Oscar Pistorius het glo model se skedel met kolf verbrysel

Die gestremde Olimpiese lemnaelloper Oscar Pistorius het glo sy vriendin se skedel met ‘n krieketkolf verbrysel voordat hy haar doodgeskiet het, het die polisie aan haar familie gesê, het die Britse Daily Mail berig.

Besonderhede van die nadoodse ondersoek van die Suid-Afrikaanse model Reeva Steenkamp is weerhou in verlede week se aansoek om borg.

Maar bedroefde familielede wat haar liggaam voor Dinsdag se verassing in Port Elizabeth gesien het, beskryf verskriklike beserings van die krieketkolf, en wonde van 9 mm-koeëls wat deur Pistorius afgevuur is.

Hulle is ook ingelig oor die model se dood deur die polisie en prokureurs van die staatsaanklaer se kantoor.

In ‘n beëdigde verklaring wat voorgelees is in die borgverhoor in Pretoria se landdroshof verlede week, het Pistorius beweer dat hy die kolf gebruik het om die deur af te breek van die toilet na die skietery, en gesê dat hy nie besef het sy meisie in die badkamer was nie.

Die bloedbevlekte kolf, wat tans deur ‘n polisie se forensiese span ondersoek word, sal belangrike bewyse oplewer wanneer Pistorius verhoor word vir die moord.

Verlede week het die vervolging geen melding gemaak van enige besonderhede oor die kolf nie. Maar om borgtog te verseker, het Pistorius se regspan in groot detail beskryf hoekom hy ‘n bebloede krieketkolf in sy besit gehad het op die noodlottige aand.

Korrupsie: Name gelys

Regeringsamptenare wat skuldig bevind is op aanklag van korrupsie se name sal gelys word, het Jeff Radebe, minister van justisie, Sondag gesê.

“Oor die volgende paar dae sal ons al die name publiseer van mense wat skuldig bevind is aan korrupsie en al diegene wie se bates of gevries of aan die staat verbeur is,” het die minister aan joernaliste in Pretoria gesê.

Dít word gedoen “sodat die publiek weet wie die vrot appels in die Suid-Afrikaanse samelewing is”.

Radebe het gesê beamptes “werk aan die besonderhede” om of elektroniese media, koerante, radio of TV te gebruik om die inligting bekend te maak.

Op die vraag of regsprobleme dalk kan opduik in dié proses, het Radebe gesê die name is reeds openbare kennis.

“Dit is openbare kennis. Die hofrekord dui dit aan, so daar is geen probleem om die mense se name te noem nie.

“Ons wil hê die publiek moet bewus wees van wat gebeur het, want vir ‘n geruime tyd praat mense oor korrupsie en dit is net ‘n getal [werknemers]. Ons wil dit nou op ‘n sinvolle manier aanpak.”

Malema se rommel op veiling te koop

Julius Malema, voormalige leier van die ANC-jeugliga, het dalk van sy bates weggesteek om te verhoed dat dit op ‘n veiling verkoop word, is Sondag berig.

Malema se bates is opgeveil om die R16 miljoen wat hy die Suid-Afrikaanse Inkomstediens skuld, te betaal.

Sy huishoudelike inhoud is Vrydag in Polokwane vir R54 000 verkoop – net ‘n vyfde van die waarde van sy Breitling-horlosie, het die Sunday Independent berig.

Volgens die koerant was baie mense teleurgesteld oor die bates wat te koop was.

“Volgens die balju was sommige mense nie gelukkig oor die toestand waarin sommige items was nie,” het Adrian Lackay, woordvoerder van die SAID, gesê.

Volgens die koerant het Malema in Januarie R291 000 op klere by ‘n Italiaanse boetiek spandeer en meer as R31 000 op Louis Vuitton-ontwerperklere.

Malema se horlosie en ontwerperklere is nie op die veilig gesien nie. Bates wat opgeveil is, sluit in ‘n klavier, yskaste, ‘n muureenheid, TV’s en blommetafels.

Die Sunday Sun het berig Norman Motaung het die klavier vir R9 300 verkoop.

“Ek het dit nie gekoop oor die vorige eienaar nie,” het Motaung aan die koerant gesê.

Boy Mamabolo, ‘n voormalige vriend van Malema, het ‘n spieël vir R300 gekoop. Hy het aan die koerant gesê Malema het in 2009 onderneem om die spieël vir hom te gee, maar het intussen van plan verander.

“Ek help die SAID om sy geld terug te kry. Maar ek is teleurgesteld dat die musiekmenger teruggaan na Juju – want sy lyfwag het dit gekoop,” het Mamabolo aan die Sunday Sun gesê.

 

Kardinaal kla oor kondome vir skole

Geen kondome sal by skole wat op die Katolieke kerk se grond gebou is versprei word nie, het die Sunday Times berig.

Kardinaal Wilfred Napier, Suid-Afrika se Rooms-Katolieke hoofampsdraer, het die plan deur die departement van onderwys in KwaZulu-Natal as “kortsigtig” en “immoreel” beskryf.

Napier het sy ontevredenheid oor die departement se planne in ‘n brief aan Senzo Mchunu, LUR vir onderwys, uitgspreek.

Mchunu het die besluit geneem ná ‘n konferensie verlede maand om oplossings te vind vir seksuele mishandeling, tienerswangerskap en dwelmmisbruik in die provinsie.

“Sodra iets deur mense is gesagsposisies versprei word, dink kinders dit is reg. Ek kan nie die gebrek aan insig verstaan oor die sielkundige skade wat ons jonger generasie aangerig word nie,” het Napier aan die koerant gesê.

