My protesoptog in Londen – perpektief op Afrikanerskap

Ons het so pas teruggekom by die huis ná ‘n besoek aan Londen vandag, om ons stem te voeg by die verwagte duisende ontstoke Suid-Afrikaners wat uit simpatie met ons mense tuis, ‘n protesoptog gehou het vanaf Picadilly Circus tot by die NSA-ambassade op Trafalgarplein.

Die opkoms was klein, ek skat so 500 siele. Waar is die 100 000 Suid-Afrikaners wat in Londen woonagtig is? Die protes was lou. Niemand wou kant kies of dalk, moontlik vir ‘n denkbeeldige iemand aanstoot gee nie. Sommige wou iets skreeu in Afrikaans. Hulle het “Oom Kosie Sukkel Lekker hier in Afrika” twee keer probeer waarvan net die Stem-gedeelte volume gehad het. Daar was selfs ‘n klein opposisie vanuit Engelse geledere. Die hele gedoente versinnebeeld vir my die blankes se posisie in die NSA: ontevrede, maar te rigtingloos en identiteitsloos om enigsins effektief op te tree.

Ek lees in die afgelope week ‘n berig in die Daily Mail, geskryf deur ‘n oud-Engelse krieketkommentator wat weer Kaapstad gaan besoek het. Hy kon nie ophou om die wonderlike ervaring op te hemel nie. Ek gesels die vorige week met ‘n Engelse sendelingdominee wat 7 jaar lank in Zambië gewerk het, nadat hy as jong man ‘n Afrikaanse Bybelskool bygewoon het. Hy het twee kinders in Stellenbosch waarvan een by Maties klas gee. Hy voel dit gaan nie te sleg in die NSA nie en voer aan ons moet net vir so 40 jaar of so vasbyt totdat die bagasie van die verlede agtergelaat is en ons dan in harmonie – alhoewel op ‘n primitiewer vlak – op die Afrika-manier kan saamleef.

Ek maak die volgende veralgemeende stelling: Geen groep ervaar die NSA so fel soos die Afrikaner nie. Afrikaners is immers die groep wat van heersersklas in die Ou Suid-Afrika tot niksseggende minderheidsgroep in die NSA gedemoveer is, met die gepaardgaande verlies aan Afrikaanse onderwys en taalstatus. Al 60 miljoen geskatte inwoners van die Reënboogstaat is onderworpe aan die statisties ondersteunde skokervaring van moord, verkragting, roof, haatspraak en algemene verval, korrupsie en onbevoegdheid, en tog is daar nog massiewe hoop en positiwiteit vir die NSA te vinde onder die meeste ander bevolkingsgroepe buiten die Afrikaner. As ons aanneem dat die statistiek ‘n goeie aanduiding gee van die werklikheid, dan moet die verskil in ervaring in die verskil tussen psiges te vinde wees.

Baie Afrikaners probeer desperaat om die NSA so sleg as moontlik te laat vertoon omdat hulle onder die wanindruk verkeer dat dit ons saak vir selfbeskikking op ‘n manier groter legitimiteit gee. Baie Afrikaners is heeltemal tevrede om deur andere regeer te word mits hulle net erkenning kry en nie misdaadstatistiek word nie. Laasgenoemde houding geld waarskynlik vir die meerderheid blankes.

Ek sê nie ‘n mens moet stilbly oor die vergrype en mislukkings van die NSA nie, maar wel dat Afrikaners ook op ‘n plek moet kom waar ons meer positief kan wees oor ons hele bestaan in die NSA. Ons mag nie vasval en moedeloos word soos wat die NSA rondom ons verkrummel nie. Ons moet die voordeel daarin raaksien: Die NSA bring nuwe geleenthede vir entrepreneurs, dit maak die wêreld oop, dit skep nuwe strukture los van die staat, dit stimuleer nuwe aktivisme vir ons taal, kultuur en Christenskap. Kortom, dit hang van Afrikaners self af om hulle plek in die NSA te vind. Dit gaan vernuf en geld verg wat verdere vernuf verg, maar negatiwiteit gaan dit nie vir ons doen nie. Op ‘n praktiese vlak beteken dit dat ons self vir ons veiligheid, onderwys, energiebehoeftes en dienste sal moet voorsien, los van die staat. Dit gaan organisasie verg en ook beplanning vir die slegste scenario’s.

‘n Nuwe realisme is vir die Afrikaner nodig. Dit moet positief wees, die werklikheid begryp en skeppend wees na gelang van ons eie behoeftes. Dit moet ook verstaan dat ons, die Afrikaner, nie meer spesiaal is as enige van die ander 10 amptelike groepe in die NSA nie. Ons is net spesiaal vir onsself en as ons dus onsself wil behou, moet ons nie net praat nie, maar prakties uitvoer. Hierdie uitvoering moet nie wees ten koste van ander groepe nie, maar gerig op versterking en koestering van ons eie op alle terreine. In ‘n neutedop, het ons ‘n klomp groeipunte nodig geskoei rondom die Orania- en Kleinfonteinmodel. Kan voorstede van Pretoria hulleself so onderling opstel? Wat van ander dorpe? Wat van families en vriende op plase, of ‘n klompie plase saam? Daar gaan en is alreeds noodwendig ongelukkig ‘n groot klomp agtergeblewe Afrikaners aan die NSA opgeoffer, maar ons kan hulle eers weer regtig help, as ons onsself reggeruk het.

As ons met die regte oë kyk, lê daar vir ons ‘n nuwe toekoms en wag. Ons moet dit net visualiseer en realiseer. Hou in gedagte dat die groot honger kom en moontlik ook oehoeroe in een of ander vorm. Moenie net praat nie, maar berei voor, vir jou en jou kinders so goed soos jy kan. Om dit te vermag, sal jy by ‘n groep moet aansluit of self ‘n groep vorm, want alleen gaan jy val in die NSA – jou individuele vryheid in ‘n staat soos dié, is jou doodsvonnis.

ресиверАлександр Фильчаков

Maak 'n opvolg-bydrae