, het ‘n provinsiale woordvoerder van die polisie, Luis Nudia gesê.

Hy is na die hoofstad van die noordoostelike Tete-provinsie geneem waar hy aangekla sal word.

Byna 200 mense is in die hospitaal opgeneem nadat hulle van die pombe gedrink het, het die gesondheidsowerheid gesê.

Die gesondheidsowerheid is van mening dat die bier met krokodilgal vergiftig is, maar kenners is skepties of dit giftig is.

Monsters van die dodelike bier is sedertdien na die Verenigde State en Duitsland gestuur vir toetse.