Petrol raak al hoe duurder

Motoriste sal 12c meer moet opdok vir ‘n liter vir alle grade petrol, het die departement van energie in ‘n verklaring gesê.

Van Woensdag sal die koste van ‘n liter 93 loodvrye petrol in die binneland R12.44/l en R12.06/l aan die kus wees. Vir 95 loodvry, sal motoriste onderskeidelik R12.74/l en R12.26/l betaal.

Die prys van diesel sal egter daal met 1c/liter vir 0,05% swael en 2c/l vir 0,005% swael.

Die hoofredes vir die brandstofprysaanpassings is die gemiddelde styging in die pryse van petroleumprodukte op internasionale markte (sowat 40c/l vir petrol en 20c/l vir diesel onderskeidelik), en die versterking van die rand teenoor die Amerikaanse dollar gedurende die oorsigtydperk.

Volgens die Automobiel-Assosiasie (AA) word ‘n styging in die prys van brandstof in Suid-Afrika in die kort tot medium termyn voorsien, met die moontlikheid van groter stygings as die rand onder druk kom.

Verlede maand se verhoging sluit ‘n 30c/l toename in die algemene brandstofheffing in, asook aanpassings in vervoerkoste gegrond op die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika se goedgekeurde pyplyntariefverhoging asook die padvervoertariefverhoging deur die Padvragvereniging.

Petrolprys styg more

Die prys van petrol, diesel, paraffien en vloeibare petroleumgas sal Woensdag verhoog word.

Petrol sal met 96 sent ‘n liter styg, diesel met 74 sent, paraffien met 73 sent en LPG met R1.54 per kilogram.

Die hoofrede vir die toename is die gemiddelde styging in die prys van ru-olie in die tydperk onder oorsig. Die ander rede is die depresiasie van die rand teenoor die Amerikaanse dollar.

Die departement het gesê hulle verwag dat die prys van ru-olie sal stabiliseer rondom die huidige vlak en geen groot prysskokke word in die nabye toekoms voorsien nie.

IVP: E-tol om Sanral uit geldelike verknorsing te red

Die Inkatha Vryheidsparty sê die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) se erkenning dat hy finansieel sukkel, is ‘n aanduiding dat die etolstelsel gebruik word om die agentskap uit sy finansiële verknorsing te red.

Die IVP het bevraagteken of die e-tolstelsel daar is om enigsins die lening vir die tolpaaie terug te betaal.

Die IVP-woordvoerder in Gauteng, Bonginkosi Dhlamini sê Sanral se voorlegging gister aan die e-tol-hersieningspaneel dui daarop dat die stelsel daar is om Sanral aan die gang te hou.

Die IVP verwerp die e-tolstelsel en dink ‘n brandstofheffing moet ingestel word.

Luidens ʼn berig in die Business Day van vandag het ʼn woordvoerder van die departement Woensdag voor die e-tol-evalueringspaneel getuig dat e-tolgeld ook gebruik kan word om te help met die instandhouding van die res van die land se paaie waar tans ʼn agterstand van sowat R200 miljard is.

Die parlement is klaarblyklik deur Sanral mislei en Gautengers moet opdok vir die res van die land se paaie.

Die Star het berig dat Sanral Woensdag aan die e-tolhersieningspaneel gesê het die organisasie is bankrot en gewaarsku dat die land groot probleme gaan hê as hy nie die R20 miljard skuld kan afbetaal nie.

Die koerant het voorts berig dat Dipuo Peters, minister van vervoer, Dinsdag aan die paneel gesê het motoriste kan tot R3.65 per liter ekstra vir petrol betaal om die skuld af te betaal.

Sanral sê egter slegs 1% van voertuie op die Suid-Afrikaanse padnetwerk maak van tolpaaie in Gauteng gebruik.

Nazir Alli, uitvoerende hoof van Sanral, het Donderdag aan die e-tolhersieningspaneel in Pretoria gesê 99% van die totale aantal nasionale kilometers wat afgelê word, is nie op dié betrokke padnetwerk nie.

“Gaan ons persone wat nie in Gauteng bly nie, kry om ons te finansier?” het hy gevra.

David Makhura, premier van Gauteng, het die paneel in Julie saamgestel om die ekonomiese en maatskaplike impak van die Gauteng-hoofwegverbeteringsprojek (GFIP) en die elektroniese tolstelsel om dit te finansier, te ondersoek.

Volgens projeksies deur Sanral sal ‘n bykomende R5.87 teen 2023 by die provinsiale petrolheffing gevoeg moet word om padinstandhouding en uitbreiding te finansier.

ANC verkies brandstofheffing ipv etol

Die ANC in Gauteng kom vandag aan die beurt om sy standpunt te stel oor die omstrede etol-stelsel op die provinsie se hoofweë, het RSG berig.

Die party sal voor die hersieningspaneel verskyn wat deur die Gautengse premier, David Makhura aangestel is.

Die paneel ondersoek die sosio-ekonomiese impak van die stelsel op inwoners.

Die ANC se voorlegging volg op ‘n resolusie by die party se onlangse provinsiale konferensie, wat die implementering van die e-tolstelsel in sy huidige formaat verwerp.

Die nuwe provinsiale sekretaris, Hope Papo sê hulle verkies dat ‘n brandstofheffing die e-tolstelsel finansier.

Papo en die provinsiale voorsitter, Paul Mashatile sal na verwagting die afvaardiging na die wetgewer in Johannesburg lei.

ANC in Gauteng staan sterk teen e-tol

Die ANC se Gautengse provinsiale konferensie het vroeër in Pretoria ten einde geloop waar die e-tolstelsel onder meer bespreek is.

Afgevaardigdes het hul teenkanting teen die huidige formaat van die stelsel uitgespreek.

Volgens die afgevaardigdes is dit te duur en behoort ‘n brandstofheffing, wat geadministreer sal word deur SAID, die Inkomstediens, dit befonds.

Die ANC in Gauteng beplan om sy teenkanting teen die e-tolstelsel aan die hersieningspaneel oor die aangeleentheid, oor te dra.

Die provinsiale sekretaris, Hope Papo sê hulle wil voorleggings aan die paneel doen wat deur die Gautengse Premier, David Makhura aangestel is.