’n DA-raadslid van die Kaapse metro, Pat Hill, bevind hom midde-in ’n Boerehaatherrie rondom ’n sms wat Saterdag vanaf sy selfoon uitgestuur is waarin hy praat van Helen Zille se verkiesing as “die finale spyker in die Afrikanerdoodskis”.
Die presiese bewoording van die sms lui: “The final nail in the afrikaner cofin, w’ll get (rid) of them after the confrce. Vote right!”
Dis bekend dat spanninge tussen Afrikaners en liberale Engelse in die party hoog loop en dit ly geen twyfel dat Hill se “stem reg!” ’n stem vir Zille beteken nie.
Intussen word die sms nou in DA-geledere rondgestuur, met onsteltenis wat onder Afrikaanse partylede heers.
Volgens een Afrikanerlid van die party gaan Hill dissiplinêr binne die party vervolg word vanweë die gewraakte sms. Daar bestaan ’n beleidsreël in die DA wat die saai van onmin of verdeeldheid binne die party verbied.
PRAAG is tans besig om ’n verklaring oor die aangeleentheid voor te berei.
‘n Vuurwarm debat woed in die blaaie van Die Burger en op LitNet n.a.v. ‘n stuk wat dr. Dan Roodt agttien maande gelede hier op die Praagwebwerf geskryf het, Is Loammi Wolf ‘n dom of demoniese linkse?
Die vraag is of die Engelse tydens die Tweede Vryheidsoorlog Boerevrouens en -meisies verkrag het, aldan nie. Max du Preez en ander ontken dat dit ooit plaasgevind het, terwyl historici die teenoorgestelde mening huldig.
Op die spel is nie net ‘n onsmaaklike feit aangaande ‘n oorlog honderd jaar gelede nie, maar of die Afrikaner wel die monster van die SA geskiedenis sou wees soos hy dikwels in Engelse kringe voorgestel word en of die Engelse nie dalk groter monsters is nie, veral in die lig van hul meer onlangse propagandaveldtog teen die Afrikaner wat daarop uit was om die Afrikaner as Nazi en volksmoordenaar voor te stel.
In nog ‘n plaasmoord, is die 55-jarige Susan Bristow eergister met ‘n tuinvurk op haar plaas naby Louis Trichardt vermoor. Volgens ‘n polisiewoordvoerder op die dorp is haar lyk in ‘n watertenk gevind met steekwonde van die tuinvurk.
Bristow het blykbaar Sondagaand hulp probeer ontbied oor ‘n burgerbandradio. Wie op haar hulpkreet gereageer het, is nie bekend nie.
Haar hond is insgelyks met die tuinvurk van kant gemaak.
Die dagblad Beeld berig dat die gemeenskap in die Witvlag-gebied waar die moord plaasgevind het, geweldig geskok is. “Dit is ‘n baie, baie wrede moord, ons almal is erg geskok,” het mnr. Tobie van den Heever, voorsitter van die Witvlag-plaaswag, gister gesê.
Nietemin is dit die eerste plaasaanval in dié gebied vanjaar. Sowel op die dorp van Louis Trichardt as in die distrik word ‘n dorps- en plaaswagte bedryf ten einde sulke voorvalle te voorkom.
Sover die polisie kon vasstel, is niks gesteel nie en geen arrestasies het nog plaasgevind nie.
Hoe raak die jongste demografiese tendense Afrikaanse skole en universiteite? Hierop het prof. Flip Smit, demograaf en oudrektor van die Universiteit van Pretoria, in ’n lesing in Bloemfontein ’n paar antwoorde verskaf.
Vooraf ’n paar syfers. Ons huidige bevolking van 47,3 miljoen sal vanweë die afname in die geboortekoers, meer sterftes aan vigs en vigsverwante siektes en veroudering stadig toeneem en teen 2021 sowat 51 miljoen beloop.
Wit mense het die vervangingsvlak (2,1 geboortes per vrou) in 1990 bereik, die Asiërs in 1999. Die bruines sal dit teen 2010 en die swartes teen 2035 bereik. Die jaarlikse geboortes sal dus tussen 2001 en 2010 by wit mense daal van 72 380 tot 59 697, en by bruines van 84 281 tot 73 205.
