Sasol staar siviele eis in die gesig

Die siviele geding teen Sasol, vir skade wat verband hou met longsiektes, beloop R80 miljoen en moet glo as ‘n waarskuwing vir die hele steenkoolbedryf dien.

Dit is volgens menseregteprokureur Richard Spoor wat die 22 huidige en voormalige Sasol steenkoolmynwerkers by Secunda in Mpumalanga verdedig.

Volgens Sake24 het Spoor ‘n klasaksie-eis in die Suid-Gautengse hooggeregshof in Johannesburg ingedien vir skadevergoeding nadat die mynwerkers na bewering aan steenkoolstof blootgestel is en longsiektes opgedoen het.
 
Alex Anderson, ‘n Sasol-woordvoerder, sê dat die myn tyd nodig het om die dokumente te bestudeer, maar dat die beskerming van die gesondheid en veiligheid van werkers met groot erns beskou word.