PRAAG steek 20 000 artikels verby!

Die Afrikaanse webblad praag.co.za, het onlangs die 20 000-kerf verbygesteek sover dit die aantal gepubliseerde artikels op die blad betref. Tans is daar 20 064 artikels op die webwerf wat een en almal gratis, asook soekbaar is.

Om dié mylpaal te vier, gaan PRAAG boeke teen ‘n spesiale afslag vir lesers aanbied. Sodra die nodige verstellings aan ons e-winkel aangebring is, sal die aankondiging hier gemaak word.

Die meeste ander Afrikaanse webblaaie het oor die jare tegniese of naamsveranderings ondergaan sodat al hul inhoud nie op een plek beskikbaar is nie. Só byvoorbeeld het die Media24-koerante se webwerwe na netwerk24.com verander, sodat ‘n groot deel van hul inhoud in die slag gebly het. Dit mag elders in argiewe gevind kan word, maar is nie aanlyn soekbaar soos dié van PRAAG nie.

Om dié rede, asook die onafhanklikheid van ons menings en perspektiewe, verdien PRAAG om deur elke Afrikaner ondersteun te word.

Sluit gerus hier aan en help ons om nóg 20 000 artikels aanlyn te skep!

Dan Roodt: Rekenaars vir alle Afrikaners?

Volgens beskikbare statistiek, beskik ongeveer die helfte van Afrikaners nie oor rekenaars nie. Mense het oor die algemeen selfone wat hulle toegang tot die internet gee, maar nie noodwendig ‘n rekenaar nie. Baie gebruik ook rekenaars by die werk.

‘n Idee sou wees om by groot maatskappye hul ou rekenaars in die hande te kry waarvan hulle ontslae raak en hulle bietjie op te gradeer of reg te kry vir arme of werklose Afrikaners sonder rekenaars. Enige rekenaar ná 2005 of so is eintlik goed genoeg, want mens kan ‘n ligte weergawe van Linux daarop laai en dan behoort dit heeltemal goed te wees om aanlyn mee te werk. Ons kan hulle dan gratis versprei of per koerier landwyd laat aflewer teen ‘n minimale koste van ongeveer R100 per rekenaar.

Enigiemand met ‘n rekenaar behoort tussen R5000 en R10 000 per maand van die huis af te kan verdien, want daar is ‘n hele globale wêreld waar ‘n mens jou dienste kan verkoop.

Ons kan ook nuwe aanlynbesighede begin om vir sulke mense werk te skep. Van die besighede kan ook in die buiteland geregistreer wees, dus geen BEE of ander nonsens nie.

Dit kan nog ‘n baie opwindende PRAAG-projek word!

Internet in Afrika tot 40 keer duurder!

In Suid-Afrika is 49% van die bevolking aanlyn, maar Afrika moet tussen 30 en 40 keer méér vir internettoegang betaal as mense in ontwikkelde lande.

Volgens die Internet Society se verslag oor internet en internetbeheer in Afrika het sowat 20% van die vasteland se bevolking teen Desember 2014 toegang gehad tot die internet.

Die verslag sê dat die uitbreiding van infrastruktuur, soos internet-“sentrales” (“internet exchange points” of IXP’s), dié koste mettertyd sal verlaag.’

Die meerderheid Afrikalande het internet-penetrasie van minder as 10%, terwyl 20% as die drempelvlak gesien word voordat ’n land ekonomiese voordele uit breëband begin trek.

Nog net drie lande – Tanzanië, Rwanda en Mauritius – het teen Desember 2014 van analoog- na digitale TV- en radio-uitsendings oorgeskakel. Nog 19 lande het met die proses begin (onder meer Suid-Afrika, waar die proses nou al jare lank sloer, tot frustrasie van internetdiensverskaffers). Die verslag betreur dié trae oorskakeling omdat digitale uitsending meer ongebruikte spektrum vir internet beskikbaar sal stel.

Nóg ’n oorgang wat Afrika “nie vinnig genoeg instel nie”, is die oorskakeling na die nuutste internet-adresprotokol, IPv6. Die verslag sê dis noodsaaklik vir langtermyn-internetuitbreiding, “veral soos wat die Internet van Dinge ’n werklikheid word”.

Suid-Afrika en Egipte het 97% van die IPv6-adresse op die vasteland geregistreer.

Die meeste mense wat vir die eerste keer “aanlyn” kom, slaan vastelyn-breëband sommer heeltemal oor ten gunste van mobiele breëband. Mobiele breëband verteenwoordig 90% van alle internet-subskripsies.

Daar is lande op die kontinent waar so min as 2% van die bevolking “aanlyn” is.

Die internet dra US$18 miljard – sowat 1,1% – tot die vasteland se totale bruto binnelandse produk (BBP). Dit is laag vergeleke met die wêreldgemiddelde van 4%.

