Sanral se strategiese plan vir bykomende tolpaaie vir 2012-2013 is Woensdag aan die parlement se portefeuljekomitee oor vervoer voorgelê.
Beeld het Maandag berig dat die sterk openbare teenkanting teen die e-tolstelsel in Gauteng nie die besluit om nog vyf tolstelsels op Suid-Afrikaanse hoofroetes aan te bring, gedemp het nie.
Die Wysigingswetsontwerp op Vervoerwette sal die departement van vervoer in staat stel om tolpaaie sonder openbare deelname te bou.
Sanral en die departement van vervoer sal ná aanvaarding van die wetsontwerp nuwe tolstelsels oprig sonder om die publiek, munisipaliteite, metrorade en provinsies te raadpleeg.
Die volgende tolpaaie wat in die vooruitsig gestel word, sal besige roetes insluit:
* Tussen Durban en Pietermaritzburg (N3);
* Tussen Johannesburg en Kimberley (N12);
* Tussen Kroonstad en Winburg (N1);
* By Musina (N1); en
* By die Botlokwa-wisselaar op die N1 naby Polokwane.
