Britse premier sê stryd teen ISIS nie teen Islam

Die Islamitiese Staat het volgens berigte in die afgelope jaar meer as 3000 mense in Sirië tereggestel.

Die Britse Eerste Minister, David Cameron het in ‘n parlementêre toespraak die versekering gegee dat hy “ekstremisme” sal verslaan, maar bygevoeg dat nie ‘n stryd teen Islam is nie.

Cameron sê dit is nie ‘n oorlog tussen Islam en die Weste nie, alhoewel ISIS mense daarvan wil oortuig.

‘n Britse menseregte-waarnemersgroep sê net meer as 3000 teregstellings is sedert 29 Junie 2014 gedokumenteer.

Onder hulle is byna 1800 burgerlikes, waaronder 74 kinders.

Die Ministers van Binnelandse Sake van Brittanje, Frankryk, Duitsland en België het intussen by hul Tunisiese eweknie in Sousse aangesluit om ‘n verenigde front voor te hou teen die bedreiging wat die Islamitiese Staat inhou.

Agt-en-dertig mense, onder wie minstens 30 Britte, is verlede Vrydag deur ‘n gewapende aanvaller in Sousse doodgeskiet. Die Islamitiese Staat het aanspreeklikheid vir die aanval aanvaar.

Die Britse minister van Binnelandse Sake, Theresa May sê die ministers het ingestem om hul kennis te deel om die ISIS te beveg.

Die polisie in Tunisië het intussen ‘n groep verdagtes in hegtenis geneem in verband met die skietery.

Die verdagtes het almal bande met die aanvaller wat deur die polisie doodgeskiet is.

Duisende buitelandse toeriste het intussen die land verlaat.

VSA se buitelandse fiasko word net groter

Suid-Afrika se Staatsveiligheidsagentskap sê in sy monitering van aktiwiteite in Irak en Sirië, is hulle nie bewus van burgers wat aan die stryd deelneem nie.

Koerante het die afgelope naweek berig dat 140 Suid-Afrikaners van Gauteng en die Wes-Kaap in Irak en Sirië veg vir die Islamitiese staat van Irak en Sirië (ISIS/IS).

Intussen is die Amerikaanse sekretaris van Verdediging Chuck Hagel, die enigste Republikein in Obama se nasionale veiligheidspan, afgedank.

Volgens Hagel was hy “nooit regtig in daardie baie hegte binnekring in die Withuis wat al die besluite neem oor die debakel waarin die VSA se buitelandse beleid regdeur die wêreld vandag verkeer nie”.

Amerika se buitelandse beleid is onteenseglik ‘n gemors. Maar wie het dan die “besluite” geneem om die “ongelooflike debakel” te skep as dit nie Hagel was nie? Hoekom is hy dan ooit in die eerste plek aangestel as dit nie sý verantwoordelikheid was nie?

Saddam is onttroon en sy Soennie-regime vernietig met groot vermaak en Amerikaanse vertoon, in ‘n flagrante skending van internasionale reg. En vandag is die Islamitiese staat, ‘n barbaarse vertakking van Al-Kaïda, in beheer van Mosoel, Anbar en ‘n derde van Soennie-Irak.

Terrorisme is ‘n daaglikse gebeurtenis, nadat die Amerikaners hul “War on Terror” geloods het. Praat van ‘n totale fiasko!

President Barack Obama het boonop vroeër haastig verklaar dat IS nie ‘n Moslem-organisasie is nie.

Irakse soldate, ondersteun deur die Sjiïtiese milisie en die ­Koerdiese peshmerga, het gister twee dorpe noordoos van Bagdad aangeval om ’n hoofpad tussen die hoofstad en die grens met Iran te probeer beveilig.

Peshmerga en ­weermagoffissiere sê hulle kon vorder tot by Jalawla, 115 km van Bagdad, en ­naburige dorp, Saadiya, wat hulle van die Islamitiese Staat (IS) probeer terugkry, sedert hulle daarvan beheer geneem het.

Tien mense wat soldate, peshmerga-lede en milisie insluit, is in gister se gevegte dood en 32 is gewond, het ’n bron by die Khanaqin-hospitaal aan Reuters gesê. Daar was geen ­onmiddellike syfers vir ­sterfgevalle van IS-­vegters nie.

Irak se Sjiïtiese regering, ­ondersteun deur ­Amerikaanse lugaanvalle, probeer om die IS te stuit sedert dit in in Junie in die hoofsaaklik ­Soenniese ­Moslem-provinsies van ­noordelike Irak bedrywig is.

Verlede week het die weermag ’n maandlange beleg van die land se grootste raffinaderye noord van Bagdad gestuit, maar IS-vegters gaan voort om gebied in die westelike provinsie van Anbar, aangrensend aan Sirië, Jordanië en Saoedi-Arabië oor te neem.