Die McKinsey-instituut verwys na iBBP, wat bestaan uit die internet se bydrae tot private verbruik, openbare besteding, private investering en ’n land se handelsbalans. Senegal se iBBP is die beste (3,3%), maar in die twee grootste ekonomieë, Nigerië en Suid-Afrika, is dit onderskeidelik 0,8% en 1,4%.

“Dit wys op die onbenutte geleenthede wat nog in die meeste Afrika-lande gerealiseer moet word om die internet vir ekonomiese voordeel in te span,” sê die Internet Society.

SA Kommunisteparty wil koerante, webwerwe sensor – weens ‘rassisme’

Die sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty (SAKP) het vandeesweek gedreig dat hy webwerwe en die aanlynweergawes van koerante mag sluit omdat kommentaarblaaie nie “genoegsaam gereguleer word nie”. Nzimande het dié uitlatings gemaak tydens die twintigjarige herdenking van Joe Slovo se sterfdatum by die Avalon-begraafplaas in Soweto.

Volgens Nzimande laat koerante “rassiste” toe om op hul aanlynkommentaarblaaie “beledigings te slinger”. Hy meen dat koerante en webwerwe vanself “rassistiese kommentaar moet sensor”. Hy het gesê:

“In die naam van Joe Slovo moet ons die stryd teen rassisme op alle fronte verhewig. Daar is te veel rassisme en haatspraak op die internet.

Los Twitter en Facebook uit. Waaroor ons begaan is, is al die mediahuise wat oor internetplatforms beskik. Hulle moet verantwoordelikheid aanvaar vir mense wat op hul stories kommentaar lewer.

Die haat, die haatspraak, die rassisme, die seksisme wat daarop voorkom, ‘n mens mag nie koerante hê wat iets op die internet toelaat wat hulle nie in hul gedrukte weergawes kan druk nie. Dis walglik, ons doen ‘n beroep op Sanef en al die mediahuise om verantwoordelikheid te aanvaar vir alles wat daar geskryf word. As jy mense toelaat om op jou artikels op die internet te reageer, moet jy daarvoor verantwoordelikheid aanvaar.”

Nzimande het gesê die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie moet ingryp teen die rassisme wat die internet “oorstroom”. Hy meen:

“In die toekoms gaan daardie mediahuise gedagvaar word vir wat daar geskryf word. Ons doen ‘n beroep op die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie om dit dop te hou en die stappe aan te beveel wat rondom dié rassisme geneem moet word wat veral op die mediahuise se platvorms versprei word.”

Die voorsitter van die Freedom of Expression Institute, prof. Anton Harber, het met mnr. Nzimande saamgestem oor die rassisme en haatspraak op die internet, maar wou nie hê die regering met met die mediahuise inmeng nie.

“Nzimande is reg om oor rassisme en haatspraak op die internet begaan te wees, maar ek is nie seker dat die probleem by die vernaamste mediahuise lê nie.

Die mediahuise is reeds wetlik en eties vir hul eie webwerwe verantwoordelik en word verplig om onwettige haatspraak en rassisme te voorkom.

Ek hoop Nzimande stel nie voor dat die regering begin om inhoud te reguleer en om by die webwerwe van ons mediahuise in te meng nie, aangesien dit die vermoë van die internet om aan burgers ‘n stem te verleen om openbare deelname te bevorder, sou kortwiek.”

Die voorsitter van die nasionale redakteursforum (Sanef), Mpumelelo Khabela, meen daar is reeds stappe geneem om “ongewenste inhoud” aanlyn te verminder. Hy sê:

“Nzimande is onbewus van wat Sanef reeds doen. Dis vir ons aangenaam om hom in kennis te stel dat daar by ons laaste algemene vergadering in Kaapstad besluit is om ‘n samevoegingskomitee aan te stel om meganismes te vind wat inhoud in die multimediaruimte kan reguleer.

Ons ontwikkel ‘n beheergmeganisme nie vanweë druk nie, maar omdat ons slegs dít wat eties gesond is publiseer.”

 

Tegnologievooruitsigte vir 2015

Die internet-rewolusie gaan die manier waarop ondernemings­ sake doen, binne enkele jare ingrypend­ verander, meen kenners.

Baie daarvanis kwessies wat sagteware-­ontwikkelaars­ en stelselingenieur­s sal fassineer­, maar daar is ook aspekte wat gewone mense raak. Die top-tien-neigings­­ vir 2015 is:

1. Jy gaan oral aanlyn wees

Kenners reken dit gaan al hoe belangriker word om in die behoeftes van mobiele gebruikers te voorsien – nie nét deur op toestelle te fokus nie, maar ook op diverse omgewings­.

“Fone en draagbare­ toestelle is nou deel van ’n uitgebreide rekenaaromgewing­ wat insluit dinge soos verbruikerselektronika­ en skerms wat verbind is in die werk- en openbare­ ruimte,” sê mnr. David Cearly, visepresident van Gartner.

