Brug en ID-slimkaarte vir Mandeladag

Die uitreiking van die ID-slimkaarte en die opening van ‘n nuwe brug is slegs ‘n paar geleenthede wat vir Mandela-dag beplan word, het die kabinet Dinsdag aangekondig.

Mandela-dag word jaarliks op oudpres. Nelson Mandela se verjaardag op 18 Julie gevier.

Die voormalige staatshoof sal vanjaar sy 95ste verjaardag vier.

“In hierdie moeilike tyd, laat ons liefde en begrip wys en Madiba trots maak,” het Phumla Williams, waarnemende kabinetwoordvoerder, gesê.

Mandela is steeds in ‘n kritieke toestand in die Medikliniek se Harthospitaal. Hy word sedert verlede maand vir ‘n herhalende longinfeksie behandel.

Williams het gesê die uitreiking van die nuwe ID-kaarte sal op 18 Julie begin.

Die kabinet het Dinsdag ‘n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om op 18 Julie 67 minute van hul tyd op te offer om “hul gemeenskappe en Suid-Afrika vir goed te verander”.

Die kabinet het gesê vanjaar se tema is: “Neem aksie; inspireer verandering; maak elke dag ‘n Mandela-dag”, met die fokus op voedselsekuriteit, behuising en letterkunde.

FW de Klerk ‘sterk goed aan’

Oudpresident FW de Klerk se operasie Dinsdag om ‘n pasaangeër te kry was suksesvol, het die FW de Klerk-stigting in ‘n verklaring gesê.

Die stigting het Suid-Afrikaners vir hul goeie wense en boodskappe van ondersteuning bedank, en gesê die familie is ook dankbaar teenoor die “uitstekende mediese span” by die Panorama-hospitaal in Kaapstad waar die 77-jarige die intervensie ondergaan het.

President Jacob Zuma het De Klerk ook spoedige beterskap toegewens.

“Ons stuur goeie wense aan die voormalige president. Kom ons hou hom en sy familie in ons gebede,” het Zuma Dinsdag in ‘n verklaring gesê.

De Klerk moes in Junie 2006 ‘n operasie ondergaan om twee kwaadaardige nodusse van sy kolon te verwyder.

Kort na dié operasie het hy ‘n longinfeksie ontwikkel, maar het ten volle herstel.

Hof sê Mandela-grafte moet na Qunu

Oudpresident Nelson Mandela se kleinseun, Mandla Mandela, het tot drieuur vanmiddag tyd om die oorskot van drie van Madiba se kinders vanaf Mvezo na Qunu in die Oos-Kaap te verskuif.

Die Oos-Kaapse hooggeregshof sal na verwagting vandag in die saak beslis. Sestien lede van die Mandela-familie, asook Madiba se vrou, Graca Machel, het Vrydag ‘n hofbevel teen Mandela bekom om die oorskot na die oorspronklike grafte op Qunu terug te neem.

Mandela se regsverteenwoordigers voer aan dat die tussentydse bevel verwerp behoort te word, maar die Mandela-familie wil dit bekragtig hê.

Intussen kan Mandela ook strafregtelik aangekla word van grafskending nadat ‘n dossier hieroor geopen is. Die polisie wil egter nie bekend maak wie die klagte gelê het nie.

Pres. Zuma se program druk

President Jacob Zuma het Woensdag ‘n vol skedule. Hy sal eers ‘n vergadering in die oggend met die Nasionale Beplanningskommissie bywoon om die inwerkingstelling van die Nasionale Ontwikkelingsplan te bespreek.

In die middag sal hy as voorsitter van die vergadering van die Presidensiële Infrastruktuur Koördineringskomitee optree. Dit het betrekking op die Nasionale Infrastruktuur Plan wat verlede jaar deur die regering aanvaar is en wat ten doel het om die land se ekonomie deur die bou van hawens, paaie en spoorweë te versterk.

Na raming is R827 miljard vir die projek oor die volgende drie jaar opsy gesit.

President Zuma sal moet bemiddel tussen die Minister van Openbare Werke, Malusi Gigaba en die Minister van Finansies, Pravin Gordhan. Gigaba vra dat die Swart Ekonomiese Bemagtigingsbeleid van ondernemings onder staatsbesit verander word om swart sakeondernemings verder te bevoordeel in die tender-proses.

‘Dokter’ swendelaar vasgetrek

Ongeveer R120 000 mediese voorraad is Donderdag gevind by ‘n man wat homself voorgedoen het as ‘n geregistreerde dokter.

‘n Man wat homself voorgedoen het as ‘n geregistreerde dokter in Pretoria-Noord is Donderdagmiddag gearresteer met die besit van mediese voorraad waarvoor hy nie ‘n permit gehad het nie.

Volgens Marius Freysen, voorsitter van die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) van Pretoria-Noord, was die GPF en die polisie vir ‘n geruime tyd op dié man se spoor.

Freysen het gesê dat hy Donderdagmiddag die beweerde dokter se voertuig in Gerrit Maritzstraat buite ‘n winkel opgemerk het. Freysen het voor die man se voertuig parkeer en die polisie sowel as Soshanguve se K9-eenheid ontbied.