Onder alle groepe is sterftes aan die toeneem. By wit mense styg dit van 50 000 in 2001 tot 63 000 in 2009 vanweë MIV/vigs, veroudering, toenemende werkloosheid en swakker toegang tot gesondheidsdienste. Daarby kom ’n verlies weens emigrasie. Bykans ’n miljoen wit mense het sedert 1990 die land permanent of tydelik verlaat. In dieselfde tyd het tussen 8 en 9 miljoen vreemdelinge die land binnegestroom.
Binnelands verskuif die bevolking. Die verskuiwing uit die Oos- na die Wes-Kaap bedreig Afrikaans se posisie as dominante moedertaal in die Wes-Kaap.
[…]
Dit alles bedreig Afrikaansmediumskole. Deeglike beplanning is nodig om te verseker dat Afrikaans as onderwysmedium voortbestaan. Smit sê Afrikaanstaliges presteer uitstekend en hy pleit dat die prestasies van moedertaalleerlinge nie benadeel moet word deur hulle te verplig om op skool of universiteit na Engels oor te skakel nie. Moedertaalonderwys is een van die hoekstene van gehalte-onderrig.
Hy noem regstellende aksie nie by die naam nie, maar sê pogings om die Afrikaanstaliges se intellektuele vermoëns te beperk of hulle te ontmoedig deur die nie-toekenning van studiebeurse of beperking op werkgeleenthede, gaan die land duur te staan kom.
Tussen 1993 en 1996 het ongeveer 60 000 wit studente uit hoër onderwys verdwyn. Vir sommige was die verandering van die kampusse se karakter en etos net te veel. Hulle het by private instellings ingeskryf, oorsee gaan werk of hul ouers daarheen gevolg.
[…]
Dis ontstellend dat die aantal Afrikaanse nagraadse studente by vier HAU’s daal. Net by Stellenbosch is daar ’n geringe toename. Smit sê hy is bewus van talentvolle nagraadse studente wat in die buiteland studeer. Hulle vrees dat standaarde aan Suid-Afrikaanse universiteite toenemend bevraagteken sal word.
As hulle moet padgee weens regstellende aksie, sal buitelandse kwalifikasies hulle groter toegang tot internasionale werkgeleenthede gee.
[…]
Dis ’n duidelike boodskap vir die HAU’s: Afrikaanstaliges stel Afrikaans as voertaal hoog op prys. Daarvan moet Afrikaanse politici en akademici kennis neem wat polities korrek so aanhou pleit vir nóg ingrypender transformasie, meer swart gesigte in die personeel en in rektorstoele – alles dinge wat ten koste van Afrikaans sal geskied.
Dr. Dan Roodt van PRAAG verduidelik op die KykNET-program "Wat’s die storie" waarom die braaivleis met Jacob Zuma wat verlede week plaasgevind het hom opgewonde maak.
IS blanke Afrikaners nie meer welkom by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln), die hartklopvan die Afrikanerdom in Bloemfontein, nie?
Wat gaan hier aan, wil lede van twee Afrikaner-organisasies weet wat nie meer toegelaat word om vergaderings hier te hou nie: die Bloemfonteinse Skrywersvereniging en Dames Perspektief.
Die bestuur van Naln het vroeër besluit om ‘n Sotho-museum by Naln in te sluit.
‘n Paar vertrekke is reeds daarvoor ingerig. Daar is ook nou ‘n bord by die hek aangebring om te sê dat hier ‘n Sotho-museum vir die Sotho’s se taal en kultuur op die been gebring word.
Van die personeellede is glo bekommerd omdat hulle gehoor het dat sommige van hulle van Naln weggeskuif gaan word.
Mnr. Stoffel Cilliers, voorsitter van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging, sê sy vereniging het 30 jaar by Nain vergader.
Die Vrystaat-skryfkompetisie word jaarliks sedert 1979 saam met Naln aangebied en die landwye skryfkompetisie sedert 1989. Hy sê in die verlede was dit nooit nodig vir die Bloemfonteinse Skrywersvereniging om aansoek te doen om hul twee kwartaallikse vergaderings (agt per jaar) hier te hou nie.
