Afrikaner moet nie op geopolitiek reken

Dr. Dan Roodt het ‘n baie interessante stuk geskryf op grond van Aleksander Doegin se geopolitieke denke wat dan ook weer sterk steun op die denke van die politieke en regsfilosofie van Carl Schmitt. Hy onderskei tussen volke of beskawings wat n tipe swewende Atlantisme inneem en volke wat grondgebind (Blut und Bodem) is. Hy beskryf ook baie goed die nuwe ruimtes wat deur die modernisering van die mensdom oopgegaan het, eers die seeruim toe die hemelruim en nou natuurlik die kuberruim, asook hoe dit in besit geneem is met etnisiteit wat self binne hierdie ruimtes kan bestaan. Dr. Roodt beskryf hoe die Britse ryk as ‘n klein eilandvolk uiteindelik beheer oor die seeruimte geneem het en dat hulle vandag saam met Amerika, Australië en ander eertydse kolonies ‘n tipe Atlantisme-magsblok verteenwoordig.

Die Afrikaner kan deur dié bril dan ook as ‘n tipe Atlantistiese volk gesien word. Ons voorvaders het immers met skepe hierheen gevaar en veel belangriker is die kontekstuele raamwerk van Afrikanerbestaan, as een waarin hy bykans te alle tye op elke terrein, ‘n voortdurende minderheid is, konstant ontanker van grond, asof ons ons ossewaens as skepe gebruik het en Afrika ons oseaan is.

Dit wil met die eerste oogopslag voorkom asof veral die Engelse met hierdie strategie baie vermag het, maar ons moet na die geskiedenis sowel as na hul huidige toestand kyk of daar nie strukturele foutlyne is by so ‘n strategie nie. Histories het die Engelse volk groot suksesse behaal deur eerstens beheer oor die Walliese en Skotse volke te verkry en daarna die oseane in te vaar. In daardie proses is die Walliese en Skotse volke in ‘n mate geassimileer. Vandag is 40% van Londen se onder-18-bevolking Moslems van Arabiese, Turkse en Indiese afkoms. Daar kan nie gestry word dat n Australiër (Engelsman met snaakse aksent) meer reg op Londen het as die Moslengelse (Moslem-Engelse) volk nie. Die tot op hede beste poging om die inheemse Britse volke te beskerm, word dan ook aangewend deur die BNP (Britse Nasionale Party) en nie deur ‘n Engelse nasionale party nie.

In ‘n treffende debat tussen prof. Kevin Macdonald en Eric P. Kaufmann aangaande die agteruitgang en verval van WASP-dom in Amerika getiteld “Selfmoord of Moord?” voer prof. Macdonald aan dat die hoofrede Joodse immigrasie na Amerika was en dat Jode nie, sou of wou assimileer nie en daarom altyd in hul eie etniese belang sou stem. Kaufmann voer weer aan dat dit die samehorigheid oftewel homogene gevoel van volksbestaan is wat reeds gebreek was deur die hoë aantal immigrante vanuit Oos- en Suid-Europa wat, alhoewel blank, oor ‘n baie langer tyd sou assimileer omdat hul kultuur, geloof en wêreldbeskouing baie van die WASP-volk verskil het en hulle in sulke groot getalle gekom het. Sy sienings word na my mening gestaaf deur die oneindige getalle “koppelteken-Amerikaners”; “Italian”, “Polish”, “Russian” en Joods-Amerikaners wat so te sê almal in 1965 teen alle beperkings op etniese immigrasie gestem het. Pat Buchanan noem die 1965-immigrasiewet ook nie verniet Hitler se nadoodse wraak op Amerika nie.

Elke volk probeer indien dit moontlik is om kleiner volke wat etnies naby aan hom is te assimileer, kleiner volke op hul beurt skop soveel as moontlik daarteen en probeer so veel as moontlik voordele vir hul etniese groep inpalm. Dit is hier waar Alexander Doegin interessant is; dit is min dat denkers van groot volke insien dat om klein volke te assimileer soms die skeur in die skip se buik kan wees en dat alle volke binne sekere ruimtes wil vaar.

