Die internet-rewolusie gaan die manier waarop ondernemings sake doen, binne enkele jare ingrypend verander, meen kenners.
Baie daarvanis kwessies wat sagteware-ontwikkelaars en stelselingenieurs sal fassineer, maar daar is ook aspekte wat gewone mense raak. Die top-tien-neigings vir 2015 is:
1. Jy gaan oral aanlyn wees
Kenners reken dit gaan al hoe belangriker word om in die behoeftes van mobiele gebruikers te voorsien – nie nét deur op toestelle te fokus nie, maar ook op diverse omgewings.
“Fone en draagbare toestelle is nou deel van ’n uitgebreide rekenaaromgewing wat insluit dinge soos verbruikerselektronika en skerms wat verbind is in die werk- en openbare ruimte,” sê mnr. David Cearly, visepresident van Gartner.
“Toenemend sal die hele omgewing by die vereistes van die mobiele gebruiker moet aanpas. Dit sal groot bestuursuitdagings vir IT-ondernemings skep soos wat hulle beheer verloor oor die eindpunt-toestelle.”
2. Die internet van dinge sal uitbrei
Die feit dat alle data digitaal geskep word, beteken daar is nuwe maniere om dienste aan te bied. Ondernemings moet die “internet van dinge” (bates en masjinerie) dink na hoe hulle digitale data kan inspan. Voorbeelde sluit in: betaal-per-gebruik van bates (soos nywerheidstoerusting), dienste (soos betaal-soos-jy-ry-versekering), mense (soos vir verhuising), plekke (parkeerplek) en stelsels (wolkdienste). Ondernemings in enige sektor kan dié modelle inspan.
3. 3D-drukwerk sal algemeen word
Die wêreldwye verkope van driedimensionele (3D) drukkers gaan na verwagting in 2015 met 98% groei, gevolg deur 50% in 2016. 3D drukwerk sal oor die volgende drie jaar vlam vat soos wat goedkoper drukkers op die mark kom en die gebruike daarvan uitbrei. Nuwe nywerheids-, biomediese en verbruikerstoepassings sal dit duidelik maak dat 3D nie net ’n gier is nie, maar iets wat ontwerp, die vervaardiging van prototipes en die vervaardigingsproses self kan verbeter.
4. Alles sal ontleed word
Soos wat die volume data toeneem, sal die belangrikheid van ontleding daarvan toeneem. Apps sal die interne vermoë moet hê om data te ontleed. Organisasies sal moet leer hoe om dié data ten beste te bestuur en die regte inligting aan die regte mense op die regte tydstip te lewer. “Ontleding sal diep, maar onsigbaar, oral ingebed word,” sê Cearly.
Die waarde gaan al hoe meer in die antwoorde lê, nie in die data self nie – en daarvoor sal die regte vrae gevra moet word.
5. Konteksryke stelsels sal ontwikkel
Danksy data-ontleding sal stelsels ontwikkel word wat reageer op hul omgewing. Dit sal onder meer veiligheidstelsels raak – as die konteks van ’n gebruiker se versoek verstaan word, kan toepassings hul veiligheidsreaksie aanpas.
6. Masjiene sal slimmer word
Gevorderde algoritmes sal stelsels in staat stel om self te leer en outonoom op te tree. Selfaangedrewe voertuie, virtuele persoonlike assistente en gevorderde robotte bestaan reeds en ontwikkel vinnig, wat lei tot ’n nuwe era van “masjienhelpers”. Die slim-masjienera kan dalk die mees ontwrigtende in die geskiedenis van IT wees.
7. Die wolk word mobiel
Die samesmelting van wolk- en mobiele rekenaardienste sal voortduur. Al hoe meer toepassings word ontwikkel sodat dit op enige toestel kan werk, hoewel dié neiging ingeperk word deur bandwydte- en netwerkkoste. Nietemin sal selfs apps wat pasgemaak word vir verskillende toestelle sentraal in die wolk gekoördineer word.
Die fenomeen van twee skerms – wat op die oomblik beteken dat mense TV kyk terwyl hulle ook op ’n mobiele toestel bedrywig is – gaan uitgebrei word sodat speletjies en sake-apps meer skerms gebruik, ook draagbare toestelle, om gebruikers se ervaring te verbeter.
8. Apps en infrastruktuur sal deur sagteware gedefinieer word
Programmering van alles – apps tot basiese infrastruktuur – sal al hoe ratser moet word sodat organisasies kan aanpas by die digitale werkmodel. Dit beteken hardeware sal nie meer die kern van alles kan wees nie. Modelle en kodering wat maklik saamgestel kan word, sal al hoe meer gebruik word.
9. IT op webskaal
Al hoe meer ondernemings sal begin dink en optree soos web-reuse soos Amazon, Google en Facebook. Die eerste stap sal sogenaamde DevOps wees – wanneer sagteware-ontwikkeling en die bedryfsafdeling op ’n gekoördineerde wyse saamwerk om apps en dienste vinnig en deurentyd te ontwikkel.
10. Risiko-gegronde sekuriteit
Sekuriteit moenie ’n hindernis tot vordering wees nie. Ondernemings sal al hoe meer besef dat dit onmoontlik is om ’n 100% veilige omgewing te skep. Hulle sal dus al hoe meer gesofistikeerde risiko-ontledingsmodelle skep en veiligheid sal in apps self ingebou word, pleks van deur byvoorbeeld brandmure.