Mnr. Otto Liebenberg, kurator van Naln, het egter gesê dat skriftelik aansoek gedoen moet word en dat hy met die aansoek ‘n voorlegging aan sy hoofde moet gaan doen.
"Ons het einde Januarie ons aansoek ingedien. Later moes ons deur Liebenberg hoor dat daar nie ‘n beleid bestaan dat organisasies hier kan vergader nie en dat ons nie langer hier sal kan vergader terwyl die restourasiewerk by Naln aan die gang is nie, omdat daar ‘n ongeluk kan gebeur en iemand kan seerkry." Ons Stad verneem egter elders personeel werk daagliks in die gebou op die plek waar die Bloemfonteinse Skrywersvereniging sy vergadering gehou het en dat daar intussen ook al vir ander instansies kans gegee is om hier te vergader.
Cilliers sê die slegte nuus was onverwags en hulle moes skielik die tweede vergadering van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging van vanjaar by die Noorderbloem-aftreeoord hou, omdat hulle nie ‘n heenkome gehad het nie.
Lede van Dames Perspektief het vroeër teenoor Ons Stad hulle misnoeë uitgespreek omdat hulle. nie meer by Naln vergadering mag hou nie.
Hulle moes ook na die Laerskool Universitas en Bains Game Lodge vir vergaderings uitwyk.
Hulle vergader ook al jare by Naln en dieselfde redes is ook vir hulle organisasie gegee oor hoekom hulle nie daar kan vergader nie. Hulle is skepties en ook ontsteld, omdat hulle Naln koester.
Ons Stad verneem die musiekgedeelte by Naln is reeds verskuif en ‘n verskraalde vorm daarvan is behou.
Allerhande vreemde skuiwe wat plaasvind, wek die indruk dat die Afrikaner se kultuurhistoriese skatte wat hier veilig bewaar word, nou bedreig word.
Diegene wat weet wat regtig aangaan, is bang om te praat.
Voorste Afrikaner-leiers van die stad het reeds glo al begin brief skryf.
Vrae word gevra.
Almal dink nog met heimwee aan wyle prof. Petrus Nienaber, dinamiese Afrikaner-leier en voormalige hoof van Museumdienste in die Vrystaat, onder wie se voortreflike leiding die kultuur-historiese skat tot stand gebring is.
Respek vir mekaar se taal en kultuur is eintlik wat nodig is. Liebenberg (kurator) is om kommentaar gevra, maar hy het Ons Stad na mev. Rachel Sempe, hoof van die departement sport-, kuns- en kultuur waaronder die museumdienste val, verwys.
Sempe sê sy was gister die hele oggend by die LUR en het nie genoeg tyd gehad om die drie e-posse en faks met twee vrae van Ons Stad te bestudeer nie.
Sy is besig met ‘n herstruktureringsproses en het teen druktyd steeds die LUR in haar kantoor gehad. Sy sal later vir Ons Stad presies sê wat hier aan die gang is.
Sy wou ook weet waar Ons Stad aan al die inligting kom: Hoekom praat mense met die koerant en nie eers met haar nie?
Die Noord-Transvaalse dorp Louis Trichardt, wat reeds drie jaar lank met ’n hofstryd teen ’n naamsverandering besig is, het so pas in die Appèlhof in Bloemfontein gewen, met koste. Die ANC-distrikstadsraad gaan daarom genoodsaak wees om alle borde met die naam "Makhado" op eie koste te verwyder en "Louis Trichardt" te herstel.
’n Volbank van vyf regters het oor die saak gesit wat deur die Louis Trichardt-voorsittersvereniging teen die minister van kultuur, Pallo Jordan, en ander aanhangig gemaak is. Volgens die vereniging op die dorp, is minder as een persent van munisipale inwoners oor die naamsverandering geraadpleeg.