Voor ons dan verder vaar, wil ek vir nog ‘n oomblik anker gooi by ‘n omskrywing van etnisiteit en denke daaromtrent. Nes die Afrikanervolk dan uit ‘n losgemaal ‘n volk gevorm het, lê daar vandag oral oor Europa en Amerika vele bruin en swart entiteite wat tussen die hamer en die aambeeld wag om identiteite te word, deur hetsy oorloë of natuurrampe tot volk geslaan te word. Die ou Londinium, antieke hoofstad van die Engelse, is vandag die hoofstad van die Moslengelse volk. Dit betaal dus slegs om Atlantisme te beoefen as jy ‘n hawestad het en hom behou.

Die eerste debat waarna ek verwys het en die gevolglike verwatering van etnisiteit gee dan ook aanleiding tot ‘n tweede debat, tussen Jared Taylor en Steve Sailer. Hoewel dit min betrekking op ons situasie het, is dit nogtans ‘n baie leersame debat. Mnr. Sailer wil volksvreemde immigrasie beveg deur op burgerskap ”citizenist”(sy skepping) te fokus terwyl mnr. Taylor ‘n wit-nasionalistiese standpunt inneem. Alhoewel ek in hierdie debat mnr. Taylor se standpunt ondersteun, kristalliseer dit die idee dat sonder ‘n gemeenskaplike taal, kultuur en selfs geloof, etnisiteit baie moeilik verdedigbaar is, maar as daardie entiteit geanker sou wees (Blut und Bodem) sou die teendeel waar gewees het.

Daar was so laat as die 1940s nog volksgenote wat met ossewaens deur Afrika gevaar het. Klein nedersettings het hulle in Mosambiek, Angola en so ver noord as Kenia en Tanzanië bevind. Ons kan die volk dan beskou eerder as ‘n entiteit of skip wat vaar en twee maal anker gegooi het eers met die stigting van die kortstondige Boererepublieke en toe weer in 1961 en daardeur word die entiteit, identiteit (Blut und Bodem).

Om terug te keer na dr. Roodt, hy verduidelik hoe wêreldbeskouings tot magsblokke lei en beskryf dan Rusland en sy pogings om sy invloedsfeer weer uit te brei en vra dan of ons nie ons gewig agter hierdie nuwe Russiese magsblok moet ingooi nie.

Na my mening is dit ‘n moontlikheid maar ons moet in gedagte hou dat magsblokke wanneer hulle kompeterend is slegs met magtige volke en lande in vennootskappe tree en kleineres slegs ondersteun om ‘n doring in die vlees te wees. Hul vriendskappe is meestal minder werd as jou vyande se vyandskap. Die idee van magsewewig en magsblokke het ontstaan aan die einde van die Napoleontiese oorloë met die Kongres van Wene in 1815, en sedertdien het honderde politieke denkers en filosowe hulle besig gehou met die bestudering daarvan en kan ons dit gemaklik tot by die Koue Oorlog volg.

Baie klein volke het dan ook met tyd hul lot of eerder noodlot by sulke blokke ingegooi, en alhoewel dit sommige gehelp het, het dit meestal uitgeloop op ‘n keuse van watter tipe oorheersing jy wil hê.

Die geskiedkundige dr. Margaret McMillan vertel in haar boek “Richard Nixon en die week wat die wêreld verander het” hoe Rusland in 1969 stil-stil by Amerika navraag gedoen het oor hoe hulle sou voel as Rusland ‘n atoombom op China sou laat val. Dit het niemand verbaas nie want van Moskou tot NY het almal Mao Tse-Toeng so kranksinnig gesien as wat ons Max du Preez met ‘n pen sien. Mao het vanaf 1960 ten minste 70 miljoen mense van hongersnood laat omkom en dít terwyl die wêreld teen die euwels van apartheid betoog het. Maar in 1972, onverwags en sonder waarskuwing, kom die nuus uit Amerika, China en elke nuusagentskap ter wêreld dat Richard Nixon vir ‘n besoek in China is. Dit was ‘n geopolitieke verskuiwing van magiese omvang, niemand kon dit voorspel nie dit was vir Jan-alleman ondenkbaar. McMillan vertel dat die atmosfeer in Moskou een van naarheid, rou en skok was. Dit is in sulke omstandighede dat ‘n Sowjet-politieke adviseur wonder of hy homself en sy skoonma sal vergas of net homself; so het Moskou in die winter van 1972 gevoel.

