‘Dokter’ swendelaar vasgetrek

Ongeveer R120 000 mediese voorraad is Donderdag gevind by ‘n man wat homself voorgedoen het as ‘n geregistreerde dokter.

‘n Man wat homself voorgedoen het as ‘n geregistreerde dokter in Pretoria-Noord is Donderdagmiddag gearresteer met die besit van mediese voorraad waarvoor hy nie ‘n permit gehad het nie.

Volgens Marius Freysen, voorsitter van die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) van Pretoria-Noord, was die GPF en die polisie vir ‘n geruime tyd op dié man se spoor.

Freysen het gesê dat hy Donderdagmiddag die beweerde dokter se voertuig in Gerrit Maritzstraat buite ‘n winkel opgemerk het. Freysen het voor die man se voertuig parkeer en die polisie sowel as Soshanguve se K9-eenheid ontbied.

Toe die man uit die winkel gestap het, is hy dadelik op die toneel gearresteer.

Die honde-eenheid het ongeveer R120 000 se mediese voorraad in sy kar gevind het. Volgens Freysen het die ampules, gevul met onder andere adrenalien, reeds in 2004 verval.

Volgens Pretoria-Noord se polisie woordvoerder, Konstabel Maanda Singo, word die saak ondersoek en die verdagte het Maandag in Pretoria-Noord se landdroshof verskyn.

Freysen het aan Rekord gesê dat die Valke moontlik by die saak betrek sal word omdat die waarde van die medikasie meer as R100 000 was.

Maak 'n opvolg-bydrae