Inwoners op die dorp is verheug oor die beslissing, wat as ’n deurbraak in die stryd teen provinsiaal afgedwonge naamsveranderings beskou word. "Ons is so bly," het een inwoner gesê, en bygevoeg dat sy ook wil sien dat die winkelsentrum wat onlangs opgerig is, "Makhado Crossing" sy naam na "Louis Trichardt-kruising" moet verander.
Advokaat Sam Maritz, S.C., vir die staat, het in Bloemfontein aangevoer dat inwoners wel geraadpleeg is, hoewel daar net een vergadering gehou is wat sleg bygewoon is en boonop ’n dag voor die aangekondigde datum plaasgevind het. Maritz het ook gemeen dat minister Pallo Jordan heeltemal korrek opgetree het in terme van “transformasie” en dat raadpleging met inwoners eintlik nie nodig is nie.
By die vorige hofsitting in die Transvaalse Hooggeregshof in Pretoria, het die hof die staat se argument dat daar geen wet was wat die minister verplig het om enigeen oor die naamsverandering van ’n dorp te raadpleeg nie, aanvaar. Daardie bevinding is nou vewerp en die besonderhede van vanmôre se uitspraak word afgewag.
Volgens ’n lid van die voorsittersvereniging, is “die stryd egter nog nie gewonne nie want die arme ANC wat nog nooit geleer het om met waardigheid te verloor nie, sal weer die proses aan die gang sit. Maar ons is reg vir hulle”.
Die inwoners van Louis Trichardt is bekend vir hul strydvaardigheid en gemeenskapsin. Oor die afgelope jaar het die buurtwag in die dorp misdaad met 95% laat daal, ’n prestasie wat in misdaadgesteisterde Suid-Afrika ongehoord is.
Ek was toe gisteraand by die Zuma-Afrikaner-braaivleis, maar het niks gebraai nie. Ons gasvrou, Elzilda Becker van De Kat, het vooraf aangedui dat die drag “tradisioneel” sou wees. Dit stel mens altyd voor ‘n dilemma.
Zuma, Steve en Leon Schuster by die braaivleis
Wat is tradisionele drag vir ‘n Afrikaner? Is dit ‘n opslaanhoed soos uit die Anglo-Boereoorlog met ‘n Volkspele-onderbaadjie of is dit dalk ‘n aandpak? In Etienne le Roux se roman Sewe dae by die Silbersteins wonder Henry van Eeden wat hy vir die partytjie, die “Ballet van die Boere”, moet aantrek en kom in ‘n safaripak aan. Maar daar staan al die Boere in aandpakke. Want, verseker die verteller ons, “die Boere is die aristokrasie van die land”.
Ek pypkan dus die kleredragdilemma deur ‘n neutrale donker broek, pienk hemp en swart kleurbaadjie aan te trek. Tot my verligting het Jacob Zuma ook nie opgedaag in luiperdvel met ‘n knopkierie en assegaai nie, eerder ‘n pastelkleurpak waarvan mens in die skemer moeilik die spesifieke skakering kan onderskei.
Mandela woon in Houghton en dis ook waar die braaivleis plaasvind, in die tuin van ‘n mooi ou huis in dié statige voorstad van Johannesburg. “De Kat se kantore is in die buurt,” verduidelik Elzilda. Soos ek reeds laat blyk het, is dit geen bier-in-die-hand-braaivleis nie, eerder ‘n soort tuinparty tussen bome wat met vrolike liggies gedrapeer is. Maar ons eet pap en wors en biefstuk en tjops en slaai.
Zuma se aankoms geskied met flitsende blou ligte in die parkeerruimte (darem geen sirenes nie) en sy twaalf lyfwagte vergesel hom. Elzilda verwelkom hom hartlik; Steve Hofmeyr groet hom soos ‘n ou vriend en Leon Schuster is ook byderhand vir ‘n grappie of twee. Ek en Zuma skud hand; dis ons tweede ontmoeting na die vorige keer aan sy huis in Forest Town, tussen Westcliff en Parktown.