Die punt wat ek hiermee wil maak is dat internasionale politiek so wisselvallig is, dat die Afrikaner hom bykans soos n skipbreukeling in die oseaan bevind en om op ander lande en magsblokke staat te probeer maak is soos om blindelings te hoop die regte golf vat jou en vat jou in die regte rigting. Want as Rusland bykans omvergewerp kan word deur ‘n verskuiwing, wat sal dit nie aan die Afrikaner doen nie? Internasionale politiek is ‘n skaakspel van nie net al die skuiwe ken nie maar ook om die geduld toe te pas vir die geleentheid om die regte skuif te maak.

In tussen tyd moet ons die praktiese aanpak, die voorbereiding tref. Wat ons te doen staan, is vir my eenvoudig: die opbou en uitbreiding van ‘n spreekwoordelike hawestad.

Hierdie hawestad moet de facto Afrikaans wees. Dit hoef in juridiese terme niks meer as ‘n munisipaliteit te wees nie. Dr. Dirk Hermann skryf in sy repliek op twee treffende referate wat hy betitel “Orania en ‘n stad wat nog kom”: “Oor die stad wat moet kom, kan Afrikaners wat selfs buite Orania is, sê: daar is my plek in Afrika, ek bly net hier op my kontinent.” Hoekom sal ek dan na Orania as ‘n hawestad verwys? Wel Afrikaners kan hulself weer anker en (Blut und Bodem) plaas, hulle hoef glad nie alles op te gee nie en kan as’t ware volhoubaar die Afrika-oseaan met ‘n Atlantisme benut, met die sekerheid van ‘n fisiese tuiste.

Dan kan ons in elk geval met enige moondheid onderhandel; ons kan weliswaar veel verder dink en selfs Khaddafi se plan van ‘n Verenigde State van Afrika ondersteun want waarom voortdurend in die klein ontvisde poeletjie probeer visvang as daar ‘n hele Afrikakontinent is om ons nette oor uit te gooi. Met nuwe volke wat gebore gaan word, oues wat gaan skeur, kan niemand die toekoms voorspel nie; dit sal ‘n dobbelspel eerder as ‘n skaakspel wees.

Demografiese veranderinge gaan die globale politiek tref. Die volgende is van die dinge wat die Russe verwa”g: die Islamisering van Wes-Europa is onafwendbaar; Rusland se vriendskap met Iran verseker haar van ‘n wye speelveld, Amerika gaan a.g.v. haar multikulturele obsessie met etniese polarisering tuis sit. Wes-Europa of Amerika kan selfs met etniese burgeroorloë sit en as iemand militêr tot Afrika gaan begin toetree, sal dit moontlik China wees. Doegin hoop dat met die Islamitisering van Wes-Europa, gebiede in Europa uit eie vrye wil toenadering tot Rusland gaan soek en dalk selfs Alaska soos die geweld oor die Kanadese grens versprei, Igor Panarin het selfs die opbreek van Amerika in ses nuwe lande voorspel. Met sulke toekomstige verskuiwings sal dit onwys wees om ons hoop op enige eksterne faktore te plaas.

Die Russe het ongesiens met China oor hul suidgrens ooreengekom in 2008 en dis ‘n grens wat die grootste gedeelte van duisend jaar betwis was. Dit is ook die mees diplomatiese nie-aanvalsverdrag wat ek ooit teëgekom het. Gerugte doen ook die rondte dat Pole ten minste teoreties ingestem het om Duitse grondgebied, wat in die tweede wêreldoorlog afgestaan is, terug te gee indien Rusland aan haar terugbesorg wat sy in dieselfde oorlog verloor het. Rusland kan Duitsland en Pole dus binne dae aan haar kant hê. Herstelde territoriale integriteit is iets wat Duitsland nie van die hand sal kan wys nie, en haar burgers sal daarop aandring soos wat derduisende wit Franse en Nederlanders oor die Duitse grens probeer stroom, Slawiese minderhede sal haar ‘n verskoning gee om permanent in Duitse sake in te meng, en Serwië sal outomaties aan Russiese kant staan met die hoop om Kosowo te herwin.