Milisie van die IS het die afgelope twee dae geveg om volle beheer oor die Anbar-provinsie se hoofstad, Ramadi, te neem.

Jalawla en Saadiya is in die Diyala-provinsie geleë wat hoofsaaklik onder beheer van Bagdad se regeringsmagte en Koerdiese peshmerga is.

‘n Senior peshmerga-amptenaar sê die IS se ­teenwoordigheid in Jalawla bedreig die­ ­Koerdies-beheerde dorpe van Kalar en Khanaqin in die noorde, asook nabye damme en olievelde.

Om weer beheer van die dorpe te kry, sal dit ook moontlik maak dat die pad tussen Bagdad en ­Khanaqin, naby die grens van Iran, heropen kan word, het ’n ­sekretaris-generaal van ­peshmerga, Jabbar Yawar, gesê.

Terwyl die Soennitiese IS-mag nog nie tot in Bagdad gevorder het nie, is hulle in beheer van dorpe rondom die Sjiïtiese ­hoofstad en het hulle verantwoordelikheid aanvaar vir ’n reeks bomme in die Sjiïtiese distrikte van die stad.

Intussen het ’n motorbom in die Sjiïtiese stad Yousufiya, 30 km suidoos van Bagdad, die lewens van vyf mense gister geëis, het die polisie bevestig

Gister is ook bekend gemaak dat twee vroue en ’n man in ­Maleisië in hegtenis geneem is, omdat hulle vermoedelik vir IS ­ondersteun. ’n Vier en dertigjarige vrou en ’n 28-jarige man is Vrydag by ’n treinstasie in Kuala Lumpur in hegtenis geneem, volgens dieNew Straits Times. Nog ’n man (33) is by ’n busterminus in ­hegtenis geneem.

Die polisiehoof, inspekteur-­generaal Khalid Abu Bakar, het gesê die verdagtes het glo verskeie ­Facebook-rekeninge waarmee hulle Maleisiërs lok om by die IS aan te sluit of geld in te samel.

Rusland sal ‘n beroep op die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies doen om ‘n formele verbod op die aankoop van olie uit gebiede wat beheer word deur terroriste, te plaas.

Dit sluit olie in wat deur die Islamitiese Staat (IS) se militante gebuit word, het die Russiese minister van buitelandse sake Sergei Lawrof Vrydag gesê.

Duisende vlug voor ISIS-aanslag

Duisende Siriese Koerde het die grens tussen Sirië en Turkye oorgesteek. Tienduisende burgerlikes stroom na Turkye om die aanslag van die Islamitiese Staat te ontvlug.

’n Aanval deur die Islamitiese­ Staat op Irakse­ basisse in twee westelike dorpe het gister­ die lewens­ van minstens­ 17 lede van die veiligheidsmagte­ en 40 jihadi’s geëis.

Die aanvalle het op basisse­ in Heet en Ramadi­ plaasgevind­.

Twintig IS-aanvallers­ is in elk van die twee onderskeie­ aanvalle­ dood. Teen druktyd het vyf jihadi’­s nog skuilgehou­ in ’n gebou in Heet, maar die aanval op Ramadi is met welslae afgeweer

Honderde Siriese Koerde het ook uit die dorp Kobane naby die Turkse grens gevlug, te midde van aanduidings dat vegters van die Islamitiese Staat besig is om die dorp oor te neem.

Vragmotors het burgerlikes uit die dorp ontruim en ambulanse is gebruik om gewonde soldate te vervoer.

Twee vlae van die Islamitiese Staat wapper aan die oostelike buitewyke van Kobane, drie weke nadat die rebelle die dorp onder beleg geplaas het.

Amerikaanse lugaanvalle op die dorp kon nie die Islamitiese Staat se dryfkrag stuit nie.

Die sekretaris-generaal van die VN, Ban Ki-Moon het ISIS se aanslag skerp veroordeel en gesê dit is “barbaars”.

Britte gereed vir lugaanvalle in Irak

Die Britse parlementslede stem Vrydag oor hul land se deelname aan lugaanvalle teen die Islamitiese Staat in Irak.

Die debat sal met ‘n toespraak deur premier David Cameron afskop.

Weens die talle video-opnames van sogenaamde “onthoofdings” is dit waarskynlik dat Britse deelname gestem sal word aangesien hoofopposisiepartye sowel as die regering die lugaanvalle steun.

Cameron het gesê dat IS ‘n “boosheid is waarteen die hele wêreld moet saamstaan. En as die doel vryheid, demokrasie en geregtigheid is, moet Brittanje sy rol speel.”

Blykbaar is die Britse vegvliegtuie reeds gereed om te begin met aanvalle op IS, ‘n militêre veldtog wat “jare kan duur”.

Militantes van die Islamitiese Staat (IS) het in die openbaar ’n menseregte-prokureur in die Irakse stad Mosoel tereggestel om saam te val met die Britse stemmery.

