Die arbeider is sy loon waardig. Deel van die loon, so lei ons uit die Bybel af, is om te kan rus na ons die brood in die sweet van ‘n mens se aanskyn verdien het.
Uit die Bybel ken ons ook die verpligte rusdag – die Sabbat, wat deur die meeste Nuwe Testamentiese Christene na Sondag, tegnies die eerste dag van die week, verskuif is.
Tydens Christus se omwandelinge op die aarde het die klem van ‘n wettiese rusdag sterk verskuif na ‘n dag van afsondering vir God, ‘n dag om te heilig.
Daar is inderdaad ander maniere om die moeë gees te laat rus, die batterye te laai, as om een dag in die week net mooi niks te doen nie.
Die mens se brein en sy liggaam het gewoon ‘n dag nodig wat anders is. ‘n Dag om die fokus te verander, anders kan ‘n mens geestelik uitbrand.
Boonop het Jesus ook die konsep van die kalf in die put ingevoer.
Die mens se gees het egter ook periodiek ‘n sewende dag nodig om te herstel en laai wat nie op ‘n letterlike dag van 24 uur dui nie.
Om ‘n studie te maak oor die presiese konsep van die rusdag op die 7de dag, en watter dag dit moet wees, gaan ‘n mens lank besig hou. In die Ou Testament kon die afleiding wees dat God ‘n dag ingestel het omdat Hy, God, aan ‘n menslike eienskap soos moegheid onderwerp sou wees, terwyl die Nuwe Testament dit duidelik maak dat die rusdag vir die mens gemaak is, en nie die mens vir die rusdag nie.
Ter aanvang oor wat met die woord “dag” verstaan moet word – die Hebreeuse woord Yom wat as “dag” vertaal word, kan ook met ander tydperke soos ‘n seisoen, en selfs ‘n oneindige tyd vertaal word. Hierdie feit word as kernargument in die debat tussen jong aarde kreasioniste (24-uur dae en dus ‘n aarde van ietsie oor 6 000 jaar oud) aan die een kant, en ou aarde kreasioniste en Deïstiese evolusioniste aan die anderkant gebruik. Laasgenoemde se argument word verder versterk deur Psalm 90 en 2 Petrus 3 wat ‘n ”dag” vir God met ‘n duisend jaar vergelyk, en omgekeerd.Boonop was die 1 000 vir die Israeliete ‘n besondere simboliese getal wat ook op die oneindige dui. Vergelyk byvoorbeeld dat God sondes tot in die derde geslag straf (min) maar barmhartigheid bewys aan diegene wat Hom liefhet tot die duisendste (oneindige) geslag.
Antieke Hebreeus het ‘n beperkte woordeskat gehad van ongeveer 8 000 woorde, terwyl Engels, wat onlangs sy miljoenste woord geregistreer het, sowat ‘n halfmiljoen woorde gebruik. Frans het sowat 40 000 gebruikswoorde, steeds veel meer as antieke Hebreeus.
Wat met Yom / dag bedoel word, moet uit die konteks afgelei word.
Fundamentaliste vereenvoudig die 7-daesaak tot twee Bybelse inskrywings – dat God die aarde en die uitspansel in ses dae gemaak het, en die Tien Gebooie waar dié tema herhaal word, met die uitdruklike instruksie dat die Here op die 7de dag gerus het, en daarom mag ons, ons diere en slawe, ook op hierdie dag geen werk doen nie. Terwyl teoloë redelik konsensus het dat die skeppingsdae lang tydperke behels, is dit uit die bepalings van die rusdag duidelik dat die sewende dag wat anders moet wees, ‘n meer letterlike betekenis het. (Vir die luiaard sou dit darem erg gerieflik wees om die ses dae waarin hy moet werk, as letterlike dae op te neem, en die rusdag se “Yom” met ‘n baie langer tydperk te vertaal).
Dit lyk asof die Semiete, onder ander andere, baie lank voor die opkoms van Israel en die geloof in Yahweh, ‘n sewe-dag week gebruik het. Homerus het onder meer as ‘n duisend jaar voor Christus na die sewe dae week verwys waarvan hy in sekere bronne kennis geneem het. Die sewe dae is volgens die meeste aanduidings bereken van volmaan na volmaan (28 dae) gedeel deur vier.
Om dit na die Skeppingsverhaal terug te lei, is ingewikkeld. In die eerste Skeppingsverhaal (wat tweede in die Bybel geplaas is) is daar geen aanduiding van ‘n sewe dae skepping nie. Hierdie skeppingsverhaal dateer moontlik uit die tyd van Dawid of Salomo. Die tweede Skeppingsverhaal, wat uit die tyd van die Babiloniese ballingskap dateer, bevat wel die “detail” van die 6 dae skepping. Dit het ook sy stel probleme soos dat dag en nag voor die son, maan en sterre geskep is, ‘n klaarblyklike aanduiding dat dit nie om letterlike 24-uur dae kon handel nie.
Tog het die Israeliete lank voor die Skeppingsverhaal tot hul religieuse literatuur toegevoeg is ‘n sewe dae week geken, en dat op die 7de dag gerus moet word. Daar is nie tydens die uittog uit Egipte op die Sabbat getrek nie, en manna het ook nie op die Sabbat geval om opgetel te word nie.
Om te bepaal hoe juis die Saterdag as 7de dag bepaal is, is selfs ‘n nog komplekser saak. Daar is ook meningsverskille oor wanneer die Jode ‘n vaste patroon begin volg het om dit wat ons nou as Saterdag ken, as standaard die 7de dag te bepaal.