Doegin se verduideliking van volke wat ruimtes wil beslaan, het dalk meer te doen met sy idee van ‘n Slawies-Turkse ooreenkoms. Die nie wit-Russe is Tartare of die Tartaarse volke is meestal etniese familie van die Turke of half Turks-Slawies en bewoon die suidelike gebiede van Rusland. Doegin se planne kan nie slaag sonder hul instemming nie. Brittanje sal onbelangrik wees as Amerika opbreek en veral ná Skotse onafhanklikheid terwyl Israel met ‘n oorlog op alle fronte sal sit.

Daar is omtrent ‘n vensterperiode van veertig jaar voordat die demografiese veranderings hulself klaar gemanifesteer het. Die Afrikaner sal slegs op homself aangewese wees. Hoewel demografie voorspel kan word, is internasionale politiek onstuimig. Dinge mag dalk volgens Doegin se planne verloop, maar miskien word ons een oggend wakker en Nixon sit al weer in Beijing.

Kom ons konsentreer eerstens op die uitbou van Orania as hawestad. Dan kan ons ons handelskepe daarvandaan oor die kontinent laat uitvaar met groot internetseile en aandelebeurs-aangedrewe motors. Daar is geen ruimtes wat ons nie kan verken nie, maar as die geopolitieke donderwolke bots of selfs oorlogsgolwe te onstuimig raak, kan ons altyd in die veiligheid van Orania ons ankers gooi. Politiek sal daar altyd wees maar demografie bepaal politiek; politiek bepaal nie demografie nie. Dít is waarmee ons onsself in afwagting op hierdie verskuiwings mee moet besig hou. Orania moet opgebou word en sou die geopolitieke toestande dan bondgenote oplewer, pion E2 na E4 en dan is dit hulle skuif!

mobile casino free cash no depositФільчаков Олександр Васильович прокурор

Afrikaners en Aleksandr Doegin se geopolitieke denke

Image

Inleidende aanmerkings by 'n oop gesprek wat deur PRAAG op 28 Augustus 2009 aangebied is.

Sedert 1989 het die wêreld verskeie politieke revolusies deurgemaak. In Duitsland sal dit binnekort 20 jaar wees sedert die Berlynse muur ineengestort het. Verder in Oos-Europa, in die ou Joego-Slawië, in die Baltiese state en elders het verskeie lande radikaal verander. Sommige volkere, soos die Tsjegge byvoorbeeld, het vir die eerste keer in eeue werklike onafhanklikheid en selfbeskikking verkry.

In die ou Sowjetunie self het kommunisme om 'n verskeidenheid redes verval. Een van die hoofredes was dat die produksie van voedsel 'n afname getoon het en die land nie meer oor die nodige buitelandse valuta beskik het om voedsel in te voer nie.

Hoewel die Afrikanerdom in Suid-Afrika en die Russe in Rusland twee radikaal verskillende entiteite verteenwoordig, kan mens tog 'n bepaalde ooreenkoms sien tussen die radikale magsverlies van die Afrikaners aan die een kant en die geostrategiese agteruitgang van Rusland aan die ander. Trouens, vele Amerikaanse ontleders skryf die opkoms van Wladimir Poetin en 'n denker soos Aleksandr Doegin aan die Russiese frustrasie aan die einde van die Koue Oorlog toe. Daar word selfs gepraat van Russiese neo-fascisme, wat 'n teenpool sou vorm teenoor die universele demokratisme van Amerika, die enigste oorblywende supermoondheid.

Tot enkele jare gelede het Afrikaners in Suid-Afrika oor die sterkste weermag, lugmag en vloot in Afrika beskik en kon ons mag tot by die ewenaar en selfs verder projekteer. Ons het boonop oor kernwapens beskik. Ons taal is wêreldwyd as 'n kultuurtaal geag en is selfs tydens die tydvak van koue-oorlogspanning in Moskou gedoseer.

Terwyl Rusland in geostrategiese terme agteruitgegaan het, vergeleke met die VSA en China, het Afrikaners in Suid-Afrika as't ware ondergegaan. Danksy die strategiese besluite van slegs enkele sogenaamde "Afrikanerleiers", maar wat agterna marionette van die groter Anglo-Amerikaanse ryk geblyk het, is ons in 'n situasie gedompel waar ons die verdwyning van die Afrikaner, sy taal, kultuur, geskiedenis, identiteit en alles wat daarmee saamhang in die gesig staar.

