In die geledere van DA-kiesers heers daar waarskynlik heelwat ontnugtering, veral in Gauteng. Dit blyk nou dat die ANC se daling in steun by die stembus hoegenaamd nie die party se greep op munisipale mag verswak het nie, inteendeel. Volgens ’n Netwerk24-opskrif kry ActionSA Johannesburg en Tshwane, maar hou die ANC die beursies. Die voorgestelde koalisiebedeling sou dus aan ActionSA die burgemeestersposte besorg, terwyl die ANC beheer oor die finansies behou.
Dit herinner ’n mens so ’n bietjie aan die geskiedenis van kommunisme in die twintigste eeu: in Oos-Europa en elders het kommuniste dekades lank regeer, sonder enige werklike steun. In verskeie Oos-Europese lande is kommunistiese bewind ná die Tweede Wêreldoorlog met Sowjetsteun gevestig, ongeag die mate van plaaslike steun daarvoor. Een so ’n voorbeeld is die Hongaarse kommunistiese leier Mátyás Rákosi (1892–1971), wat die Tweede Wêreldoorlog in Moskou deurgebring het, maar in 1945 na sy vaderland teruggekeer het. Hy was bekend vir die “salami-taktiek”, waardeur hy sy teenstanders en mededingende groepe een vir een uitgeskakel het.
Die punt is dat die stelsel wat Slovo, Mandela en natuurlik Ramaphosa hier by ons in 1994 afgelaai het, na my oordeel nooit bedoel was om ’n werklike “demokrasie” te wees waardeur gewone mense beheer of inspraak in plaaslike en nasionale regering sou kon geniet nie. Op sy beste verteenwoordig dit ’n flou afskynsel van demokrasie, selfs ’n travestie daarvan.
Die WAT omskryf die woord “travestie” as: “Belaglike, verwronge of minderwaardige voorstelling, of iets wat ’n bespotting maak van iets ernstigs.”
Vir die ANC, EFF en ActionSA, om maar enkeles te noem, gaan dit om politieke teater, ’n opvoering waardeur die gehoor konstant oortuig moet word dat hulle iets na aan die werklikheid beleef. In die Franse teater van die agtiende eeu het hulle gepraat van vraisemblance, iets wat op die werklikheid lyk, maar wat dit nie is nie. Trouens, die skyn en die opvoering kan soms selfs meer lewensgetrou, meer realisties voorkom as die werklikheid self.
Die arme DA-kieser – en opposisiekiesers in die algemeen – verkeer onder die indruk dat sy stem “iets beteken” en op een of ander wyse die samestelling van plaaslike regering gaan beïnvloed. Onwetend is hy egter deel van die opvoering, die klug. Nie as een van die protagoniste of hoofkarakters nie, maar as ’n bykarakter, ’n figurant. Dít wat hulle in Hollywood ’n “extra” noem.
Die situasie in die Wes-Kaap, wat demografies van die res van die land verskil, is natuurlik effens anders. Maar veral die Afrikanerkieser en selfs die bruin kieser verkeer in dieselfde bootjie as sy noordelike eweknie, in dié sin dat hy bloot as figurant vir ’n vooraf opgevoerde dwingelandy van Engels-liberale oorheersing misbruik word. En ons weet dat links en liberaal in ons land – soos in die VSA – dikwels pragtig met mekaar rym. Roem mev. Zille haar nie ewe seer as Ramaphosa daarop dat sy ’n “anti-apartheidstryder” was nie?
Waarskynlik is daar meer Afrikaners in die topstruktuur van die DA as in dié van die EFF, hoewel Carl Niehaus ’n taamlik prominente rol in die party van rooi oorpakke speel. Maar verander die blote teenwoordigheid van Afrikaners die ideologie en strategie van die party?
Mev. Helen Zille se vele beloftes ten spyt, het die DA nie daarin geslaag om enige groot metro in Gauteng in te palm nie. In vele opsigte herinner die DA- en selfs die VF Plus-kiesers ons aan diegene wat vir sogenaamde “verregse partye” in Europa stem, soos die PVV in Nederland, Vlaams Belang in België, Nasionale Samekoms in Frankryk of die AfD in Duitsland. Daar heers ’n soort “brandmuur” of cordon sanitaire teen partye wat deur die gevestigde politieke orde as onaanvaarbare koalisievennote beskou word. In Suid-Afrika neem politieke uitsluiting egter ’n ander vorm aan, en die vergelyking met Europa is nie in alle opsigte presies nie. Daarom word die DA van munisipale mag uitgesluit.
Mev. Zille se gebruik van die term “oordeelsdagkoalisie” om samewerking tussen die revolusionêre swart partye soos die ANC, EFF, MK en ActionSA te beskryf, beklemtoon bloot wat ek hier skryf. Sy druk dit as teatraal en apokalipties uit. Dit dien as bevestiging vir die aard van die Suid-Afrikaanse politieke stelsel as ’n georganiseerde travestie wat bepaalde Westerse modelle naboots, maar oor geen egtheid of erns beskik nie.
Eenkeer het ek met ’n beroemde joernalis van die BBC gaan eet. Hy het die gemors wat in Zimbabwe ontstaan het, aan een man, Robert Mugabe, toegeskryf. Een man het die onheil oor daardie land gebring. Net so word die gebreke van die Suid-Afrikaanse stelsel aan persoonlikhede toegeskryf, sonder om die groter prentjie van ’n wanfunksionele, pseudodemokratiese stelsel raak te sien.
Diegene wat Hermann Giliomee “grondwetters” genoem het, verteenwoordig die goedgelowiges wat waarde heg aan woorde op papier waarin ’n mooi droom geskets word. Die sogenaamde wonderlike Grondwet was veronderstel om ’n nuwe Switserland, ’n nuwe Noorweë in Suid-Afrika te skep waarin almal wetsgehoorsaam, welvarend en gelukkig is. Die munisipaliteite met hul afbakening van kiesgebiede wat volgens my minderheidskiesers se politieke invloed permanent verwater, sou eerlike en doeltreffende plaaslike regering in die hand werk.
Tussen fiksie en werklikheid gaap daar egter ’n kloof so groot soos die Grand Canyon in Amerika.
Die figurante daag in verkiesing na verkiesing op, nie om hierdie onhoudbare en onwerkbare stelsel te verander nie, maar om dit te legitimeer. Hul rol om die ANC aan bewind te hou, is ewe of selfs meer wesenlik as dié van die regerende party se eie stemvee wat in hul kliëntelistiese waan aanhou om te stem vir ’n aalmoes, ongehinderde wanbetaling van krag en water of die hoop om eendag self in die weelde van die korrupsiepartytjie te mag deel.
Let wel, ek neem mense nie kwalik dat hulle stem nie. Selfs Lenin, die groot revolusionêr vir wie geweld die uiteindelike metode was om politieke mag te verkry, het geskryf dat ’n mens aan die parlementêre proses behoort deel te neem, selfs al wil jy dit omverwerp.
Maar dan moet jy darem ’n idee hê wat jou stem in die groter samehang beteken. Is jy besig om iets sinvols te doen?
Of is jy ’n nuttige idioot wat vensterversiering aan ’n verrotte en verdorwe stelsel verleen?