Toe die man uit die winkel gestap het, is hy dadelik op die toneel gearresteer.

Die honde-eenheid het ongeveer R120 000 se mediese voorraad in sy kar gevind het. Volgens Freysen het die ampules, gevul met onder andere adrenalien, reeds in 2004 verval.

Volgens Pretoria-Noord se polisie woordvoerder, Konstabel Maanda Singo, word die saak ondersoek en die verdagte het Maandag in Pretoria-Noord se landdroshof verskyn.

Freysen het aan Rekord gesê dat die Valke moontlik by die saak betrek sal word omdat die waarde van die medikasie meer as R100 000 was.

DA-jeugleier se hut afgebrand

‘n Jeugleier van die Demokratiese Alliansie kruip weg nadat sy plakkershut die afgelope naweek in Kaapstad aan die brand gesteek is, berig die Daily Voice.

Die 23-jarige Luzuko Mngqibisa het volgens die berig vroeg Saterdagoggend uit sy brandende plakkershut gevlug.

Hy het ‘n draagbare spoeltoilet, rommel en ‘n brief voor sy huis gevind.

“Ons wil jou nie doodmaak nie, jy is nog jonk, maar as jy nie ons mense uitlos nie gaan jy doodgeskiet word… So jou [Helen] Zille moet jou hier wegvat voor ons jou kry,” lui die brief.

Mngqibisa het aan die koerant gesê hy vermoed ANC-lede is verantwoordelik vir die aanval omdat lede onlangs betoog het oor draagbare toilette.

Die polisie het bevestig dat ‘n saak van brandstigting ondersoek word.

Zille het gereël dat hy vir sy eie veiligheid by ‘n onbekende plek tuisgaan.

Mandela-kinders takel mekaar oor geld

Nelson Mandela se kinders is hard aan die baklei oor die inkomste wat hul naam aan hulle mag verseker, en dit terwyl die oud-president nog nie sy laaste asem uitgeblaas het nie.

‘n Lid van die Mandela-familie het Maandag aan die Dispatch-koerant gesê Mandla Mandela sal uit die familie “uitgesluit” word as oudpres. Mandela sterf.

“Hy het in 2011 die oorskot van Madiba se kinders van Qunu na Mvezo gesteel omdat hy geweet het dat Mandela saam met sy kinders begrawe wil word en dat dit sy diamantveld sal wees,” het die familielid aan die koerant gesê.

Mandla Mandela, die amptelike hoof van die Madiba-stam en ‘n ANC-LP, het die oorskot van drie familielede in Qunu laat opgrawe en hulle twee jaar gelede weer in Mvezo begrawe. Mandla het Sondag in ‘n verklaring gesê hy is “ongelukkig verplig” om hom tot die hof te wend. “Die manier hoe ons hierdie saak hanteer is teenstrydig met ons gebruike en ‘n diep teleurstelling vir my oupa en sy voorvaders,” het Mandla gesê.

Die hofgeding sou Maandag in die Oos-Kaapse hooggeregshof in Mthata hervat het.

‘n Dringende interdik is Vrydag aan 16 lede van die Mandela-familie, gelei deur Mandela se oudste dogter Makaziwe (60), toegestaan wat Mandla verplig het om die oorskot na Qunu terug te bring.

Die drie familielede wie se oorskot geskuif is, is Mandela se oudste seun en Mandla se pa Makgato Mandela wat in 2005 oorlede is; Mandela se eerste dogter Makaziwe wat as ‘n baba in 1948 gesterf het; en Mandela se tweede seun Madiba Thembekile wat in 1969 in ‘n motorongeluk oorlede is.

Mandela, wat steeds in ‘n kritieke toestand in ‘n Pretoriase hospitaal is, het vroeër aangedui dat hy saam met sy familie in Qunu begrawe wil word.

Mandla voer egter aan dat Mvezo, waar hy ‘n multi-miljoenrandse hotel oprig, die geboorteplek van die Mandelas is en dat dit van geskiedkundige belang is.

Zuma kritiseer gebrek aan vordering in Midde-Ooste

Suid-Afrika is bekommerd oor die gebrek aan vordering in die Midde-Ooste se vredesproses, het pres. Jacob Zuma Saterdag op ‘n mediakonferensie gesê.

“Ons is van mening dat blywende vrede in die Midde-Ooste nie moontlik sal wees sonder om ander probleme in die streek aan te spreek nie,” het hy op ‘n mediakonferensie in Pretoria gesê.

“Ons is bemoedig deur die positiewe stappe wat jy [Barack Obama] geneem het om die langstaande beperkings te verslap.”

Zuma het vroeër gesê Obama het Afrika op die regte tyd besoek.

“Ons is vandag baie bly om saam met jou te werk aan ‘n gemeenskaplike doel van die uitbreiding van handel en verhoudinge tussen die twee lande,” het Zuma op ‘n mediakonferensie gesê.

“Mnr. President, jy besoek Afrika op die regte tyd… Ons sal graag wil sien dat jy in die Suid-Afrikaanse ekonomie belê tot wedersydse voordeel.”

