Dié span het die Descartes-navorsingsprys vir 2006 ingepalm, het die EU verlede week in België bekendgemaak. Die Hess-projek was een van dertien finaliste uit 65 inskrywings afkomstig uit twintig lande. Volgens die EU het die Hess-wetenskaplikes bestaande astronomiese waarnemingstegnieke dramaties verander en ons kennis van die Melkweg uitgebrei.
Wetenskaplikes van die Hess-samewerkingsgroep het daarin geslaag om vir die eerste keer baie hoë energie (BHE) gammastrale deur hulle netwerk van teleskope waar te neem. Die BHE gammastrale (’n miljoen keer sterker as ’n X-straal) is afkomstig van enorme waterstofwolke wat in die middel van die Melkweg geleë is.
Die BHE gammastrale ontstaan heel waarskynlik deur kosmiese strale, wat uiters energieke partikels is, meestal atoomnukleusse of protone (die nukleus van ’n waterstofatoom), se botsings met die gasdeeltjies in die groot gaswolke.
Moontlike verduideliking vir die waargeneemde BHE gammastraling is dat ’n oorvloed kosmiese straalpartikels tydens die ontploffing van ’n massiewe ster, ongeveer 10 000 jaar gelede, geproduseer is. Dit is dan ook al vir ’n geruime tyd bekend aan wetenskaplikes dat die oorblyfsels van so ’n ontploffing waargeneem kan word naby die middelpunt van die Melkweg. Hierdie ontploffing het reeds die super massiewe swartgat in die middel van die Melkweg bereik.
Die Hess-span se navorsing het heelwat nuttige implikasies. Die tegnologie word gebruik om wiskundige en rekenaarprogramme te ontwikkel. Verder word dit in osoon-wasmasjiene gebruik, wat dit moontlik maak om wasgoed met koue water te was en skoner resultate te verkry. Dit bring aansienlike energiebesparings mee.
