Soms, as deel van hulle lewensvaardigheidsopleiding, kry klein jagluiperdjies ‘n lewendige bokkie van hulle ma om mee te speel. Hulle sal die bokkie ‘n skynontsnapping toelaat en dan kyk hulle hoe veel van ‘n voorsprong hulle die diertjie kan toelaat voordat hulle dit agterna sit. Maar soms werk hulle berekeninge verkeerd uit, en die bokkie bou ‘n té groot voorsprong op en dan is die katjie hulle ete kwyt én hulle moet aan Ma gaan verduidelik.
Die Vrystaatse jagluiperdjies wat rugby speel, hou blykbaar deesdae te veel van dié uitdaging. Hulle het ‘n minsame, maar soms selfvernietigende, gewoonte gekweek om hulle teenstaanders toe te laat om goedkoop punte vroeg aan te teken – en dan te kyk of hulle hulle kan inhaal. Verlede week het hulle die WP ‘n stewige voorsprong gegee en toe net-net met ‘n strafdrie na die sirene gevang. Gister teen die Haaie het die patroon homself herhaal. Nadat die Vrystaat die Haaie netjies in hulle kwartgebied ingekamp het, staan hulle skielik terug en BOEM! die Natallers suiker buite om en Waylon Murray rammel oor vir ‘n drie. Minute later en BOEM! Craig Burden kry ‘n drie.
Dis toe dat die jagtog begin met die Cheetahs wat met gebruiklike sorgeloosheid die veld vol hardloop. ‘n Veldlange strooptog het geëindig met Ashley Johnson, Bevan Fortuyn-spookpophaarstyl en al, wat ‘n drie druk. Jacques-Louis Potgieter, skynbaar toe nog vasbeslote om die uitdaging so taai as moontlik te maak, skop die verdoeling mis maar slaag darem daarna met ‘n strafskop en die halfeindrondte is 15-8 vir die Haaie.
Potgieter, om presies te wees, was heeltemal te spandabelrig met punte en het in ‘n ommesientjie tien punte op die veld gelos met onindrukwekkende stelskopwerk. As hy sy neus vir skoppe opgetrek het, het hy tog ‘n instink vir drieë getoon en venynig gebreek om vir JW Jonker doellyn toe te stuur.
Teen hierdie tyd was die bokkie egter te ver voor en die Vrystaatse beste pogings kon nie die regte gleuwe in die Haaie se verdediging vind nie.
Die Haaie wen die wedstryd met 24-13.
Nou ja, die jagluiperdjies het hulle pret gehad en ons ook, want dit was ‘n heerlike wedstryd, propvol harde en flinke rugby.
Die stoffies wat die jagluiperdjies sien, is hulle kans op ‘n halfeindrondte wat al hoe verder buite hulle bereik raak.
Die Haaie, nou koning van die ligamishoop, moet self die binnelip kou, ten spyte van hulle noue ontkoming. Hulle skrum het swaargetrek en selfs die toevoeging van die wêreld se mees onwaarskynlike vaskopstut, John Smit, het nie verhoed dat die Cheetahs hulle verniel nie. Tog, met spelers soos Ruan Pienaar en Ryan Kankowski, het hulle genoeg sambok om ander spanne seer te maak. Die krulkop Kankowski was met tye iesegrimmig in die vaste los, maar om hom op volle vaart te sien as hy uitbreek, is ‘n voorreg. Sy hantering is seepglad, delikaat en presies.
So, het die Haaie genoeg wringkrag in die voorpakenjin om, sê nou maar ‘n Blou Bul-span, opgestop met Matfield, Bakkies Botha, Danie Rossouw en Pierre Spies van die voorvoet af te hou?
Errr… nee, ek dink nie so nie.
