Die ANC in Gauteng kom vandag aan die beurt om sy standpunt te stel oor die omstrede etol-stelsel op die provinsie se hoofweë, het RSG berig.
Die party sal voor die hersieningspaneel verskyn wat deur die Gautengse premier, David Makhura aangestel is.
Die paneel ondersoek die sosio-ekonomiese impak van die stelsel op inwoners.
Die ANC se voorlegging volg op ‘n resolusie by die party se onlangse provinsiale konferensie, wat die implementering van die e-tolstelsel in sy huidige formaat verwerp.
Die nuwe provinsiale sekretaris, Hope Papo sê hulle verkies dat ‘n brandstofheffing die e-tolstelsel finansier.
Papo en die provinsiale voorsitter, Paul Mashatile sal na verwagting die afvaardiging na die wetgewer in Johannesburg lei.
