Almal was dit agterna eens dat gister 'n merkwaardige dag was. Reeds tydens sy openingstoespraak het Zuma heel ander geluide gemaak as wat ons tot dusver van die ANC te hore gekry het. Hy het Afrikaners geprys vir hul bydrae tot die ontwikkeling van die land en erken dat hulle 'n unieke rol in die totstandkoming van die land gespeel het.
Trouens, soms moes 'n mens jouself knyp om seker te maak dat jy hoor wat jy hoor, want by tye het dit selfs geklink asof Zuma meen apartheid was ná alles nie so 'n groot sonde nie. Geen wonder die DA het Zuma agterna gekritiseer vir sy verklaring dat Afrikaners die enigste ware blanke Suid-Afrikaners is nie. Want indien Zuma 'n blanke was, sou hy sekerlik deur die DA as rassis uitgekryt gewees het weens sy stellings oor apartheid waarvan hy sommige aspekte as "innoverend" beskryf het.
Blykbaar het die hele geleentheid die ANC – en seker indirek die belastingbetaler – R500 000 uit die sak gejaag, met 'n smaaklike middagete wat voorgesit is. Dis seker gelykstaande aan die jaarlikse begroting van sommige Afrikaanse organisasies wat teenwoordig was, maar wat een en almal opgeruk het om hul sê te kom sê.
Sommiges, soos die ATKV en Afrikanerbond, was voorspelbaar polities korrek en het bloot hul clichés oor "diversiteit" en "diensbaarheid aan die regering" herhaal, maar die meeste organisasies het kritiek teenoor die ANC-leier uitgespreek, sonder om doekies om te draai.
Deur die bank het almal gevoel dat regstellende aksie onregverdig is en dat geweldsmisdaad 'n onhoudbare probleem geword het. Diskriminasie teen en miskenning van Afrikaans het ook gereeld op die klagtelys verskyn en sowel Jacob Zuma as Matthews Phosa moes deeglik kennis neem van Afrikaners se besorgdheid oor hul taal, hul skole, universiteite en ander instellings wat onder die ANC so gruwelik verwaarloos of verengels word.
Zuma is 'n goeie spreker wat die gehoor oortuig het dat hy nie bloot met 'n publisiteitsfoefie besig is nie, maar werklik die staat se vyandigheid en overskilligheid teenoor Afrikaners wil omkeer. Hy is ook 'n diplomaat wat die soms skerp kritiek teen die ANC-bewind rustig en met begrip aangehoor het. Izak Burger van die Apostoliese Geloofsending het hom veral gekasty oor sommige van sy uitsprake waarin hy na bewering die Here Jesus se naam ydellik gebruik het deur byvoorbeeld te sê dat die ANC "tot Jesus kom" gaan regeer. Hoewel sy antwoord nie heeltemal oortuig het nie, het Zuma tog getoon dat hy sensitief is vir die Afrikaner se godsdiensgevoel, homself insgelyks as 'n Christen beskryf en om verskoning gevra indien sy uitlatings aanstoot gegee het.
Ook die nuwe wapenwet is geopper, onder andere deur PRAAG, en daar is gevra of ons dan krygsgevangenes is wat in die tou moet staan om ons wapens prys te gee.
Dr. Koos Malan van die Regslui vir Afrikaans het heeltemal korrek opgemerk dat Zuma nie die Afrikanerstem nodig het om 'n meerderheid te behaal nie. Daarom was hy nie besig met 'n verkiesingsveldtog nie, maar het wel tot dusver blyke van opregtheid gegee in sy bereidheid om na Afrikanerprobleme te luister. Volgens Malan toon Zuma hiermee leierskap, wat nie noodwendig tydens die Mbeki-tydvak gegeld het nie.
Ekself het 'n verdere pleidooi gelewer dat ons 'n eie Afrikaneronderwysowerheid moet verkry waardeur die oorblywende Afrikaanse staatskole, asook een of twee universiteitskampusse, aan Afrikaners oorgedra behoort te word.
'n Woord wat telkens opgeduik het en aanvanklik deur Matthews Phosa gebruik is, was "hardegatgeit". Die gevoel was dat die sogenaamde "hardegat-Afrikaner" juis respek afdwing en nou weer na vore moet kom. Daar is nie na die teenoorgestelde figuur van die "kruipende Afrikaner" verwys nie, maar dit was opvallend dat daar nie meer, soos onder FW de Klerk en Roelf Meyer, 'n verskonende en onderdanige houding teenoor die ANC ingeneem word nie, maar reguit gepraat word deur die meeste organisasies wat teenwoordig was.
Aan die einde het Zuma 'n staande toejuiging van die afgevaardigdes ontvang, wat myns insiens geregverdig was. Waarskynlik neem Zuma 'n bepaalde risiko om so tegemoetkomend teenoor Afrikaners op te tree, terwyl sy linkervleuel, waaronder die Engelse radikales in sy party, steeds van hom verwag om Afrikaners eerder te ondergrawe as om met begrip na hulle te luister. Ook die buiteland, in die vorm van Brittanje en die VSA, kan beswaarlik beïndruk wees dat hy as't ware die Afrikaner, wat as sondebok vir die Weste se koloniale sondes gebrandmerk is, gerehabiliteer het deur ons nie meer as mense wat 'n sogenaamde "misdaad teen die mensdom" gepleeg het te behandel nie. Sekerlik stik menige Britse of Amerikaanse liberalis vandag in sy oggendtee deur Zuma en die Afrikaners so gesellig saam te sien kuier.
Zuma het veral sy waardering vir Afrikanerlandbou uitgespreek en heel moontlik kan ons 'n nuwe benadering teenoor ons boere van die inkomende ANC-bewind verwag.
Aan die einde het die ANC-president, wat na alle waarskynlikheid Suid-Afrika se volgende president gaan wees, belowe dat gister se gesprek 'n permanente forum moet word waar Afrikanerprobleme gereeld geopper kan word.
Ironies genoeg is Zuma besig om ook op 'n manier die Afrikaner te verenig, ná al ons onderlinge verdeeldheid en politieke gevegte van die afgelope dekades. Nie alle organisasies was gister teenwoordig nie, maar gegewe die breë spektrum wat wel daar was, kan ons sê dat ons uiteindelik oor 'n verteenwoordigende vergadering beskik. Al is die sameroeper dan ook 'n Zoeloe wat van korrupsie verdink word.
Selfs al kom daar niks verder van gister se vergadering nie – en alle aanduidigings is dat ons wel op die vooraand van 'n nuwe Afrikaner-ANC-politiek in Suid-Afrika verkeer – het Jacob Zuma dus reeds die byna onmoontlike reggekry: om sulke uiteenlopende Afrikaners in een saal bymekaar te kry.

Afrikaanse organisasies van oor die hele spektrum, vanaf die mistiek regse Boerevryheid van dr. Lets Pretorius, tot die politiese korrekte ATKV met Danny Titus aan die stuur, het gister in die Hilton-hotel in Sandton hul harte uitgestort teenoor die ANC-leier, Jacob Zuma.