Tot voor die naweek was Etienne Cammaerts ‘n 61-jarige Belg wat doodgelukkig op ‘n plaas in Limpopo gewoon het. Die enkele Google-verwysings na hom was jagpakkette wat hy wêreldwyd bemark het.
Vanoggend, enkele dae later en ‘n dag na daar landswyd groot makietie gehou is om die 100ste afteldag na die Sokkerwêreldbekertoernooi te vier, is daar sowat 200 Google-verwysings na Cammaerts, veral as ‘n foutiewe spelling van sy van wat in die Suid-Afrikaanse media ingesluip het bygewerk word. Hieronder tel verskeie trefslae van Belgiese koerante.
Want Etienne Cammaerts het die naweek deel van Suid-Afrika se omvangryke plaasmoord-statistiek geword. So omvangryk is plaasmoorde nou in Suid-Afrika dat nuwe gevalle nie meer landswyd nuus is nie, en hoofsaaklik die plaaslike media haal.
Commaerts se geval vestig nie net landswyd weer die oog op hierdie euwel nie. Statisties gesproke is om ‘n boer in Suid-Afrika te wees, by tye die gevaarlikste beroep ter wêreld. Tradisioneel word Chinese steenkoolmynwerkers se ongevalle van sowat 133 per 100 000 per jaar as die gevaarlikste beroep ter wêreld beskou, maar op syfers wat periodiek 130 per 100 000 per jaar vir plaasmoorde op boere-egpare bereik, word in die nek geblaas. Voeg hierby die gewone werksverwante ongevalle, en boere in Suid-Afrika beklee die gevaarlikste beroep ter wêreld. Voeg hierby ander misdaad soos verkragting wat met plaasaanvalle gepaard gaan, en die gewone misdaad waaraan boere onderwerp word wat die lonendheid van hul boerdery bepaal, soos vee- en gewasdiefstal, die diefstal van gereedskap en implemente, weidingdiefstal en brandstigting, en ‘n somber prentjie word geskets.
Die regering neig om in al elf amptelike tale te swyg hieroor. In die reël word dit aan opposisiepartye oorgelaat om te veroordeel, met naasbestaandes te simpatiseer, en die probleme uit te wys. Boonop doen alle opposisiepartye nie hieraan mee nie.
Die regering se volstruispolitiek hou vermoedelik verband met ‘n desperate poging om potensiële buitelandse sokkerbesoekers die kous oor die kop te trek. Die regering se mees prominente reaksie op die misdaadsituasie was om Solidariteit te verkwalik oor ‘n verskerpe misdaadbewusmakingsaksie om die regering uit sy sluimerende houding te skud. Baie Suid-Afrikaners het ewe flink aan die doofpot-politiek meegedoen en oormatige verwagtinge gekoester oor die aantal buitelandse besoekers wat tydens die toernooi behoorlik gemelk sou word. Intussen word die aantal buitelanders wat vir die toernooi verwag word deurgaans afgeskaal. Mammon het sy base aan die hakskene kom byt.
Die wêreld is egter nou danksy moderne tegnologie ‘n neutedop, en Suid-Afrika se status as verkragting- en moordhoofsetel van die wêreld staan soos ‘n seer duim uit. Dit lyk nie of die regering rekening gehou het met die beeldskade wat misdadigers aan die land aanrig nie.
Die wrede moord op Cammaerts is die laaste ding wat Suid-Afrika nodig gehad het.
Net omdat die Suid-Afrikaanse regering deur hofsake gedwing moet word om sy eie burgers se belange in die buiteland te beskerm, beteken dit nie dat alle regerings so ongevoelig oor die wel en weë van hul burgers is nie. Om te verneem dat een van jou burgers oorsee vasgebind en keelaf gesny is, is traumaties, veral in Wes-Europa, waar die moordkoers sowat 1 per 100 000 per jaar is teenoor die wêreldgemiddeld, en Suid-Afrika se jongste koers van bykans 40 per 100 000 per jaar. Om dan te bemerk dat die gasheerland skynbaar onaangeraak is daardeur, is skokkend.
светотехническая продукцияАлександр Фильчаков прокурор