Swart provinsies verkies Engels as onderrigtaal

Byna tweederdes van leerlinge in die land verkies Engels as onderrigtaal, maar die taal het maar die vierde meeste sprekers. Engels is ook al lankal nie meer ‘n wit taal nie, sê die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhouding.

‘n Navorser aan die SAIRV het gesê 64% van die skoolbevolking van 11,5 miljoen het in 2010 verkies om in Engels onderrig te word, maar dit is slegs 7% van leerlinge (859 896) se huistaal.

Engels word veral verkies in KwaZulu-Natal (1,5 miljoen), Gauteng (1,3 miljoen), die Oos-Kaap (1,3 miljoen) en Limpopo (1,1 miljoen), waar groot konsentrasies swart leerlinge is.

Volgens hom weerspieël dit die globale neiging na Engels as voorkeurtaal.

Lees meer hier:

Diensleweringsopstand in Soweto eis een

In oproer dié naweek in Soweto is ‘n KFC oorkant die Elias Mo­tsoaledi-plakkerskamp afgebrand en een mens dood. Inwoners sê die munisipaliteit skeep hulle af, terwyl ander gebiede voorkeur kry.

Die betogings het Saterdagaand in geweld ontaard. Twee minibustaxi’s en ‘n bakkie is ook aan die brand gesteek.

‘n Groot polisieteenwoordigheid in die omgewing is ontplooi om hernude onluste te voorkom.

‘n Woordvoerder van die JMPD, Edna Mamonyane, het bevestig dat die Metropolisie die gebied monitor.

Die hele Gautengse polisiediens is gemobiliseer, het Beeld berig. Die onrus­gebied word deur gewapende lede van die polisie se taktiese reaksie-eenheid, polisielede in gepantserde voertuie en metropolisielede gepatrolleer.

Inwoners van die plakkerskamp is ontevrede oor ‘n gebrek aan lopende water en elektrisiteit asook huisvesting.

Minister sê sy word deur media afgepers

Dina Pule, die minister van kommunikasie, het Maandag tydens ‘n mediakonferensie gesê dat ‘n reeks artikels deur die Sunday Times ‘n smeerveldtog is in ‘n poging om haar af te pers.

“Dié veldtog was ‘n hoogs gesofistikeerde komplot om my af te pers,” het Pule aan joernaliste in Johannesburg gesê.

“Die Sunday Times het gedink hulle kan my in ‘n hoek dryf.”

Pule het oor die besonderhede van verskeie artikels, wat haar onder andere van wanbesteding beskuldig, uitgebrei en gesê die koerant wil haar as ‘n korrupte minister uitbeeld sonder dat dit enige bewyse het.

Die minister het bygevoeg dat die saak met die persombudsman opgeneem is.

Sy het gesê dat ‘n familielid van een van die joernaliste so desperaat was vir ‘n ontmoeting dat hy selfs ‘n liefdesverhouding voorgestel het.

Die redakteur van die Sunday Times, Phylicia Oppelt, kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.

Die parlement se gesamentlike komitee oor etiek en ledebelange het in Maart vanjaar ‘n ondersoekspan aangestel om Pule se verhouding met die sakeman Phosane Mngqibisa te ondersoek.

Van die kwessies wat ondersoek word sluit in of Pule haar verhouding met Mngqibisa aan die parlement verklaar het en of sy finansieël uit die verhouding gebaat het.

Opposisiepartye eis reeds maande lank Pule se kop weens beweerde ongerymdhede rakende ‘n ICT Indaba van die departement van kommunikasie en die minister se rol daarin.

Volgens die Sunday Times is ‘n ondersoekspan aangestel om Pule se beweerde romantiese verhouding met Mngqibisa te ondersoek.

Stiefpa wil hof toe na FB-skollie-aantyging

‘n Inwoner van Gordonsbaai wil ‘n polisiebeampte dagvaar omdat dié glo ‘n foto van sy stiefseun op Facebook gepubliseer het en hom van diefstal beskuldig het, is Maandag berig.

