In Thokoza op die Oos-Rand is ses mense Vrydagnag in hegtenis geneem vir openbare geweld wat verband hou met vreemdelinghaat, sê die polisie. Twee plakkershutte is aan die brand gesteek en 'n aantal mense is beseer.
Ongeveer 50 mense skuil tans by die Thokozapolisiestasie.
Die polisie sê ook die toestand in Diepsloot bly gespanne en buite beheer. Buitelanders is steeds besig om uit Diepsloot te vlug uit vrees vir aanvalle.

'n Nuwe inisiatief is van stapel gestuur deur die Amerikaanse nasionale swemliggaam, USA Swimming. Die rede daarvoor is dat swart kinders in die VSA teen 'n tempo van amper drie keer soveel as die gemiddelde koers verdrink.
Die Zimbabwiese reserwebank het Donderdag ’n Z$500 miljoen banknoot, wat ongeveer vyftien rand werd is, bekendgestel. Dit volg slegs ’n week nadat die Z$250 miljoen noot in gebruik geneem is. Met die nuutste banknoot kan mens ongeveer twee brode koop.