Aanvanklik sit ek oorkant Zuma aan die lang tafel en raak oombliklik verstrengel in ‘n hewige politieke argument met my buurman, ene Rudi wie se van ek nie onthou nie. Hy is pessimisties oor Suid-Afrika se toekoms en het sy seun aangeraai om die land te verlaat. “Hierdie is ‘n geveg wat ons nie kan wen nie. Die getalle is teen ons,” meen hy. Die vreemdste ding is dat Rudi al die media-clichés oor apartheid en wit skuld gesluk het, maar hy voel magteloos weens geweldsmisdaad en regstellende aksie. Ek probeer hom oortuig dat die toekoms nie noodwendig soos die verlede lyk nie, dat die wêreld snel verander en dat die Afrikaner reeds besig is om plek-plek in die land homself te laat geld.
Roodt en Zuma by kerslig
Gelukkig tree Liesl Göttert tussenbeide en dis my beurt om oorkant die tafel langs mnr. Z, soos Liesl in haar sms’e na hom verwys, te gaan sit. Die rooiwyn vloei saam met die braaivleis en nou kry die gesprek ‘n veel meer politieke kleur. Regstellende aksie en naamsveranderings word geopper. Kallie Kriel van Solidariteit sit ook oorkant die tafel en kla oor Pallo Jordan se arrogansie sover dit Pretoria se naamsverandering betref. Zuma bly diplomaties en verduidelik dat sekere individue besig is om die harmonie in Suid-Afrika te versteur.
Vroeër is daar ook na Marthinus van Schalkwyk se aanstelling in die kabinet verwys, wat niks gedoen het om Afrikanerontevredenheid te verlig nie. Trouens, die meeste van die partytjiegangers beaam dit dat Marthinus as ‘n verraaier beskou word.
“As ek u reg verstaan, mnr. Zuma, sal Pallo Jordan en Marthinus van Schalkwyk dus nie in u kabinet dien as u president sou word nie,” haak Kallie Kriel af. Zuma grinnik maar net en gee ‘n diplomatiese laggie.
Nietemin bied Zuma ‘n lang regverdiging vir regstellende aksie deur na werkresevering in die vorige bedeling te verwys. Ek gooi ‘n klip in die bos deur voor te stel dat ons ‘n prys moet stel op “benadeling in die verlede” en blankes ‘n eenmalige bedrag belasting daarvoor moet betaal. Dit kan ‘n interessante oefening wees om die bedrae belasting wat in die verlede op swart onderwys en gesondheidsdienste bestee is in berekening te bring as die skade van apartheid beraam word.
“Nee,” meen Zuma langs my. “Ek sal daarteen gekant wees.” Swartes moet in bestuursposisies aangestel word sodat daar groter balans in die land kan kom.
“Maar mnr. Zuma,” vra ek nou ‘n teenvraag, “die minister van arbeid, Mdlalana, het onlangs gesê daar sal altyd regstellende aksie wees. Stem u saam met hom of behoort daar ‘n afsnydatum te wees?”
“Nee, daar behoort ‘n afsnydatum te wees,” antwoord hy. “Die probleem met regstellende aksie is dat dit in Amerika ontwerp is vir ‘n minderheid. Hier in Suid-Afrika word dit toegepas op ‘n meerderheid mét politieke mag. Daarom kan ek verstaan as die Afrikaners en ander minderheidsgroepe ongelukkig daaroor voel.”
Dis sulke antwoorde wat verklaar waarom ‘n groepie Afrikaanse aktiviste en kunstenaars met Zuma braai en nie, soos prof. Willie Esterhuyse se Afrikanersake-elite, met Mbeki tee drink nie. Mbeki is ver heen sover dit Afrosentrisme en die hele ideologie van ingevoerde Amerikaanse rassenasionalisme betref. Hierteenoor is Zuma meer Zoeloe-nasionalis as Afrosentris, meer gemoedelike populis as Machiavelliaanse politieke skaakspeler soos Mbeki.
Nog iets: Zuma drink rooibos. Vandat ek nie meer koffie drink nie, is ek ook ‘n rooibosman. Trouens, ek het al begin eksperimenteer om espresso-rooibos tuis te maak. Dus het Zuma al dié Boeredrankie ook oorgeneem.
