Die afkorting vir die Universiteit Pretoria is steeds UP; ook in sy webadres. Onlangs het iemand in Die Burger geskryf dat hy al hoe meer die afkorting SU (Stellenbosch University) pleks van US (Universiteit Stellenbosch) teëkom. In die US se webadres word die afkorting SUN gebruik, wat ook in die naam van die US se uitgewery opduik: SUN PReSS, wat in wyer verband AFRICAN SUN MeDIA word. Wat ons hier sien, is die doelbewuste uitwissing van die US se eens trotse Afrikaanse verlede.
Gestel iemand wil aansoek om ‘n pos by die US doen. In die LitNet-nuusbrief (24 deser) word ‘n medeprofessoraat in Afrikaans en Nederlands geadverteer. In hierdie voorbeeld gaan dit dus nie om ‘n pos vir iemand wat nie Afrikaans ken nie. “Kliek vir meer inligting.” Jy kry twee bladsye inligting. Dit handel oor ‘n “Job” met ‘n bepaalde nommer in die “Job Basket”. Dan volg ‘n “Description” met die volgende hoofde: Job Title/Posbeskrywing, Location/Area, Organization/Organisasie, Department Description/Departement Beskrywing, Duties/Pligte, Job Requirements/Pos Vereistes, Recommendation/Aanbeveling, How To Apply/Hoe Om Aansoek Te Doen, Enquiries/Navrae. By elke hoof word verdere inligting in sowel Afrikaans as Engels gegee. By die voorlaaste hoof staan in die Afrikaanse teks: “Doen aanlyn aansoek deur op die ‘apply now’ skakel te kliek.” Die e-pos-adres is: “vacancieshuman@sun.ac.za”.
Na die laaste van bogenoemde hoofde raak die US se Afrikaans op: “Currency ZAR, Commencement Date 01 Jan 2015, Closing Date 14 Aug 2014.” Daarna volg ‘n evalueringsvorm waarvan die besonderhede uitsluitlik in Engels is.
Enigeen wat deesdae by die US aansoek om ‘n pos doen, sal dus onder die indruk gebring word dat eerder Engels as Afrikaans die instansie se administratiewe taal is. Myns insiens is dit ook ‘n feit dat Engels voorgraads die hoofonderrigtaal is en dat Engels nagraads feitlik uitsluitlik die klasonderrigtaal geword het. Die voorsitter van die Afrikaanse Taalraad, Michael le Cordeur, is ‘n dosent op die US-kampus. Wannie Carstens, ‘n oud-voorsitter en direksielid van die Afrikaanse Taalraad, dien in die US-raad. Wat doen hulle om hierdie onverkwiklike situasie te verbeter? Le Cordeur het om etniese en politieke redes tot dusver nog net lof vir die Botman-US se verengelsingsbeleid gehad.
By die hoof “Hoe om aansoek te doen” staan daar in die Afrikaanse teks onder meer: “Die Universiteit hanteer alle aansoeke in terme van sy Diensbillikheidsplan wat erkenning verleen aan die behoefte om die demografiese samestelling van die personeelkorps te diversifiseer, veral met die oog op die aanstelling van geskikte kandidate uit die aangewese groepe.” Dit gaan dus vir die US om sosiogeniëring ooreenkomstig die ANC se resep. Diensbillikheid beteken dat indien enigsins moontlik akademies onbillik teen blanke kandidate en veral mans gediskrimineer word. Nie-wittes word dus aangemoedig en wittes, veral mans, ontmoedig om aansoek te doen.
Op hierdie manier word die nie-akademiese ideaal van demografie-weerspieëling aan die US nagejaag. Moet dus niemand glo wat beweer dat dosente aan die US primer ingevolge akademiese bekwaamheid (bv formele kwalifikasie, ondervinding, publikasies) aanstel word nie. Dit volg dat akademiese uitnemendheid aan die transformerende US al hoe meer ‘n hersenskim word.
