Eskom: Elektrisiteit sal dié week ook sukkel

Eskom het Dinsdag aangekondig dat elektrisiteitsvoorsiening vir die res van die week onder druk sal bly.

“As enige van ons kragopwekkers ingee, sal ons beurtkrag moet instel,” het Khulu Phasiwe, woordvoerder van Eskom, gesê. Hy het die publiek versoek om elektrisiteitsgebruik te beperk.

“Ons doen alles in ons vermoë om die kragopwekkers wat tans gediens word, weer in gebruik te stel,” het hy gesê.

Eskom het Maandag aangekondig dat die nuwe Medupi-kragstasie in Limpopo vir die eerste keer elektrisiteit gelewer het. Dit kom vanaf die eerste van die kragstasie se ses eenhede.

Die eenheid sal na verwagting in Junie elektrisiteit begin verskaf aan die nasionale netwerk.

Kusile, Medupi sal teen 2014 krag lewer

Kusile
Kusile

Kusile in Mpumalanga, Suid-Afrika se steenkoolaangedrewe kragstasie kan die eerste elektrisiteit teen die einde van 2014 lewer.

Eskom sê die Medupi-aanleg in Limpopo sal ook teen die tweede helfte van aanstaande jaar begin krag lewer.

Bouwerk aan Medupi is met minstens ses maande vertraag weens arbeidsonrus en die beweerde wanprestasie van kontrakteurs.

Eskom het eers laasmaand ’n belangrike oorwinning behaal wat sy vermoë versterk het om Hitachi Power Africa tot verantwoording te roep vir brouwerk by die Medupi-perseel.

Vyf appèlregters het bevestig dat Eskom daarop geregtig is om waarborge aan te vra wat verseker dat Hitachi sy werk behoorlik en tot die bevrediging van Eskom doen. – Sapa

Geweld breek weer by Medupi uit

medupibrand2‘n Groep van tussen 500 en 1 000 werkers het Woensdagoggend by die Medupi-kragaanleg sonder waarskuwing oproerig geraak, het Eskom bekend gemaak.

Die kragreus het in ‘n verklaring gesê betogers het klippe gegooi en twee voertuie is aan die brand gesteek, maar niemand is beseer nie. Oproermakers het met die polisie gebots.

“Die situasie is onder beheer en die kalmte is herstel,” lui die verklaring.

Die Medupi-kragstasie word naby Lephalale in Limpopo opgerig.

Eskom het gesê die meeste werkers is van die terrein af gestuur, maar die kragverskaffer is besig om werksaamhede sou gou as moontlik te hervat.

Jeremia Makhoto, wat al sedert 2011 by die kragstasie se konstruksieterrein werk, sê spontane stakings gebeur dikwels.

“Sedert Januarie vanjaar het ons die hele maand nie gewerk nie. Ons het vir 20 dae gewerk en het 10 dae lank gestaak.“

Die betoging hou glo verband met ontevredenheid met die toelae wat die werkers ontvang. Daar word tans onderhandel daaroor. – Sapa