Leon Schuster het eers ‘n soort partytjiegrappie vir Zuma: hy maak asof hy ‘n vol teekoppie oor hom gaan uitstort, maar die koppie is leeg en hy het ‘n teelepel deur die koppie se oor gehaak om te sorg dat dit nie op die grond beland nie al val dit oënskynlik van die piering af. “Nog een van jou truuks!” lag Zuma.
Waarom stel Zuma in die Afrikaners se klagtes belang? Volgens hom is elke etniese groep in Suid-Afrika waarskynlik in mindere of meerdere mate ontevrede. Die Zoeloes kla byvoorbeeld by hom dat hulle deur die Xhosas oorheers word. “Maar as die Afrikaners ontevrede is, is dit ‘n ander saak as wat die Swazi’s of die Vendas ongelukkig is, sonder om nou enige van daardie groepe in die gesig te vat.”
Aan die einde van die aand sou Bok van Blerk se “De la Rey” gespeel word. Die huiseienaar is effens lugtig dat sy Joodse bure hier in Houghton aanstoot neem, maar watwou, dit word gespeel. Sean Else, die skrywer van die liedjie, is self teenwoordig en lewer allerlei insette as ‘n soort selfaangestelde verteenwoordiger van jong Afrikaners. Volgens hom wil jongmense hulself nie as slagoffers van regstellende aksie en ander onaangename aspekte van die nuwe bestel sien nie en eerder ‘n dinamiese bydrae tot die land en veral die Afrikaanse kultuur maak.
Driekwart deur die gesprek, vra ek ‘n ernstiger politieke vraag. “Suid-Afrika, of altans so verseker die politieke wetenskaplikes ons, is eintlik ‘n land van minderhede. Selfs die Zoeloes, wat die grootste groep is met hul tien miljoen mense, verteenwoordig ‘n minderheid teenoor die totale bevolking. Soos ons Afrikaners dit sien, het ‘n klomp van die ander groepe in die land as’t ware teen ons saamgespan in ‘n politieke alliansie om ons tans te oorheers. Dink u daar sal ‘n tyd kom wanneer Afrikaners ook deel sal kan wees van ‘n politieke alliansie, nie soseer om ander te oorheers nie, maar om ‘n bydrae tot die land te lewer met behulp van hul kundigheid, hul patriotisme en ervaring van regering?”
Op ‘n manier is dit ‘n strikvraag en ek kan sien Zuma skuif ongemaklik rond. Hy is immers nog besig om binne die ANC homself te posisioneer as die volgende leier van die Xhosa-alliansie. Maar hy gee egter toe dat so ‘n alliansie dalk in die toekoms moontlik is.
Ná Zuma se vertrek praat ek, Steve Hofmeyr, Kallie Kriel, Sean Else en ‘n Engelssprekende vriend van Elzilda en haar man nog tot na middernag politiek.
Dat hier egter ‘n interessante gesprek tussen Zuma en die Afrikaners aan die gang is, is gewis.
Suid-Afrikaanse wetenskaplikes se navorsing oor gammastrale het ’n internasionale astronomiespan in staat gestel om ’n gesogte toekenning van die Europese Unie (EU) te wen.
“Ons het eintlik in die skoene gestaan van mense soos Galileo,” het prof Okkie de Jager gister gesê. Hy is ’n professor in fisika verbonde aan die Noordwes-universiteit. Hy, en vier ander wetenskaplikes verbonde aan dieselfde universiteit, maak deel uit van ’n span van sowat 100 deskundiges wat deur die EU befonds word. Die res van die wetenskaplikes is uit EU-lande afkomstig. Hulle is verantwoordelik vir die sogenaamde Hoë Energie Stereoskopiese Stelsel (Hess) van vier teleskope wat in Namibië gebruik word om gammastrale mee te bestudeer.
Dié span het die Descartes-navorsingsprys vir 2006 ingepalm, het die EU verlede week in België bekendgemaak. Die Hess-projek was een van dertien finaliste uit 65 inskrywings afkomstig uit twintig lande. Volgens die EU het die Hess-wetenskaplikes bestaande astronomiese waarnemingstegnieke dramaties verander en ons kennis van die Melkweg uitgebrei.
