Fedsas wen eerste rondte vir Afrikaanse skole

Die Johannesburgse hooggeregshof het ‘n tussentydse bevel toegestaan wat skoolbeheerliggame se reg om ‘n eie taal- en toelatingsbeleid te bepaal, bevestig.

Leerlinge wat vir die volgende skooljaar om plek aansoek doen, se taalvoorkeur sal nie deur die Gautengse Departement van Basiese Onderwys misken word nie.

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) se dringende aansoek is Dinsdagaand deur regter Gregory Wright toegestaan.

Die regter het egter nie redes verskaf vir sy beslissing nie.

Adv. Greta Engelbrecht, wat namens Fedsas verskyn het, het gesê dat die saak nie oor ras handel nie. “Ons woon in ‘n nuwe Suid-Afrika. Afrikaans word nie net deur witmense gepraat nie.”

Paul Colditz, uitvoerende hoof van Fedsas, het die beslissing verwelkom.

Die oppergesag van die reg is gehandhaaf en die administratiewe en burokratiese ingryping in die regte en bevoegdhede van beheerliggame is deur hierdie bevel bekamp, het hy aan Netwerk24 gesê.

Volgens Colditz sal Fedsas se hoofaansoek teen die departement voortgaan.

Phumla Sekhonya, departementele woordvoerder, het gesê die Departement is glad nie gelukkig met die uitslag nie.

Hy meen die verantwoordelikheid vir toegang tot skole berus by die departement, ondanks die hofbevel.

“Dit is leerlinge se grondwetlike reg om in ’n skool toegelaat te word, ongeag die taalfaktor. Taal moenie toegang tot ’n skool troef nie. Ons is glad nie gelukkig oor die uitslag nie.”

Sekhonya het gesê die departement hét die laaste sê wat toelating betref.

Adv. Muzi Sikhakhane Sikhakane SC, vir die departement, het ook volgehou dat die bevel nie ‘n finale besluit is nie.

Die 124 Afrikaanse skole wat glo moet verengels, is volgens Sikhakane deel van ‘n “besprekingsdokument” oor die aangeleentheid.

ANC kom nie grondwet oor taal na nie

Die nasionale regering het tans geen gekoördineerde taalbeleid wat sy gebruik van die amptelike tale reël en monitor nie, het regter Ben du Plessis het in die hooggeregshof in Pretoria verklaar.

Die hof kan nie egter voorskryf hoe dit gedoen behoort te word nie.

In ‘n uitspraak Dinsdag is die minister van kuns, kultuur, wetenskap en tegnologie gelas om dié grondwetlike plig binne twee jaar na te kom.

Die uitspraak kom nadat ‘n prokureur van Brits, Cerneels Lourens, ‘n hofaansoek teen die regering ingedien het.

Adv. Quintus Pelser SC, het namens Lourens opgetree.

Lourens het in 2008 ’n brief in Afrikaans aan die betrokke minister geskryf, wat in Engels beantwoord is.

Terwyl die grondwet kragtens art. 6(4) die burger se reg om in sy eie taal deur die staat bedien te word, voorskryf, word Lourens dié reg ontsê.

Lourens het in sy aansoek ook gevra dat ‘n nasionale taalwet binne 12 maande gepromulgeer word, maar die regter het dit afgewys aangesien dit nie ‘n grondwetlike vereiste is nie

Flip Buys, uitvoerende hoof van die vakbond Solidariteit het aan Beeld gesê dit is “die grootste oorwinning vir Suid-Afrika se tale sedert 1994”.

ресивер воздушный вертикальныйФільчаков Олександр Васильович