Ten eerste, as ‘n mens van die skeppingsdae as baie lang tydperke praat, is dit nie moontlik om spesifiek een dag aan ‘n skeppingsdag of die rusdag te koppel nie. Die eerste bepalings van watter dag die eerste of laaste dag van ‘n sewe dae periode gekoppel moes wees, is waarskynlik astronomies bepaal. Ten minste aanvanklik, omdat die werklike astronomiese tydperke nie rondom 28 dae gesinchroniseer is nie, is die “sewende dag” deurlopend verstel, volgens sommige bronne tot in die Na-Christus-era, en het eers gegiet geraak onder die Romeinse invloed.
Om die verskil tussen ‘n kalenderjaar en ‘n astronomiese jaar te oorkom, is periodiek nog ‘n sewe-dag-periode bygewerk, en in ‘n langer siklus nog een. So is bitter na-aan die handhawing van ‘n astronomiese jaar gebly.
Die 7 word ook vanuit die skeppingsduur, maar ook ander bronne as “God se getal” teenoor die ses as die “duiwel se getal” (dikwels word al twee met drie vermenigvuldig), dws uitgedruk as 777 en 666 respektiewelik. Die AWB se “hakkekruis” is in werklikheid drie 7’s wat om mekaar aangebring is, en is bedoel om verbondenheid aan God-drie-enig te betuig.
Dit blyk dus dat die onderhouding van die rusdag as sewende dag dui op ‘n aanduiding van periodieke rus, eerder as ‘n nodigheid om te probeer bo alle twyfel vasstel watter dag nou in die besonder die 7de dag sou wees.
Die Christelike gebruik van om Sondag as die 7de dag te heilig spruit uit die grondkonsep dat Christus op die Sondag – die derde dag – uit die dood opgestaan het.
Vandag is daar velerlei wette, veral arbeidswette, wat werkers teen uitbuiting beskerm. In die Ou Testamentiese tyd sou slawe en lasdiere waarskynlik nie maklik kans gekry het om te rus as dit nie vir die streng aard van die Tien Gebooie hieroor gewees het nie. “Dan mag jy nie werk nie, nie jou slaaf of jou donkie…” En God sal die oortreder nie ongestraf laat bly nie.
Mense verskil – sommiges se werk en lewensomstandighede stel nie baie emosionele eise nie, en is ‘n gedwonge rusdag – en terselfdertyd geleentheid om kerk toe te gaan – na-aan voldoende lafenis. Sodoende is daar meer gesinstyd, en tyd vir oordrag van waardes na die volgende geslag.
Ander mense se eie ingesteldheid, of hul werksomstandighede, verg egter ook daardie periodieke “Sabbatsweek.” Soos wat die Sabbatsweek die jaar en kalender weer in pas moes bring, dien hierdie Sabbatsweek as herlaaitydperk vir terapeute en beraders wat hul pasiënte se probleme aantrek. Geen berader gaan hond-haaraf maak as hy voltyds apaties staan teenoor sy pasiënte se kwellinge nie – maar dit kan mettertyd ook te veel vir selfs die breedste skouers word.
Die Sabbat(sweek) is vir die mens gemaak. Om ‘n goeie rede.
Weens die Ou Testamentiese “voorskriftelikheid” word baie hiervan deel van selfs die moderne psige en verstaan van die karakter van die rusdag.
Iemand wat op ‘n Sondag sy gras sny of planke met ‘n kragsaag saag, gaan meer waarskynlik ‘n klag van geraasbesoedeling of rusverstoring op die lyf loop as een wat dit op ‘n ander dag doen al is daar heelwat meer buigsaamheid van die dae toe visvang op ‘n Sondag in die Vrystaat wetlik verbied was.
(Ja, soos die grappie gelui het, God straf die visse wat dit waag om op Sondae te gaan swem).
Van die ou mense vertel hoe bitter hulle op Sondae met hul siele onder die arm opgeskeep gesit het, want die ou mense rus, en maak een van die jonges ‘n geluid, is daar (vermoedelik eers die Maandag) ‘n geween en die gekners van tande. Want die Bybel sê jy moet rus, en as jy rus, kan jy nie raas nie.
Vandag is daar selfs banke oop. Al hoe meer inkopiesentra verplig hul huurders om, ter wille van die ankerhuurder, op Sondae bykans volwaardige sake-ure oop te wees. Om seker te maak dat dit ernstig opgeneem word, word huurders verplig om ‘n sekere personeelsterkte, vergeleke met gewone werksdae, op die perseel te hê. Groot byeenkomste wat op Sondae plaasvind is algemeen.
Hierteenoor is Sondae in Duitsland oor die algemeen sake-gewys doodstil. In Nederland is daar ‘n harde gespook om die aantal “handelsondae” uit te brei. ‘n Nederlandse immigrant wat onlangs by familie in Nederland gaan kuier het, vertel dat as die huishouding se melk in groot dele van Nederland op ‘n Saterdagaand opraak, sit die gesin gewoon tot Maandag sonder melk. Daar is nie ‘n plek oop wat Sondae melk verkoop nie.
Geen twee mense sal presies dieselfde aanvoeling hê oor wat op ‘n Sondag geoorloof is, en wat nie. Geen mens se opvattings sal van sy kindertyd tot sy oudag dieselfde wees nie.
Opsommend is Sondae die een dag in die week wat vir God afgesonder is. Dit staan egter steeds in die konteks van “bid sonder ophou,” dus dat ‘n mens nie net op Sondae “aanskakel” om ‘n Christen te wees nie.
En almal het rus nodig – dit kan net sowel op Sondae ingehaal word.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.