Oudpres. Nelson Mandela se vorige eggenoot, Winnie Madikizela-Mandela, het pres. Jacob Zuma se besoek aan die bejaarde struggle-ikoon vroeër vanjaar, kwaai gekritiseer.
Sy het verwys na die besoek wat afgevaardigdes van die ANC vroeër vanjaar aan die afgetakelde leier afgelê het.
“Ek kan nie verduidelik hoe baie die familie seergemaak is nie. Dit was een van die mees onsensitiewe dinge wat enigiemand kon doen,” het sy Sondag aan die Britse ITV-nuusstasie gesê.
Die familie het destyds ook hul woede oor die omstrede besoek uitgespreek; veral omdat ‘n verdere video oor die besoek uitgereik is.
‘n Storm het losgebars oor dié beeldmateriaal waarin ‘n broos en uitdrukkingslose Madiba uitgebeeld word, terwyl hooggeplaastes in die ANC laggend om hom gesels.
Die ANC het destyds ook aantygings dat die beeldmateriaal van die besoek gebruik is om die party te begunstig, ten sterkste ontken.
Die video het veral op sosiale netwerke fel kritiek ontlok, en baie kykers het gevoel die bejaarde ikoon se waardigheid is deur die uitsending aangetas.
Mandela (94) is op die oomblik steeds in ‘n kritieke, maar stabiele toestand in die hospitaal nadat hy meer as drie weke gelede opgeneem is.