The Star het berig dat Philip Brink, 53, beplan om die polisievrou vir R500 000 te dagvaar vir naamskending en emosionele trauma wat spruit uit ‘n Facebook-inskrywing.

Die vrou het die boodskap in Afrikaans op Facebook gepubliseer ná haar seun se selfoon op 4 April gesteel is.

“My seun en sy vriende is vanaand van hulle selfone beroof deur twee varke, en die varke spog steeds dat hulle hulle gaan doodsteek, net soos hulle ‘n ander kind by die winkel doodgesteek het…,” het die inskrywing gelui.

“Hulle het die kinders aangeval en alkohol in hulle kele afgegooi.”

Brink se stiefseun, Kyle Yon, 20, het homself aan die polisie oorhandig. Hy is steeds in aanhouding, en sy beweerde medepligtige is steeds op vrye voet.

“[Die polisievrou] het aanlyn gegaan en foto’s van hom gelaai sonder om te weet of hulle skuldig is of nie,” het Brink gesê.

“Sy het hulle ook daarvan beskuldig dat hulle betrokke was by ‘n aanval op ‘n ander jong man wat my 13-jarige dogter en haar vriende geken het.”

Brink het gesê sy vrou sukkel om te slaap sedert die insident en is verleë omdat haar kollegas ook daarvan weet.

Afrikaans is nie meer ‘n wit taal nie, sê SAIR

Meer swartes, bruines en Indiërs praat Afrikaans as huistaal as wittes, het die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) Maandag gesê.

‘n Onlangse studie deur die SAIRV, gebaseer op data uit die sensus van 2011, het getoon dat slegs 40% van mense wat Afrikaans as huistaal praat, wit is.

Dit beteken slegs 2,7 miljoen uit die 6,9 miljoen huishoudings waar Afrikaans gepraat word, is wit, terwyl die res uit ander rassegroepe bestaan.

Daarteenoor is Engels bykans vyf miljoen Suid-Afrikaners se huistaal. Altesaam 1,6 miljoen van dié Engelssprekendes, oftewel 34%, is wit.

Bykans 1,2 miljoen swart Suid-Afrikaners se huistaal is Engels, terwyl 950 000 bruines en 1,1 miljoen Indiërs Engels is.

Thuthukani Ndebele, woordvoerder vir die SAIRV, het gesê hoewel Engels die vierde gewildste huistaal is, is dit die voorkeurtaal vir onderrig in Suid-Afrika.

“Ongeveer 64% van die 11,5 miljoen leerders in openbare skole in 2010 het verkies om in Engels onderrig te word, wat ‘n wêreldwye tendens is.”

Zoeloe is die mees algemene huistaal in Suid-Afrika, en is altesaam 11,6 miljoen Suid-Afrikaners se moedertaal.

Vyf nuwe tolstelsels gaan publiek melk

Sanral se strategiese plan vir bykomende tolpaaie vir 2012-2013 is Woensdag aan die parlement se portefeulje­komitee oor vervoer voorgelê.

Beeld het Maandag berig dat die sterk openbare teenkanting teen die e-tolstelsel in Gauteng nie die besluit om nog vyf tolstelsels op Suid-Afrikaanse hoofroetes aan te bring, gedemp het nie.

Die Wysigingswetsontwerp op Vervoerwette sal die departement van vervoer in staat stel om tolpaaie sonder openbare deelname te bou.

Sanral en die departement van vervoer sal ná aanvaarding van die wetsontwerp nuwe tolstelsels oprig sonder om die publiek, munisipaliteite, metrorade en provinsies te raadpleeg.

Die volgende tolpaaie wat in die vooruitsig gestel word, sal besige roetes insluit:

* Tussen Durban en Pietermaritzburg (N3);

* Tussen Johannesburg en Kimberley (N12);

* Tussen Kroonstad en Winburg (N1);

* By Musina (N1); en

* By die Botlokwa-wisselaar op die N1 naby Polokwane.