'n Ander ooreenkoms tussen die Russiese volk en Afrikaners is dat die gemeenskaplike wapen wat deur die VSA, Brittanje en die lande in hul invloedsfeer teen ons gebruik word, juis sogenaamde "demokrasie" is. Net soos wat demokrasie deur die VSA en sy bondgenote ingespan word om Rusland se buurstate onder Amerikaanse invloed te bring en hom as't ware te omsingel, so word demokrasie in Suid-Afrika en Suider-Afrika gebruik om die Afrikaner vernietig en van sy historiese grondgebied met behulp van grondhervorming en ander maatreëls te vervreem.

Daarby kan mens voeg die leierskapsrol wat die Russe in Oos-Europa en in die gebied wat Doegin Eurasië noem vervul, teenoor die Afrikaner se ewe belangrike staatkundige rol in Suider-Afrika. Net soos wat die ou Sowjetunie deur 'n groot aantal etniese en taalgroepe bestaan het, het Suider-Afrika in die tyd van Verwoerd en PW Botha uit twintig of meer volkere bestaan wat almal op een of ander manier van Suid-Afrika en die Afrikaner se akademiese, tegnologiese en finansiële vernuf afhanklik was.

Die revolusie van 1989 wat die VSA tot enigste oorblywende supermoondheid verhef het, het dus verwoestend op die eertydse konstellasie van state rondom Rusland ingewerk en terselfdertyd Suider-Afrika grootliks onder Britse en Amerikaanse invloed gestel.

Een van die sleutelonderskeidings wat Doegin tref, is tussen Atlantisme en Eurasisme. Vir hom verteenwoordig die wêreldgeskiedenis 'n dualisme tussen twee beskawingsvorme, dié van seegebonde handelaarsnasies en die geaarde, boerse tipe volkere wat in die grond gewortel is. Op geostrategiese vlak bepleit Doegin 'n alliansie tussen Duitsland, Rusland en Japan wat die "Eurasiese blok" sou verteenwoordig, teenoor die "Atlantiese blok" van die VSA, die NAVO-lande en die res van die Engelssprekende wêreld wat waarskynlik die Statebondslande soos Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika sou insluit.

Terwyl Huntington, die vermaarde Amerikaanse politieke wetenskaplike, beskawingsbotsing in die tydperk ná 1989 as hoofsaaklik godsdiens- en kultuurgedrewe gesien het, 'n klassieke Kulturkampf, kan ons by Doegin van 'n veel radikaler eksistensiële onderskeid tussen beskawings praat. Dit gaan ook, soos die titel van een van sy boeke lui, om "'n Groot oorlog tussen kontinente".

Hierdie oorlog tussen vastelande kan teruggevoer word na die hoofkonflik in die eerste twee eeue voor die Christelike jaartal begin het, naamlik die oorlog tussen Carthago en Rome. Verder terug het die ou Feniciërs wat in die tydvak 1200-800 v.C. 'n hoogtepunt in hul beskawing bereik het 'n soortgelyke seegebonde handelaarskultuur beoefen as wat die Atlantiese mag van die moderne era sou voer.


Volgens Doegin staan daar teenoor "die Atlantisme van die seemagte, bowenal Engeland en Amerika, die Eurasisme… van Rusland en Duitsland". Atlantisme word "gekenmerk deur die voorrang aan individualisme, 'ekonomiese liberalisme' en 'demokrasie van 'n Protestantse tipe'". Eurasisme, daarenteen, "vooronderstel noodwendig outoritarisme, hiërargie en die vestiging van 'kommunitariese' volkstaatbeginsels bo die enkel menslike, individualistiese en ekonomiese belange. Die mees tipiese Eurasiese houding word deur Rusland en Duitsland uitgedruk, die twee magtigste vastelandse magte, waarvan die geopolitieke, ekonomiese en – die belangrikste – wêreldbeskoulike belange regstreeks van dié van Engeland-VSA, dit is, die Atlantiste, verskil."

In dié opsig steun Doegin sterk op die denke van die Duitse politieke en regsfilosoof, Carl Schmitt, wat in sy boekie "Land und meer", "Land en see", 'n soortgelyke onderskeid tussen die grondgebonde en seegebonde kulture en moondhede getref het.

