Daarom moet 'n Afrikanerafvaardiging so gou moontlik uit die geledere van Afrikanerorganisasies en politieke partye aangewys word. So 'n afvaardiging moet dan onverwyld 'n afspraak met die twee ministers van onderwys, Angie Motshekga en Blade Nzimande, bekom om oor die oorhandiging van die Afrikaanse skole, asook een of meer universiteite, te begin onderhandel.
Terwyl mnr. Zuma die afgelope tyd beklemtoon het dat hy Afrikaners tegemoet wil kom, was die tyd nog nooit so ryp soos nou om met hierdie belangrike onderhandeliings te begin nie.
Slegs spoedige optrede gaan die oorblywende Afrikaanse skole en universiteite van gewisse ondergang deur verengelsing red. Verdere konflik en hofsake rondom die kwessie gaan ook 'n nadelige uitwerking op goeie buurmanskap en vreedsame naasbestaan in die land hê.
Soos die verlore taalstryd op Stellenbosch aantoon, kan daar nie langer getalm word nie. Solank as wat andertaliges Afrikaanse onderwysinstellings beheer – en dit sluit tweetalige bruinmense in wat nie dieselfde waarde aan Afrikaans as Afrikaners heg nie – sal Afrikaanse onderwys daaronder ly.