Duitser keelaf gesny in PE

Die lyk van ‘n Duitse sakeman is in ‘n hotelkamer in Port Elizabeth gevind, is Vrydag berig.

Die 25-jarige man is Woensdag in ‘n plas bloed by die Garden Court-hotel gevind. Hy is keelaf gesny, berig Herald Online.

Die polisie op die toneel het gesê die man is vermoedelik naby die badkamer vermoor en het probeer om na die deur te stap vir hulp.

Kapt. Johan Rheeder het gesê die man is Dinsdag vir die laaste keer gesien.

“Iemand het hom kom aflaai en hy is alleen na sy kamer. Die volgende oggend het ‘n kollega die sekuriteit by die hotel gevra om te gaan kyk waar hy is, omdat niemand hom in die hande kan kry nie,” het Rheeder gesê.

Die hotelbestuurders het ‘n loper gebruik om die deur van die man se kamer oop te sluit.

Volgens die hotel se rekords en beeldmateriaal het niemand Dinsdagaand by die kamer ingegaan of uitgekom nie.

Die vrou wat die man afgelaai het, het gesê hy was nie homself nie.

Rheeder het aan Herald Online gesê indien bewyse gemene spel uitwys, sal die saak van ‘n geregtelike doodsondersoek na moord verander sal word.

Mandelas wil van wit beheer oor trust ontslae raak

Die familie van Nelson Mandela het ‘n verenigde front gevorm in ‘n dispuut met jarelange wit medewerkers van die voormalige president.

Die dispuut handel oor die beheer van twee maatskappye.

In ‘n verklaring, sê Mandela se kleinkinders, probeer George Bizos en andere die Mandela-familie uitbeeld as “onsensitief en geldgierig” met geen respek vir die erfenis van die anti-apartheidsleier en Nobel-vredespryswenner nie.

“Die meeste van ons het ‘n inkomste, werk vir ons eie maatskappye en bestuur ons eie projekte,” lui die verklaring, wat nie enige van die kleinkinders by name noem nie.

Mandela het 17 kleinkinders en 14 agterkleinkinders, volgens die Nelson Mandela Centre of Memory, ‘n organisasie in Johannesburg.

Twee dogters van 94-jarige Mandela het ‘n hofsaak teen Bizos en sy medewerkers aanhangig gemaak, en eis dat hulle nie moet aanbly as direkteure van die twee maatskappye nie. Die opbrengs is veronderstel om die Mandela-familie te bevoordeel.

Bizos, ‘n menseregte-advokaat, sê hy is ‘n jarelange ondersteuner van die Mandela-familie en hy het betrokke geraak in die maatskappye op Mandela se instruksies.

Die hoofdoel van die maatskappye, Harmonieux Investment Holdings en Magnifique Investment Holdings, is om fondse in te kanaliseer uit die verkoop van handafdruk “kunswerke” deur Mandela tot die voordeel van sy familie.

The Star koerant het Bizos aangehaal waar hy sê Makaziwe Mandela wou R11.9 miljoen onttrek sonder om besonderhede te verskaf van hoe dit gebruik sal word.

“Dit is strydig met die bepalings van die trust. Daarom het ons geweier om haar die geld te gee.”

Wit Afrikaners ware mag agter DA, sê ANC

Die ANC het gister die DA uitgekryt as ‘n party wat swartes vir vertoon gebruik, maar die ware mag in die hande van wit Afrikaners hou.

Die opposisieparty het begin met sy verkiesingsveldtog deur te probeer om as ‘n voorbok in die stryd teen apartheid te poseer. Maar die ANC koop dit nie.

Die party versprei pamflette met foto van ‘n omhelsing tussen Nelson Mandela en Helen Suzman as deel van sy veldtog om glo die idee dat die party weer apartheid sal terugbring, te besweer.

