Twee studente eis R6 miljoen van Kovsies en Jansen

Eise van meer as R6 miljoen teen die Universiteit van die Vrystaat (UV) en sy rektor, prof. Jonathan Jansen, is in die Vrystaatse hooggeregshof ingedien.

Twee oudstudente van die UV, Cobus Muller van Pongola en Charl Blom van Hertzogville, eis saam R5,15 miljoen in skadevergoeding van die UV, Jansen en prof. Teuns Verschoor, ‘n tugbeampte.

Die eise vir skadevergoeding en laster is Donderdag deur die balju beteken.

Muller en Blom eis elkeen R500 000 vir laster in twee ope e-posse wat die rektor op 20 Februarie verlede jaar aan al die studente van die UV gestuur het.

Die eise spruit uit ’n voorval die aand van 18 Februarie 2014 toe ’n bakkie met Muller agter die stuur en Blom langs hom byna vir Muzi Gwebu, ’n medestudent, op die kampus getref het.

Die voorval is as ‘n “rassevoorval” voorgehou en die twee is geskors en strafregtelik aangekla. Hulle is later in die Bloemfonteinse streekhof op alle aanklagte vrygespreek en ook deur die Menseregtekommissie, wat die aangeleentheid ondersoek het, onskuldig bevind.

Jansen het in sy eposse verwys na “walglike dade van geweld”, “ ’n verskriklike voorval” en ’n “onreg”. Hulle word beskryf as “misdadigers” wat “hulle swak gedra”, wat “gewelddadige en haatlike mense is”, “gewetenloos” en “oortreders” wat “nie by hul sinne (was) nie”.

Die e-posse is deur die UV en Jansen op Facebook en Twitter versprei.

Sasol staar siviele eis in die gesig

Die siviele geding teen Sasol, vir skade wat verband hou met longsiektes, beloop R80 miljoen en moet glo as ‘n waarskuwing vir die hele steenkoolbedryf dien.

Dit is volgens menseregteprokureur Richard Spoor wat die 22 huidige en voormalige Sasol steenkoolmynwerkers by Secunda in Mpumalanga verdedig.

Volgens Sake24 het Spoor ‘n klasaksie-eis in die Suid-Gautengse hooggeregshof in Johannesburg ingedien vir skadevergoeding nadat die mynwerkers na bewering aan steenkoolstof blootgestel is en longsiektes opgedoen het.
 
Alex Anderson, ‘n Sasol-woordvoerder, sê dat die myn tyd nodig het om die dokumente te bestudeer, maar dat die beskerming van die gesondheid en veiligheid van werkers met groot erns beskou word.