Want sien Max (nie die intelligente een wat so skelms in Jaansberg se dieretuin gevang het nie) was oorsee. En net soos destyds met sy Dakarsafari het hy met sy jongste safari ook weer die kompas kwytgeraak.
Hoe kry ‘n mens meer idealistiese bollie op een bladsy van Rapport geplaas as wat Max vandag reggekry het? ‘n Mens staan ‘n deel van die bladsy aan Antjie Somers, ekskuus, Antjie Sameuls alias Krog af, wat hom na Ethiopië vergesel het.
Presies waar hierdie Ethiopië is waarvan hulle skryf, weet ek, Blik nie mooi nie. Klink eerder of hulle in Utopia was.
Want die Ethiopië wat ek ken, soos onder meer verneem by Ahmahra-kennis wat as vlugtelinge in Suid-Afrika woon, lyk bietjie anders as die een waar Max en Antjie was. En boonop wil hulle ‘n paar ministers en vir Malema saamvat om te gaan kyk hoe dinge gedoen moet word.
Ek is juis so benoud minister Tina lees die artikels, veral Antjie s’n. Dit sou natuurlik ‘n groter ramp wees as die prez dit lees, maar die prez kan skynbaar nie Afrikaans lees nie.
Maar om te lees Ethiopië ken nie juis werkloosheid nie, en dat die armoede oorkom is deur die land in ‘n horde plasies van een hektaar elk te verdeel, en dat dit werk, kan groot skade hier aanrig.
Netnou reken die prez sy planne om armoede te bekamp deur klein plasies van tagtig hektaar uit te deel is lewensvatbaar.
Beide Max en Antjie het op Vrystaatse plase in die omgewing van Kroonstad grootgeword. Nie net tagtig hektaar groot nie. Om te boer in die Oos-Vrystaat, wat ‘n hoër reënval het as by Kroonstad, het ‘n boer ongeveer 300 hektaar nodig om ‘n jaarlikse inkomste van ongeveer gelykstaande as die minimum loon te verdien. Om ‘n idee te gee, een bees het ongeveer ses hektaar weiding nodig.
‘n Mens kan ‘n goeie inkomste op kleiner grond verdien as ‘n mens met tonnels boer en weet wat jy doen. Dan het jy stewige oorbruggingsfinansiering nodig om die elektrisiteit vir die waterpompe en ander goed te betaal tot die produkte markgereed is.
Om op een hektaar ‘n bestaan te kan maak en nog iets vir uitvoer uit te hou, klink eerder of hulle koffiebome diamante as koffie dra. Hul lasdiere, soos kamele en osse wat die ploeë trek, het skynbaar geleer om stof te vreet. Nee, dit sou help as verduidelik is hoeveel gemeenskaplike grond vir die weiding word uitgehou. Nou ja, ‘n man kan natuurlik probeer om koffiebome in die Vrystaat te plant en sy trekkers probeer stof voer.
Wat die reisigers natuurlik nie vertel nie, is wat met die derduisende mense op die een hektaar plasies gebeur as daar weer een van die land se gereelde verwoestende droogtes uitbreek. Dan sit nog ‘n klomp in Suid-Afrika. Ek “dare” ook die prez om te wys wie gaan op ‘n 80 Ha-plasie in die Karoo ‘n bestaan gemaak kry. Net ‘n week dan lyk dit soos Ethiopië in ‘n droogte.
O ja, maar hy reken seker dan kom daar ook strome hulp van die buiteland in.
Ek het ook geleer, soos Max-hulle nou skryf, dat Ethiopië nooit gekoloniseer is nie. Ek het egter ook geleer dat omtrent al die paaie en treinspore waaroor Ethiopië beskik, gebou is terwyl Italië Ethiopië beset het. ‘n Blik Oor-brein is te klein om te verstaan hoekom dit nie as “gekoloniseer” beskou word nie.
Natuurlik is daar ook dele in die artikels waarvan ek hou. Soos ministers wat met ou tjorries ry, en van gewone lugdienste gebruik maak.
G’n so ‘n leegsuig-kleptokrasie soos hier nie.
En Max klink amper soos ‘n volkstater soos hy beduie van Ethiopië, ‘n baie heterogene land, wat ‘n etniese federasie bestaande uit ‘n klomp volkstate is.
Dit Max, is gewoon moderne staatkunde soos wat ‘n mens in Indië kry (anders as naburige Sri Lanka waar ‘n etniese minderheid militêr onder bedwang gebring word), België en so aan. As Malema saamgestuur is om hierna te gaan kyk, het my blikore getuit.
Enigeen wat al bietjie oor Ethiopië opgelees het, sal weet dat die Ethiopiërs baie aansprake maak wat nie gestaaf kan word nie. Een hiervan is dat die afgesette keiserryk afstammelinge van Salomo was – en die keiser ook die titel van “die leeu van Juda” gedra het. Om ook sommer die Ethiopiese aanspraak dat dié land die eerste amptelike Christenland was, as feit aan te bied is miskien minder omstrede, en is ‘n aanspraak waarop Armenië ook ‘n bod insit. Armenië voer sy aanspraak terug na die jaar 303. Ethiopië kan nie ‘n presiese jaartal verskaf nie, maar die benaderde jaartal is …303. Anders as Armenië is die hele bevolking van Ethiopië nooit gekersten nie, en waarskynlik meer as die helfte, veral in die suide, is Moslem en animisties.
Iets wat die tweetal gerus meer van kon vertel, is hoe Ethiopië sy elektristiteitskrisis, wat baie aan dié van Suid-Afrika herinner, aanspreek. Die krisis daar het vroeër aangebreek as in Suid-Afrika. Ongeveer 85 % van Ethiopië se elektrisiteit is hidro-krag. Swak beplanning met die bou van nuwe damme het die proses ingelui, en toe kom die droogte ook.
Die effek was verwoestend op Ethiopië se vervaardigingsektor, want toe daar weer genoeg krag was (net ongeveer 4 % van die bevolking het toegang tot elektrisiteit), was hierdie ligte nywerhede reeds hul buitelandse markte kwyt. Hulle kon nie weer hul voet in die deur inkry nie.
En ja, teen die einde van verlede jaar – sonder droogte – het die probleem hom begin herhaal, en ly die ekonomie jaarliks een persent van sy BNP hieroor skade.
En nee, die tweetal wat so gemeen het Ethiopië het nie juis natuurlike hulpbronne buite die landbou nie – dit het olie en gas in veral die Ogaden en steenkool.
