FW de Klerk ‘sterk goed aan’

Oudpresident FW de Klerk se operasie Dinsdag om ‘n pasaangeër te kry was suksesvol, het die FW de Klerk-stigting in ‘n verklaring gesê.

Die stigting het Suid-Afrikaners vir hul goeie wense en boodskappe van ondersteuning bedank, en gesê die familie is ook dankbaar teenoor die “uitstekende mediese span” by die Panorama-hospitaal in Kaapstad waar die 77-jarige die intervensie ondergaan het.

President Jacob Zuma het De Klerk ook spoedige beterskap toegewens.

“Ons stuur goeie wense aan die voormalige president. Kom ons hou hom en sy familie in ons gebede,” het Zuma Dinsdag in ‘n verklaring gesê.

De Klerk moes in Junie 2006 ‘n operasie ondergaan om twee kwaadaardige nodusse van sy kolon te verwyder.

Kort na dié operasie het hy ‘n longinfeksie ontwikkel, maar het ten volle herstel.

Maak 'n opvolg-bydrae