“Toenemend sal die hele omgewing by die vereistes van die mobiele gebruiker­ moet aanpas. Dit sal groot bestuursuitdagings vir IT-ondernemings skep soos wat hulle beheer verloor oor die eindpunt-toestelle­­.”

2. Die internet van dinge sal uitbrei

Die feit dat alle data digitaal­ geskep word, beteken daar is nuwe maniere om dienste aan te bied. Ondernemings moet die “internet­ van dinge” (bates en masjinerie)­ dink na hoe hulle digitale­ data kan inspan. Voorbeelde­ sluit in: betaal-per-gebruik­­­ van bates (soos nywerheidstoerusting­), dienste (soos betaal-soos-­jy-ry-versekering), mense (soos vir verhuising­), plekke (parkeerplek) en stelsels (wolkdienste). Ondernemings in enige sektor kan dié modelle inspan.

3. 3D-drukwerk sal algemeen­ word

Die wêreldwye verkope van driedimensionele­ (3D) drukkers gaan na verwagting­ in 2015 met 98% groei, gevolg deur 50% in 2016. 3D drukwerk­ sal oor die volgende drie jaar vlam vat soos wat goedkoper drukkers op die mark kom en die gebruike­ daarvan uitbrei. Nuwe nywerheids­-, biomediese­ en verbruikerstoepassings­ sal dit duidelik maak dat 3D nie net ’n gier is nie, maar iets wat ontwerp, die vervaardiging­ van prototipe­s en die vervaardigingsproses­ self kan verbeter.

4. Alles sal ontleed word

Soos wat die volume data toeneem, sal die belangrikheid­ van ontledin­g daarvan toeneem. Apps sal die interne vermoë moet hê om data te ontleed. Organisasies­ sal moet leer hoe om dié data ten beste te bestuur en die regte inligting­ aan die regte mense op die regte tydstip te lewer. “Ontleding­ sal diep, maar onsigbaar, oral ingebed word,” sê Cearly.
Die waarde gaan al hoe meer in die antwoorde lê, nie in die data self nie – en daarvoor sal die regte vrae gevra moet word.

5. Konteksryke stelsels sal ontwikkel

Danksy data-ontleding sal stelsels ontwikkel word wat reageer op hul omgewing­. Dit sal onder meer veiligheidstelsels­ raak – as die konteks van ’n gebruiker se versoek verstaan word, kan toepassings­ hul veiligheidsreaksie­ aanpas.

6. Masjiene sal slimmer word

Gevorderde algoritmes­ sal stelsels in staat stel om self te leer en outonoom op te tree. Selfaangedrewe­ voertuie­, virtuele persoonlike­ assistente­ en gevorderde­ robotte bestaan reeds en ontwikkel vinnig, wat lei tot ’n nuwe era van “masjienhelpers­”. Die slim-masjienera kan dalk die mees ontwrigtende­ in die geskiedenis van IT wees.

7. Die wolk word mobiel

Die samesmelting­ van wolk- en mobiele rekenaar­dienst­e sal voortduur. Al hoe meer toepassings­ word ontwikkel­ sodat dit op enige toestel kan werk, hoewel dié neiging ingeperk word deur bandwydte­- en netwerkkoste­. Nietemin­ sal selfs apps wat pasgemaak­ word vir verskillende­ toestelle­ sentraal in die wolk gekoördineer­ ­word.
Die fenomeen van twee skerms – wat op die oomblik beteken dat mense TV kyk terwyl hulle ook op ’n mobiele toestel bedrywig­ is – gaan uitgebrei­ word sodat speletjies en sake-apps­ meer skerms gebruik, ook draagbare toestelle, om gebruikers se ervaring te verbeter.

8. Apps en infrastruktuur­ sal deur sagteware gedefinieer­ word

Programmering van alles – apps tot basiese infrastruktuur­ – sal al hoe ratser moet word sodat organisasies­ kan aanpas by die digitale werkmodel. Dit beteken hardeware sal nie meer die kern van alles kan wees nie. Modelle en kodering wat maklik saamgestel kan word, sal al hoe meer gebruik word.

9. IT op webskaal

Al hoe meer onder­ne­mings­ sal begin dink en optree soos web-reuse­ soos Amazon, Google en Facebook. Die eerste stap sal sogenaamde DevOps wees – wanneer sagteware­-ontwikkeling en die bedryfsafdeling op ’n gekoördineerd­e wyse saamwerk om apps en dienste vinnig en deurentyd­ te ontwikke­l.

10. Risiko-gegronde sekuriteit­

Sekuriteit moenie ’n hindernis­ tot vordering wees nie. Ondernemings sal al hoe meer besef dat dit onmoontlik is om ’n 100% veilige omgewing te skep. Hulle sal dus al hoe meer gesofistikeerd­e risiko-­ontledingsmodelle skep en veiligheid sal in apps self ingebou word, pleks van deur byvoorbeeld­ brandmure.