Wetenskaplikes van die Hess-samewerkingsgroep het daarin geslaag om vir die eerste keer baie hoë energie (BHE) gammastrale deur hulle netwerk van teleskope waar te neem. Die BHE gammastrale (’n miljoen keer sterker as ’n X-straal) is afkomstig van enorme waterstofwolke wat in die middel van die Melkweg geleë is.
Die BHE gammastrale ontstaan heel waarskynlik deur kosmiese strale, wat uiters energieke partikels is, meestal atoomnukleusse of protone (die nukleus van ’n waterstofatoom), se botsings met die gasdeeltjies in die groot gaswolke.
Moontlike verduideliking vir die waargeneemde BHE gammastraling is dat ’n oorvloed kosmiese straalpartikels tydens die ontploffing van ’n massiewe ster, ongeveer 10 000 jaar gelede, geproduseer is. Dit is dan ook al vir ’n geruime tyd bekend aan wetenskaplikes dat die oorblyfsels van so ’n ontploffing waargeneem kan word naby die middelpunt van die Melkweg. Hierdie ontploffing het reeds die super massiewe swartgat in die middel van die Melkweg bereik.
Die Hess-span se navorsing het heelwat nuttige implikasies. Die tegnologie word gebruik om wiskundige en rekenaarprogramme te ontwikkel. Verder word dit in osoon-wasmasjiene gebruik, wat dit moontlik maak om wasgoed met koue water te was en skoner resultate te verkry. Dit bring aansienlike energiebesparings mee.
Die span werk tans aan Hess 2, ’n teleskoop van sowat 30 meter wat by die vier ander teleskope in Namibië gevoeg sal word. Die 330 000 euro wat die span met die Descartes-prys ontvang het, sal hiervoor aangewend word. Dit sal die wêreld se grootste astronomiese reflektor wees.
Die tema van PRAAG se anti-misdaadvergadering Saterdag 10 Maart in Lynnwood, Pretoria, was Genoeg! Die publiek, en veral die Afrikanergemeenskap, is siek en sat vir misdaad en die moue moet nou opgerol word om iets daadwerkliks daaraan te doen.
‘n Genoeg!-plakkaat by die vergadering
Volgens dr. Phillip Venter, voorsitter van die Louis Trichardtse buurtwag, het hulle daarin geslaag om misdaad op die dorp met 95% binne vier maande te verminder. Hoewel hy ‘n predikant is, ry hy self patrollie en is daar al op hom geskiet. Maar hy het die gehoor van ongeveer 300 mense daaraan herinner dat misdaadvoorkoming ons Christelike plig is. “Misdaad is sonde en indien ons as gelowiges dit toelaat, is ons ewe aandadig as die misdadigers self.”
Soos wat die vergadering gevorder het, was dit duidelik dat daar reeds ‘n plan teen misdaad bestaan wat in sommige dele van die land met sukses toegepas word. Mnr. Anton Barnard het ‘n omvattende aanbieding oor misdaadstatistiek gedoen en aangetoon dat Limpopo die laagste misdaad van al nege provinsies het. Die verklaring mag wees dat die TLU se veiligheidstelsel, asook buurtwagte soos dié op Louis Trichardt, reeds die nodige positiewe resultate toon.
Anton Barnard oor die Burgerwagstelsel
Barnard het ook die mite dat misdaad deur armoede veroorsaak word, die nek ingeslaan. “Toevallig is Limpopo die armste provinsie in die land. Die Wes-Kaap wat die hoogste inkomste per kop in die land het, het die tweede hoogste misdaadsyfer na die Oos-Kaap. Daar is dus geen korrelasie tussen inkomste en misdaad nie,” het hy gesê.
Dr. Dan Roodt: geskiedenis herhaal homself
Dr. Dan Roodt het in sy openingsrede verwys na die bekende spreekwoord, “’n Boer maak ‘n plan” en dat hy oortuig is dat die Afrikaner soos soveel kere in die verlede sal opstaan om die anargie wat tans in die land heers, te stuit. Die elektroniese kommunikasiestelsel wat mnr. Anton Barnard van PRAAG ontwikkel het, is immers vernoem na die “Burgerwag” van die 1790s toe besorgde burgers aan die Kaap saamgestaan het om die strate na donker saans met fakkels te patrolleer omdat voetgangers toe dikwels aangeval is. Ook die kommandostelsel wat die ANC-bewind onlangs afgeskaf het, het in die negentiende eeu onstaan om die veiligheid van die ou Boererepublieke te verseker. Die Afrikaner het dus ‘n lang geskiedenis van “kommando ry” en vandag is daardie geskiedenis bloot besig om homself te herhaal.