Terwille van 'n bietjie agtergrond, staan ek kortliks by Carl Schmitt stil. Wat Schmitt 'n verstommende denker maak, is dat hy ingesien het dat die mens se verhouding tot die ruimte eintlik allesbepalend is. Schmitt beklemtoon die verandering in die Europese siening van die ruimte wat met die Renaissance ingetree het. In die argitektuur, beeldhouwerk, skilderkuns en filosofie word die mens skielik as selfstandig binne die ruimte voorgestel, 'n ruimte waaraan hy nie meer ondergeskik is nie, maar binnekort sou bemeester. Die behoefte om hom van die see en uiteindelik die hele aardbol meester te maak, lei dan tot die sorgenaamde "beweging na die see" wat deur Portugal, Spanje en toenemend ook Nederland gelei word.

Volgens Schmitt gaan elke groot politieke verandering in die geskiedenis gepaard met wat hy "Landnahme" noem, die neem en benoeming van grond. As ons sien wat vandag in Suid-Afrika aan die gang is, waar ons aan die ontvangkant van so 'n inpalming van grond en ruimte – ook skole, universiteite en woonbuurte – verkeer, dan verstaan ons soveel beter waarvan Schmitt praat.

Interessant is dat die Pous aanvanklik die potensiële konflik tussen die mededingende seemagte wat kolonies elders ter wêreld verower, probeer reël deur 'n denkbeeldige grens in die Atlantiese oseaan te trek wat vir Portugal en Spanje elkeen 'n regverdige gedeelte van die Nuwe Wêreld sou verseker.

Maar met die Hervorming wat in Noord-Europa veld wen, stort hierdie pouslike, Katolieke orde in duie en word die see die nuwe konflikruimte wat al die eienskappe van 'n godsdiensoorlog aanneem. Edmund Burke, die Engels-Ierse staatsman en skrywer, het Spanje as 'n "walvis wat op die vasteland van Europa gestrand het" beskryf, waarmee hy Engeland se strategiese voordele as eiland wou beklemtoon.

Die "stormloop na die see" word aanstons gevoer deur Nederland wat in die sewentiende eeu koning kraai en waaruit die nedersetting aan die Kaap ontstaan. Frankryk raak insgelyks 'n aktiewe seemag, maar dis hoofsaaklik die Protestante en Calviniste wat hieraan deelneem, vanuit hul hawestadvesting, La Rochelle. Met die herroeping van die Edik van Nantes in 1685, word die Hugenote uit Frankryk verdryf en verloor sy grootliks haar aanspraak op die see.

Schmitt ironiseer nogal oor Engeland. Hy noem die Engelse skaapboere wat nie eens die weefkuns kon bemeester nie en genoodsaak was om hul wol aan Vlaandere te verkoop. Die vlak van tegnologiese ontwikkeling in Engeland was besonder laag vergeleke met die Europese vasteland en aanvanklik moes die Engelse by die Hollanders leer hoe om skepe te bou wat tussen vastelande kon vaar. Trouens, Nederland was indertyd in die sestiende en sewentiende eeue die land waar die meeste innovering in die skeepvaart plaasgevind het, met die ontwerp van kleiner seile, 'n meer vaartbelynde romp van ligter hout, en so meer.

Engeland was egter die tuiste van seerowery wat onder Elizabeth I aangemoedig is. Trouens, daar was 'n baie fyn onderskeid tussen 'n alleenhandelaar wat die golwe vir sy eie rekening aangedurf het en 'n seerower. Sommige seerowers het 'n magtigingsbrief van hul tuisregerings ontvang om skepe van ander lande aan te val en die voorraad aan boord te buit. Blykbaar was Elizabeth I, die sogenaamde "maagdelike koningin", baie opgewonde oor die materiaal, edelmetale en ander kosbaarhede wat Engelse seerowers gereeld aan die kaaie van die Teems ontskeep het.

Die stimilus van seerowery wat Engeland in die agtiende eeu ontvang het, het haar aanstons in staat gestel om die wêreld se oseane as die eerste maritieme supermoondheid te beheer. Sir Walter Raleigh het gesê: "As 'n mens die seë beheer, beheer jy die handel. En as jy die handel beheer, beheer jy die politieke mag."