Maar die ANC bevraagteken Suzman se struggle-verlede. ANC-woordvoerder, Keith Khoza, het vandeesweek gesê die DA het niks gedoen om apartheid te beëindig nie en Suzman het “die gerief van apartheid in die Parlement geniet” en “het nie enige stappe” teen apartheid geneem nie.

Die DA se uitvoerende direkteur van kommunikasie, Gavin Davis, het gesê die party verwag kritiek van sy teenstanders. Hy is ook nie bekommerd oor die moontlike kritiek dat die DA goedkoop publisiteit soek en Mandela se beeld uitbuit nie.

Davis het gesê die DA is ook ingelig deur sy aktiviste op die grond, sowel as navorsing, dat ‘n persepsie bestaan dat die party weer apartheid sal terugbring.

“Apartheid is ingeburger in die DNA en hulle kan nie verander nie. Kyk na hul strukture en hoe hulle regeer. Hulle het ‘n paar swartes as vertoon, maar die ware mag is steeds in die hande van wit Afrikaners,” het Khoza gesê.

Maar Davis het gesê sy leiers het ‘n geskiedenis van stryd teen apartheid.

“Ons huidige leier, Helen Zille, het gehelp om die wêreld te wys wat die waarheid van apartheid is. In 1977 by die Rand Daily Mail waar sy gewerk het, het Zille die waarheid agter Steve Biko se dood ontbloot. As ‘n prominente lid van die Black Sash, het Zille ANC-aktiviste by haar huis gedurende die 1986 noodtoestand weggesteek,” het Davis gesê.

“Joe Seremane was die party se federale voorsitter tot in 2010. Hy was ‘n politieke gevangene op Robbeneiland tussen 1963-1969. Hy is sonder verhoor aangehou tussen 1976-1978, en verskeie kere tussen 1982 en 1984.

“Wilmot James is tans die DA se federale voorsitter, en sy betrokkenheid in die stryd bereik terug na sy dae in die Suid-Afrikaanse Studente-organisasie, wat deur die Swartbewussynsbeweging geïnspireer is. James se teenkanting teen die Groepsgebiedewet het hom in die tronk laat beland.

“Patricia de Lille, wat tans die uitvoerende burgemeester van Kaapstad is, is reeds aktief in die politiek vir meer as 25 jaar. In 1988 is sy verkies tot vise-president van die Nasionale Raad van Vakbonde. Sy was ‘n LP in 1994 van die PAC [Pan Africanist Congress] afvaardiging in die grondwetlike onderhandelings in Kempton Park.”

Hy het gesê die foto van Mandela en Suzman is gekies vir die veldtog omdat “Nelson Mandela die rol wat Helen Suzman gespeel het in die teenkanting teen apartheid erken en ons wou die boodskap oordra.”

Die pro-ANC Indiese dagblad, The New Age, se hoofopskrif gister was egter: “Zille fails the race test”.

‘Grondwethofuitspraak oor grond selfvernietigend’

“Die uitspraak in die konstitusionele hof vandag in die saak tussen Agri-SA en die minister van mineralebronne sal Suid-Afrika op ‘n glybaan van selfvernietiging plaas,” sê mnr. Werner Weber, die VFPlus se nasionale woordvoerder oor landbou en grondhervorming.

Die hof het beslis dat geen onteiening plaasgevind het nie en dat die voormalige houers van minerale regte geen eis om vergoeding teen die regering kan indien nie. Mnr Weber, wat tydens die uitspraak in die hof teenwoordig was, het daarop gewys dat die beginsel van “gebruik dit of verloor dit” ( use it or loose it) wat nou deur die konstitusionele hof as ‘n beginsel gevestig is, ook nou op ander eiendom van toepassing gemaak kan word.

“Dít hou enorme implikasies in. Verwysings in die uitspraak na die verkryging van dié regte deur die houers van minerale-regte in die apartheidstyd en die opweeg van eiendomsreg teenoor openbare belang, het sterk politieke ondertone openbaar, wat niks goeds vir die toekoms van SA voorspel nie,” het mnr. Weber gesê.