Afgevaardigdes van die Afrika-Unie (AU) en die Verenigde Nasies (VN), sowel as van die Europese Unie, die VSA en Frankryk het Donderdag ‘n vergadering in Tsjad bygewoon waar President Jacob Zuma “vir meer as agt ure” gesmeek is om troepe terug te bring na die Sentraal-Afrikaanse Republiek, sê Minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking Maite Nkoana-Mashabane.
Die versoek om hulp kom ná ‘n buitengewone vergadering van die lande in die ekonomiese ontwikkelingsgemeenskap van Sentraal-Afrika (ECCAS) Donderdag in Tsjad.
Die Sunday Times het gister berig dat die regering die versoek oorweeg, maar dat indien gestuur, die troepe sal dien as vredesmagte, ter ondersteuning van die multinasionale mag (Fomac) in die streek.
Die minister het gesê die vergadering het met Zuma saamgestem dat geen selfopgelegde leier sal ondersteun word in die SAR nie.
Sy het gesê Suid-Afrika sou uit die vergadering geloop het indien daar geen ooreenkoms oor hierdie kwessie was nie.
“Ons het gesê Suid-Afrika word gelei deur ‘n vry en demokraties verkose president, en die mense van die SAR behoort dit ook te hê… hulle het minerale, maar hulle is die armste in die wêreld, omdat hulle altyd deur huursoldate en rebelle gelei word. Hulle verdien ook hul dag in die son,” het sy gesê.
“Selfs die man wat verklaar het dat hy die leier [in die SAR] is het gesê:” Die mense wat hier vanuit Suid-Afrika was het vir ons ‘n wonderwerk gewys, ons vermoor 13 van hulle, maar 600 van ons het gesneuwel’,” het sy gesê. Michel Djotodia, die Seleka-rebelleleier, is tans tussentydse staatshoof.
Nkoana-Mashabane het beloof dat Suid-Afrika die Afrika-kontinent polities sal bevry en, indien nodig, sal Pretoria die bevryding verdedig.
Mashabane het bygevoeg dat ander Afrika-lande hulself na Suid-Afrika wend wanneer daar moeilikheid is, en sê dit is omdat Suid-Afrika deur die oudste politieke beweging in die kontinent gelei word, wat geïnspireer is deur leiers soos Ghana se bevrydingsheld en president Kwame Nkrumah.
Sedert die Seleka-rebelle die beheer in die land oorgeneem het, heers chaos in Bangui.
Eccas het aanvanklik gesê het Djotodia sal nie as leier erken word nie, maar die oorgangsregering het verlede week sy posisie as tussentydse staatshoof bekragtig.
Djotodia en Nicolas Tiangaye, premier van die SAR, mag hulleself egter nie in die presidensiële verkiesings binne die volgende 18 maande verkiesbaar stel nie.