Nie net het Engeland se eilandstatus die land 'n strategiese voordeel bo die vastelandse state met hul veel groter bevolkings en sterker weermagte besorg nie, maar dit het haar ook toenemend van alle territoriale gebondenheid bevry. Londen was bloot die hoofkantoor van die Ryk wat oor die hele aardbol gestrek het. Net soos 'n multinasionale maatskappy sy hoofkantoor van een stad na 'n ander kon verskuif, sou die Britse Ryk insgelyks vanuit 'n ander land kon opereer. Carl Schmitt praat van Engeland, die eilandstaat, wat soos 'n vis in die see swem en selfs sou kon wegswem. Dit was nie meer 'n land nie, maar 'n vloot wat beweeglik in die ruimte en in sy element, die oseaan, sy mag geprojekteer het.

Ter stawing van dié siening haal Schmitt die Britse staatsman Benjamin Disraeli aan wat die titel, "Keiserin van Indië", by die titel van Koningin Victoria gevoeg het, waardeur sy geweldig gevlei gevoel het. Maar Disraeli het selfs verder gegaan en voorgestel dat sy na Delhi verhuis waar sy oor veel meer onderdane as in Brittanje self beskik het.

Die seewaartse beweging van Engeland en die Angel-Saksiese beskawing wat Schmitt so mooi vir ons beskryf, het uiteindelik die globalisme, universalisme en handelaarsingesteldheid van ons eie tyd gebaar. Die aardgebonde volkstaat, selfs die nasiestaat wat nog deur gedefinieerde grense beperk is, is in hoë mate opgehef om plek te maak vir 'n vloeibare, globale ruimte waar een universele kultuur en waardestelsel, dié van Atlantisme, in wording is.

In 'n pregnante slot tot "Land und Meer", noem Schmitt dat die ontdekking van lugvaart 'n derde dimensie, die lug, vir die seementaliteit geopen het. In ons tyd het die ryk van elektroniese kommunikasiemedia, bekend as die kuberruim, bygekom. Ook op die internet oorheers oseaniese Engels en die seementaliteit wat in die agtiende eeu gevorm is. Sodoende neem ontwortelde en letterlik ontaarde individue deel aan 'n oneindige uitwisseling van inligting wat toenemend oor min nasionale, etniese of territoriale eienskappe beskik.

Die oorheersing van wat hy "Atlantisme" noem, is vir Doegin tegelyk 'n eksistensiële, kulturele, ekonomiese en geostrategiese probleem. In die antieke tyd het Rome, die aardmag, militêr oor Carthago, die seemag, by Zama geseëvier toe Scipio vir Hannibal verslaan het. Maar in ons tyd wil dit voorkom asof die seemag van die VSA en sy bondgenoot Brittanje die hele aardbol oorheers.

Hoewel Doegin heelwat aandag wy aan die verband tussen bloed en grond of "bloed en bodem" soos die nasionaal-sosialiste dit genoem het, ag hy die beheer van grond belangriker as om 'n volk rassuiwer te hou.

Doegin sien die geskiedenis as 'n aaneenskakeling van intriges, wat sekerlik aansluit by sommige eietydse sienings van die geskiedenis van die Katolieke kerk en veral die Jesuïtiese Orde, die Vrymesselaars en in ons tyd die Bildenbergers wat blykbaar van tyd tot tyd as 'n soort wêreldregering-in-wording vergader en waarvan die einddoel die opheffing van enige vorm van etniese of nasionale bewussyn sou wees.

In aansluiting by Doegin se komplotteorie oor die wêreldgeskiedenis, is daar in die onlangse tyd heelwat onthul oor hoe die revolusie van 1994 in Suid-Afrika insgelyks deur sakemanne, magnate, geheime dienste en konkelende politici van stapel gestuur is.

Demokrasie in sy suiwerste vorm as "demografiese verteenwoordigendheid" soos ons dit in Suid-Afrika ervaar, is in die geboorteplek van dié staatsvorm, Athene, deur sowel Plato as Aristoteles as 'n radikale staatsvorm gevrees. Vir die Feniciër, die handelaar of Atlantis wat invloed of stemme kan koop, hou demokrasie egter geen gevaar in nie.

