‘n Jeugleier van die Demokratiese Alliansie kruip weg nadat sy plakkershut die afgelope naweek in Kaapstad aan die brand gesteek is, berig die Daily Voice.
Die 23-jarige Luzuko Mngqibisa het volgens die berig vroeg Saterdagoggend uit sy brandende plakkershut gevlug.
Hy het ‘n draagbare spoeltoilet, rommel en ‘n brief voor sy huis gevind.
“Ons wil jou nie doodmaak nie, jy is nog jonk, maar as jy nie ons mense uitlos nie gaan jy doodgeskiet word… So jou [Helen] Zille moet jou hier wegvat voor ons jou kry,” lui die brief.
Mngqibisa het aan die koerant gesê hy vermoed ANC-lede is verantwoordelik vir die aanval omdat lede onlangs betoog het oor draagbare toilette.
Die polisie het bevestig dat ‘n saak van brandstigting ondersoek word.
Zille het gereël dat hy vir sy eie veiligheid by ‘n onbekende plek tuisgaan.
