Taal kan weens syfers ‘verdwyn’

Volledige artikel hier. 

Hoe raak die jongste demografiese tendense Afrikaanse skole en universiteite? Hierop het prof. Flip Smit, demograaf en oudrektor van die Universiteit van Pretoria, in ’n lesing in Bloemfontein ’n paar antwoorde verskaf.

Vooraf ’n paar syfers. Ons huidige bevolking van 47,3 miljoen sal vanweë die afname in die geboortekoers, meer sterftes aan vigs en vigsverwante siektes en veroudering stadig toeneem en teen 2021 sowat 51 miljoen beloop.

Wit mense het die vervangingsvlak (2,1 geboortes per vrou) in 1990 bereik, die Asiërs in 1999. Die bruines sal dit teen 2010 en die swartes teen 2035 bereik. Die jaarlikse geboortes sal dus tussen 2001 en 2010 by wit mense daal van 72 380 tot 59 697, en by bruines van 84 281 tot 73 205.

Onder alle groepe is sterftes aan die toeneem. By wit mense styg dit van 50 000 in 2001 tot 63 000 in 2009 vanweë MIV/vigs, veroudering, toenemende werkloosheid en swakker toegang tot gesondheidsdienste. Daarby kom ’n verlies weens emigrasie. Bykans ’n miljoen wit mense het sedert 1990 die land permanent of tydelik verlaat. In dieselfde tyd het tussen 8 en 9 miljoen vreemdelinge die land binnegestroom.

Binnelands verskuif die bevolking. Die verskuiwing uit die Oos- na die Wes-Kaap bedreig Afrikaans se posisie as dominante moedertaal in die Wes-Kaap.

[…]

Dit alles bedreig Afrikaans­mediumskole. Deeglike beplanning is nodig om te verseker dat Afrikaans as onderwysmedium voortbestaan. Smit sê Afrikaanstaliges presteer uitstekend en hy pleit dat die prestasies van moedertaalleerlinge nie benadeel moet word deur hulle te verplig om op skool of universiteit na Engels oor te skakel nie. Moedertaalonderwys is een van die hoekstene van gehalte-onderrig.

Hy noem regstellende aksie nie by die naam nie, maar sê pogings om die Afrikaanstaliges se intellektuele vermoëns te beperk of hulle te ontmoedig deur die nie-toekenning van studiebeurse of beperking op werkgeleenthede, gaan die land duur te staan kom.

Tussen 1993 en 1996 het ongeveer 60 000 wit studente uit hoër onderwys verdwyn. Vir sommige was die verandering van die kampusse se karakter en etos net te veel. Hulle het by private instellings ingeskryf, oorsee gaan werk of hul ouers daarheen gevolg.

[…]

Dis ontstellend dat die aantal Afrikaanse nagraadse studente by vier HAU’s daal. Net by Stellenbosch is daar ’n geringe toename. Smit sê hy is bewus van talentvolle nagraadse studente wat in die buiteland studeer. Hulle vrees dat standaarde aan Suid-Afrikaanse universiteite toenemend bevraagteken sal word.

As hulle moet padgee weens regstellende aksie, sal buitelandse kwalifikasies hulle groter toegang tot internasionale werkgeleenthede gee.

[…]

Dis ’n duidelike boodskap vir die HAU’s: Afrikaanstaliges stel Afrikaans as voertaal hoog op prys. Daarvan moet Afrikaanse politici en akademici kennis neem wat polities korrek so aanhou pleit vir nóg ingrypender transformasie, meer swart gesigte in die personeel en in rektorstoele – alles dinge wat ten koste van Afrikaans sal geskied.

Prof. Jaap Steyn is ’n onafhanklike kommentator. uk online casino no depositтопкарго