'n Aspek van Doegin se denke wat vir Afrikaners van groot belang mag wees, is sy siening oor 'n etniese federasie wat die geografiese federasie van Rusland moet vervang. In 2006 het hy in die tydskrif "Rossieja" voorgestel dat daar 'n federasie van volkere ingestel moet word as alternatief vir 'n sterker eenheidstaat soos deur sommige in die Kremlin voorgestaan word. Volgens Doegin, sal "'n eenheidstaat in die geval van Rusland die ergste van alle moontlikhede wees, omdat dit behaal sal word deur volksmoord op die unieke etnosse wat daarbinne bestaan". Volgens hom sal so 'n "volksmoord nie net die kleiner volkere in die Russiese Federasie bedreig wat deur groter volkere geassimileer sal word nie, maar ook die groot volke".


Doegin sien die burger van 'n nasiestaat wat sy eie kenmerke, lewenswyse, tradisies moet afsweer ten einde lid van 'n groter geheel te word as noodwendig armer as iemand wat deel is van 'n volk of gemeenskap. Vandaar Doegin se voorstel dat geografiese federalisme deur etnofederalisme vervang behoort te word. In so 'n stelsel sal etniese groepe, eerder as etniese gebiede, die konstituerende elemente van die staat uitmaak.

As voorbeeld in sy Rossieja-artikel noem Doegin dié van die Tartare. Binne 'n etnofederasie sal dié volk "as 'n politieke subjek erken word, met 'n groot mate van taalkundige outonomie, dit wil sê, hule sal die reg hê om hul eie taal te praat, om hul eie skrifstelsels en etniese kultuur te ontwikkel en te besluit waar hulle wil woon". Terselfdertyd sal Tartare egter nie geregtig wees op 'n Tartarstan of tuisland nie.

Dié gedagte is blykbaar vir die eerste keer deur die Oostenryks-Marxistiese denker Otto Bauer geopper wat geglo het dat in 'n nuwe staat die nasionaliteitsbeginsel voorrang bo die grondbeginsel behoort te geniet, iets wat hy "ekstraterritoriale kulturele outonomie" genoem het.

'n Beswaar teen Bauer se stelsel sou wees dat dit te moeilik sou wees om te administreer en kommunikasie tussen volkslede wat versprei oor 'n groter grondgebied woon te moeilik sou wees. Hedendaagse kommunikasietegnologie het egter grootliks die angel uit dié kritiek gehaal.

Vanuit die Angel-Saksiese wêreld, die vesting van sogenaamde "Atlantisme", word Doegin dikwels afgemaak as 'n "neo-fascis" en voorstander van Russiese nasionalisme. Die feit dat hy geweldig invloed by Medwedef en Poetin geniet en gereeld in die hoofstroommedia in Rusland gehoor en gelees word, beteken egter dat ons hom heelwat ernstiger behoort op te neem as wat sulke tiperings of stereotiperings sou wou hê.

Deel van die tragedie van Afrikanerwees is dat ons, binne sowel Doegin as Schmitt se definisies, voortdurend in stryd met die Angel-Saksiese seemonster, oftewel die Atlantiste van Brittanje en Amerika verkeer het. Soveel Afrikanerleiers in die verlede kon die ware gesig van ons vyand as landgeworde boorlinge van Afrika wat afstam van die Nederlandse seevaarders van die sewentiende eeu, eenvoudig nie raaksien nie.

Die vraag is of ons nie in die geostrategiese spel wat tans tussen die nuwe, nasionalistiese Rusland en die heersugtige Angel-Saksiese magsblok woed, eerder ons gewig by die Russe moet ingooi en met iemand soos Doegin in dialoog moet tree nie.

Brittanje het bepaal dat Lesotho en Swaziland onafhanklike state moes wees, maar was gekant teen grondgebied of onafhanklikheid vir die Afrikaner. Vandaar ons huidige ondergang binne 'n Engelse staat wat deur die kultuur, universalistiese "demokrasie" en opportunistiese geweld van die Atlantiese Seeryk oorheers word.

Ons het sekerlik niks om te verloor deur so 'n dialoog met Doegin en sy mede-Russe aan te knoop nie.

фильтр осушитель воздухаАлександр Фильчаков