Steve Hofmeyr in gesprek agterna
Steve Hofmeyr het verwys na die groot aantal betogings waaraan hy en dr. Dan Roodt van PRAAG reeds saam deelgeneem het, sowel teen misdaad as teen naamsveranderings en die miskenning van Afrikaans. Onlangs was hulle saam by die hof in Randfontein om te protesteer teen die koelbloedige moord op die vyfjarige Danielle Esterhuizen wat vir haar pa langs ‘n dam waar hy besig was om vis te vang, gaan kuier het. Hofmeyr het die doeltreffendheid van protes om die ANC-bewind tot ander insigte te bring, betwyfel. “Ons marsjeer, soms is ons ‘n handjievol, soms is ons vyfduisend, maar hulle steur hulle eenvoudig nie daaraan nie.” Volgens hom trek betogings egter tog die aandag van die media. “Dis omtrent die enigste positiewe element daaraan, dat die media daaroor rapporteer en sodoende groter bewustheid skep.”
Mnr. Gideon Meiring van TLU-Veiligheid het verduidelik watter welslae dié organisasie reeds behaal het om plaasaanvalle te bekamp. Meer as 2000 boere en hulle gesinne, maar ook stedelinge, is reeds in hul kursusse wat maandeliks aangebied word, opgelei. (Enigiemand wat meer oor dié kursusse wil uitvind, kan ‘n epos aan inlig@praag.org rig.) Vir mnr. Meiring gaan dit om weerbaarheid in die breedste sin, om mense met kennis van vuurwapens en ongewapende selfverdedigingstegnieke toe te rus, maar ook hulle geestelik en kultureel weerbaar te maak. Die behoud van ons Christelike en patriotiese etos is ewe belangrik as om fisies paraat te wees, meen hy. As mens se denke nie reg is nie, kan jy nie weerstand teen misdaad bied nie. Vandaar die spanbou-aktiwiteite en konserte wat deel vorm van die TLU se naweekkursusse teen misdaad.
Dr. Dan Roodt het bygevoeg dat die TLU-opleidingskursusse teen R350 met kos en verblyf ingesluit ‘n absolute winskoop is, juis omdat die instrukteurs waarvan tot 32 gebruik word om 40 mense op te lei, vrywillig werk. “Hierdie mense verrig ‘n volksdiens en behoort ondersteun te word,” het hy gesê.
Hoewel daar steeds hier en daar pligsgetroue en hardwerkende polisiemanne en –vroue bestaan, was die algemene gevoel by die vergadering dat die diens so deur regstellende aksie ondermyn is dat mens nie daarop kan staatmaak nie. Tot veertig pesent van polisiebeamptes is elke dag met siekverlof. Tien persent is ongeletterd. Die enigste hoop vir die land is daarom dat Afrikaners beheer oor hul woonbuurte en distrikte van die misdadigers moet terugneem deur self betrokke te raak. “Niemand kan sy veiligheid aan iemand anders delegeer nie”, het mnr. Gideon Meiring gesê.
‘n Vorige offisier in die Weermag, mnr. Jan Malan, het ‘n pleidooi gelewer dat alle groepe en organisasies met mekaar sal saamwerk om ‘n strategiese anti-misdaadplan op te stel en landwyd toe te pas. Dr. Dan Roodt van PRAAG het die versekering gegee dat so ‘n plan reeds in wording is en dat die kwessie verder met alle Afrikaanse organisasies wat tans besig is om in ‘n Afrikanerraad byeen te kom, opgeneem sal word.
Steve Hofmeyr het bygevoeg: “Daar is hoop. Die rol van ‘n leier is om mense hoop te gee.”