Jeugontwikkeling is ‘n sleutel-fokusgebied, het Zuma gesê.

Duisende het intussen weer op Tahrir Plein in Egipte se hoofstad saamgedrom vir hul beplande massa-optog om die afdanking van die land se president, Mohammed Morsi, te eis.

Inwoners wat Morsi opponeer het die nag op die plein deurgebring.

Dié plein was ook die fokuspunt van die betogings wat die voormalige leier, Hosni Moebarak, omvergewerp het.

Volgens die uitsaaier word betogings ook by die presidensiële paleis in Kaïro en die res van Egipte verwag.

Die optog volg presies ‘n jaar nadat Morsi as president ingehuldig is mbv Amerikaanse steun. Onder Morsi het onverdraagsaamheid teenoor godsdiensminderhede waaronder Koptiese Christene, met rasse skrede toegeneem.

Die organiseerders van die optog beweer dat meer as 22 miljoen mense reeds ‘n petisie onderteken het, wat ‘n beroep doen op die staatshoof om sy amp neer te lê.

Obama probeer sy beeld red met Mandela-verering

Pres. Barack Obama het nie besoek gebring aan oudpres. Nelson Mandela in die hospitaal nie.

Obama het egter Mandela se tronksel op Robbeneiland besoek om hulde te bring aan sy held.

Negatiewe publisiteit tuis in die VSA oor viktimisering van konserwatiewe politici deur die Amerikaanse inkomstediens op aanbeveling van die Obama-administrasie, die PRISM-meeluisteringskandaal wat EU-lande insluit en aanvalle deur onbemande tuie op burgerlikes sowel as Amerikaanse burgers, het die Amerikaanse president se beeld erg aangetas.

Ontleders meen sy besoek aan Suid-Afrika en ophemeling van Mandela is daarop gemik om sy swak beeld in die VSA en die wêreld tans te probeer red.

Obama hoop sy besoek sal bykomende betekenis dra aangesien die bejaarde oudpresident steeds in ‘n kritieke toestand in die hospitaal is. Madiba is drie weke gelede met ‘n herhalende longinfeksie in die hospitaal opgeneem.

Obama het die naweek gesê Mandela se “morele moed is ‘n inspirasie vir hom”.

Die Ahmed Kathrada Stigting het die naweek bevestig dat dié struggle-veteraan die president van die VSA na die eiland sal vergesel, nadat die Stigting eers gesê het hulle dra geen kennis van Obama se voorneme om die ou tronksel weer te gaan besigtig nie.

Kathrada (84) het sedert sy vrylating uit die tronk reeds talle amptelike afgevaardigdes, popsterre, politici en staatshoofde na die eiland vergesel.

Hy het ‘n vonnis van 18 jaar op die eiland uitgedien nadat hy saam met ander anti-apartheid-aktiviste soos Mandela, Walter Sisulu, Raymond Mhlaba en Andrew Mlangeni gevonnis is.

“Die stryd hier… Madiba se morele moed, die land se historiese oorgang na vryheid en demokrasie is ‘n inspirasie vir my en ‘n inspirasie vir die wêreld,” het Obama op ‘n mediakonferensie in Pretoria gesê.

“Dit is steeds [‘n inspirasie] in soveel streke wat verdeel is deur konflik, sektariese dispute, geloofs- en etniese oorloë.”

Obama het gesê Amerikaners se gedagtes is met die Mandela-familie.

Mandela is drie weke gelede met ‘n herhalende longinfeksie in die hospitaal opgeneem.

“Die triomf van Nelson Mandela en die land praat met iets diep in die menslike gees,” het Obama gesê.

Obama het met lede van Mandela se familie vergader.

Winnie val Zuma aan oor destydse besoek

Oudpres. Nelson Mandela se vorige eggenoot, Winnie Madikizela-Mandela, het pres. Jacob Zuma se besoek aan die bejaarde struggle-ikoon vroeër vanjaar, kwaai gekritiseer.

Sy het verwys na die besoek wat afgevaardigdes van die ANC vroeër vanjaar aan die afgetakelde leier afgelê het.

“Ek kan nie verduidelik hoe baie die familie seergemaak is nie. Dit was een van die mees onsensitiewe dinge wat enigiemand kon doen,” het sy Sondag aan die Britse ITV-nuusstasie gesê.

Die familie het destyds ook hul woede oor die omstrede besoek uitgespreek; veral omdat ‘n verdere video oor die besoek uitgereik is.

‘n Storm het losgebars oor dié beeldmateriaal waarin ‘n broos en uitdrukkingslose Madiba uitgebeeld word, terwyl hooggeplaastes in die ANC laggend om hom gesels.

Die ANC het destyds ook aantygings dat die beeldmateriaal van die besoek gebruik is om die party te begunstig, ten sterkste ontken.

Die video het veral op sosiale netwerke fel kritiek ontlok, en baie kykers het gevoel die bejaarde ikoon se waardigheid is deur die uitsending aangetas.

Mandela (94) is op die oomblik steeds in ‘n kritieke, maar stabiele toestand in die hospitaal nadat hy meer as drie weke gelede opgeneem is.