praag.co.za

Kangaroes in Sodom

Written by

in

‘n Pleistergesig van onskuld – bewusteloosheid – dis wat Piet van Bethlehem het, seg oupa Nic.

Piet is natuurlik nie sy regte naam nie, want iemand kan dalk lus raak om te prosedeer.

Reeds op skool – die Landbouskool op Tweespruit, het die pleistergesig handig te pas gekom toe die onnie hulle leer snoei het. Piet het, toe die onnie anderpad kyk, ‘n loot in die hande gekry en die onnie ‘n ordentlike hou gegee, en die loot weggesmyt.

Toe die onnie omkyk staan Piet tussen die ander, heel bewusteloos oor wat die onnie se rumoerigheid kon veroorsaak het. So bewusteloos soos die prez se bewusteloosheid oor die stoornis wat sy kroonprins, Malema, se sangatalent veroorsaak.

Later had hy die bevlieging om ‘n klomp springhase wat hy gevang het, in Johannesburg se spitsverkeer los te laat. Te midde van die chaos en karre wat mekaar stamp, hoor hy iemand uitroep: “Look, baby kangaroo’s!” Piet betrag die spulletjie met ‘n pleistergesig, g’n benul oor waar die springende gediertes vandaan kom nie.

Vertel Groot Herrie, wat landbou swot, daar het werklik iemand springhase VSA toe uitgevoer – as mini-kangaroes.

Herrie is nie verbaas nie. Amerikaners is vreemd. By geleentheid was dit glad mode om troetelklippe aan te hou. Ewe met ‘n hele handleiding oor “toertjies” wat so ‘n troetelklip kan doen, soos van ‘n kussing afrol.

Herrie self gaan maak dat argeoloë en paleontoloë iewers in die verre toekoms kwaai kop krap as hulle op Herrie se erf opgrawings kom doen, want Herrie dra al jare interessante klippe, soos Bethlehem se versteende hout, Parys se rooi graniet, Fauresmith se klipwerktuie en vele meer aan.

Die Herries se erf het nie “inheemse” klip nie. Potklei. Diep potklei. Dus, as daar ‘n klippie op die erf beland wat nou nie iets besonders is nie, gaan dit beddings toe vir bietjie tekstuurverandering.

Hier sal die tuinhulp dit pligsgetrou uithaal, en op die grasperk gooi waar Herrie die grassnyer se lem daarop breek. Of die klip teen Herrie se maermerrie vasskiet. Herrie het dus gemengde gevoelens oor klippe op die erf.

Maar om enige klip as troetelklip mak te maak, dit het Herrie nog nooit oorweeg nie. Die enigste gedomestiseerde klip op die erf is die een in die gang wat die gangdeur moet oophou. Af en toe sal iemand nalatig die klip skuif, en dan, as Herrie die nag deur die slaap gang af gaan om te kyk waarvoor Pumba so blaf, met kaalvoete vir die sokker begin oefen. Dis seer, en verminder Herrie se liefde vir klippe (en sokker).

Maar om terug te keer na die Amerikaners. Hulle kan natuurlik Suid-Afrikaners behoorlik terugkry, deur weer “Prairie dogs” aan Suid-Afrikaners te verkwansel. Baie gaan verbaas wees om die Amerikaners se weergawe van ‘n meerkat, eerder as iets wat aan ‘n hond verwant is te kry. En nee, dis nie van domgeit dat die Amerikaners dit nie “Prairie Cats” noem nie. Die goed blaf wel. Omtrent soos die dassies hier soms maak.

En nee, die Duitsers het nie die “Dasch Hund” uit ‘n dassie geteel nie.

Maar eintlik stuur Herrie die hele relaas af op die vonnis wat die ANC vir Malema opgelê het oor hy Zuma met Mbeki durf vergelyk het. Hy moet onder meer terug “skool” toe om woedebeheer aan te leer.

Die swaarste straf wat iemand Herrie kan oplê is om hom terug te stuur skool toe. Nou, aan die regte kant van 50, kry Herrie soms nog nagmerries dat hy op skool is.

Maar Herrie meen terug skool toe stuur as Malema nie ook Juffrou de Kock as onnie op die koop toe kry nie, sal darem eintlik nie veel werd wees nie. Hy sal byvoorbeeld nie sy “W” vir Wiskunde en “H” vir Houtwerk opgeskuif kry nie. Want sien, die nuwe regering het Juffrou de Kock se slaankrag tot niet gemaak.

En sal Malema seker ook springhase vir klein kangaroes aansien.

Nie dat ‘n dier noodwendig is wat mens dink dit is nie. Boy Louw het by aanskoue van ‘n kangaroe uitgeroep: “Goodness gracious, what a mice!”

Koos, wat onder die invloed van sy Roomse bure wat erg getampteer is deur Koos se Vrydagaande se steak braaiery, tot die Roomse sienings bekeer is.

Met die sakrament seg die priester nog: “You were born a Protestant, you were raised a Protestant, but now you are ‘n Catholic.”

Maar die volgende Vrydagaand kom die steak-geure weer oor die muur. Die bure gaan kyk, en kry Koos wat op die punt staan om sy steak te verorber. Toe Koos die bure sien, besprinkel hy gou die steak met water, en sê: “You were born a cow, you were raised a cow, but now you is a snoek.”

форма справки дляАлександр Фильчаков прокурор

Comments

Leave a Reply