Samira Salih al-Nuaimi is op 17 September by haar huis in hegtenis geneem nadat sy na bewering inskrywings op haar Facebook-blad gemaak het waarin sy krities was teenoor die militantes se verwoesting van religieuse geboue in Mosoel.

Haar Facebook-blad is blykbaar sedert haar dood verwyder.

Volgens die VN se bystandsending in Irak is al-Nuaimi in sjaria-hof verhoor. Sy is glo vyf dae lank gemartel voor sy tot ’n openbare teregstelling gevonnis is.

IS het Mosoel, die tweede grootste stad in Irak, in Junie oorgeneem tydens die groep se oorname van groot dele van die noorde en weste van die land.

Intussen het die Amerikaanse Federale Speurdiens – die FBI – gesê hulle het die gemaskerde man geïdentifiseer wat in ‘n video verskyn waarin drie Amerikaanse gyselaars die afgelope weke in Sirië “onthoof” is, maar hulle gaan nie sê wie dit is nie.

Die geloofwaardigheid van die videomateriaal van die “onthoofdings” is steeds onder verdenking.

Die direkteur van die FBI, James Comey, het in Washington gesê hy gaan nie die man met die mes se identiteit bekend maak nie, maar hy weet wat sy nasionaliteit is.

Hy wou nie verdere besonderhede verskaf nie. Comey wou ook nie sê of hulle glo dat die man, wat lid is van die Islamitiese Staat, self die onthoofdings uitgevoer het nie.

Die aanvanklike ondersoekwerk om die man te identifiseer is glo deur die Britte gedoen.

Kanadese van IS hou Amerikaanse joernaliste aan

Ten minste drie Kanadese burgers, wat by ‘n militante groep in Sirië aangesluit het, was verantwoordelik vir die aanhouding en wrede ondervraging van Amerikaanse joernaliste Theo Curtis en Matt Schrier, het CBC berig.

Intussen het die VSA gesê hulle sal Sotloff se dood te wreek nadat hulle die egtheid van die onthoofdingsvideo bevestig het. Steven Sotloff en James Foley, twee ander Amerikaanse joernaliste, is die afgelope weke kort na mekaar deur jihadiste in Irak onthoof.

Die identiteit van die drie Kanadese is nie bekend nie volgens die Kanadese media.

Met verwysing na bronne, het CBC gesê die drie Kanadese het die Amerikaanse joernaliste ondervra om rekenaarwagwoorde en PIN-nommers te kry.

Die ontvoerders het geld uit die joernaliste se bankrekenings gesteel en ​​en wrede boodskappe aan familielede gestuur waarin hulle voorgee om die gyselaars te wees.

Hulle het ook die kredietkaarte gebruik om elektroniese toerusting te koop op eBay.

Die meeste van dié individue uit Westerse lande het by die Islamitiese staat (IS), voorheen bekend as die Islamitiese staat van Irak en Sirië (ISIS of Isil) aangesluit.

Daar word geraam dat die meeste van die 3000 uit Brittanje afkomstig is.

Curtis en Schrier is aangehou tussen 2011 en 2013. Schrier het glo verlede jaar ontsnap, terwyl Curtis verlede maand vrygelaat is deur die jihadistiese Al-Nusra-groep wat nou IS/ISIS is.

Die Kanadese regering het vroeër beraam dat sowat 130 Kanadese by ekstremiste groepe oorsee aangesluit het. Maar CBC glo dat getalle iewers tussen 200 en 300 mense is.

Hulle is vroeër gewerf om teen Sirië – die laaste oorblywende land waar godsdiensvryheid beoefen word – se “diktatuur” te gaan veg met wapen- en opleidingshulp van die VSA en Brittanje.

Intussen het ‘n voormalige Britse bokskampioen die onthoofding van Amerikaanse joernaliste, Steven Sotloff en James Foley, as ‘n vorm van “vergelding” beskryf wat deur Britse optrede “uitgelok” is.

Anthony Small het Westerse magte vir die geweld belameer wat deur IS (voorheen ISIS) militante gepleeg word. Hy het gesê die Weste het “oorlog verklaar” teen Moslems.

“Ek wil nie sê ‘uitgelok’ nie, want hulle sal sê ek loof terrorisme … Geen staat kan stilsit en toelaat om op hierdie wyse aangeval te word nie.”

Die 33-jarige noem die VSA ook die “United Snakes of America”.

Hy het ook gewaarsku dat Britte terreuraanvalle kan verwag as die Verenigde Koninkryk militêr optree teen IS.

Small se opmerkings kom enkele dae nadat ‘n wit middeljarige Britse ma getwiet het sy wil Christene onthoof. Sally Jones was eers deel van ‘n rockgroep voordat sy na Sirië gereis het om by die Islamitiese Staat aan te sluit.