Volgens die koerant het Mchunu bevestig dat kondome nie in Katolieke skole versprei sal word nie.

Oscar Pistorius se broer staar klag van strafbare manslag in die gesig

Oscar Pistorius se ouer broer, Carl staar glo ‘n klag van strafbare manslag in die gesig ná ‘n motorongeluk in 2010 waarin ‘n vroulike motorfietsryer dood is.

Die Pistorius-familie het nog nie gereageer op die beskuldigings wat Carl in die gesig staar nie.

Gister het die familie egter stappe geneem om Carl se profiel op sosiale media te verlaag nadat iemand glo die Twitter-rekening van Carl gekraak het. Die Pistoriusse het al hul sosiale media rekeninge gesluit, vir beide Oscar se broer en sy suster Aimee.

Carl Pistorius se jonger broer, Oscar ontken die moord op sy vriendin Reeva Steenkamp.

Carl ​​is aangekla vir strafbare manslag na die dood van ‘n vroulike motorfietsryer in ‘n motorongeluk, het sy prokureur bevestig.

Die saak hou geen verband met dié van sy broer nie.

Prokureur Kenny Oldwage, wat ook Oscar Pistorius verteenwoordig, het bevestig dat Carl Pistorius – wat die afgelope week in die hof teenwoordig was om sy broer te ondersteun – die aanklag in die gesig staar.

Carl Pistorius het net twee dae voor sy broer se borgtogverhoor verlede week in die hof verskyn.

Sky News het berig dat die aanklag van strafbare manslag soortgelyk is aan ‘n moordklag in die Britse reg.

Die ongeluk met Carl Pistorius in 2010 het plaasgevind in Vanderbijlpark, ‘n uur se ry suid van Johannesburg. Volledige besonderhede oor die aanklag het pas bekend geraak.

Carl Pistorius se bloed is ten tye van die ongeluk getoets, maar hy het negatief getoets vir alkohol.

Carl was nog altyd naby aan Oscar, maar was merkbaar afwesig toe hulle oom Arnold, met slegs Oscar se suster Aimee teenwoordig, in ‘n eerste reaksie op die skietery op 17 Februarie, ‘n verklaring gemaak het.

Die drie-verdieping huis waar Oscar Pistorius tans bly met sy tante en oom lê op ‘n heuwel met ‘n uitsig van Pretoria. Dit het ‘n groot swembad en ‘n onberispelike tuin.

SA krag onder druk na Koeberg-fout

Suid-Afrika se kragvoorsiening verkeer onder druk nadat eenheid 1 van die Koeberg-kragstasie in Kaapstad vroeër vandeesweek ophou werk het, berig Sake24. Die Koeberg-eenheid het afgesluit na ‘n probleem met die elektriese skakelbord.

Die reserwemarge was Donderdagaand slegs 1,1% (365 MW). Die internasionale norm is dat voorsiening 15% meer as verbruik moet wees weens eenhede wat onklaar mag raak

Gasturbines moes ten duurste ingespan word om voorsiening te waarborg. Die verwagte kragvraag was 31 438 MW en 7 603 MW se opwekkingsvermoë was agv van onderbrekings nie beskikbaar nie.

Cahora Bassa se krag van Mosambiek is met die helfte verminder tot 650 MW omdat onlangse vloedskade toevoer van ‘n kraglyn verhinder.

Eenheid 1 van Koeberg sal na verwagting “binne dae eerder as weke” herstel word, het Eskom gesê.

Baasbrein van Vrystaat-moord vas

Die baasbrein wat vermoedelik agter die gru-moord van ‘n bejaarde egpaar op ‘n plaas buite Parys in die Vrystaat vroeër vanjaar sit, is in hegtenis geneem.

‘n Woordvoerder vir die Vrystaatse polisie, Peter Kareli, het gesê die 48-jarige verdagte is Vrydagoggend in Johannesburg aangekeer.

Hy is die eggenoot van Mmaditaba Mokubung, die vrou wat vroeër saam met haar mede-beskuldigde Ezekiel Mnguni in hegtenis geneem is.

Die derde verdagte sal Maandag sy eerste hofverskyning maak terwyl Mnguni en Mokubung op 20 Maart in die landdroshof in Parys verskyn nadat hulle vroeër die maand borgtog geweier is.

Die drie word daarvan verdink dat hulle Ernest en Annatjie van Rooyen op 15 Januarie op die plaas Somerset vermoor het.

Annatjie se lyk is in ‘n kisvrieskas in die snoepwinkel op die plaas gevind.

Oscar Pistorius is nie Julien Assange nie

Met die hele wêreld se oë op hom gerig, het Oscar Pistorius se borgaansoek geslaag. Die aanklaer het selfs die geval Julien Assange opgeroep om sy aansoek te kelder. Assange woon tans in die ambassade van Equador in Londen om die Britse polisie te vermy.

Die oggendsessie van die gestremde naelloper se aansoek om borgtog het met ‘n finale tweestryd tussen die vervolging en verdediging geëindig. Die debat het gehandel oor die vraag of ‘n wêreld-beroemde paralimpiese atleet met sy dubbel-amputasie en prostetiese bene ‘n vlugrisiko inhou indien vrygelaat.

Staatsaanklaer Gerrie Nel het gesê Pistorius het die “geld, middele en motief” om te vlug as hy op borgtog vrygelaat word, en beskryf hoe WikiLeaks se stigter Julian Assange, ewe bekend as Pistorius is, borgtog geweier is en daarna skuiling gaan soek het in die Suid-Amerikaanse land se ambassade in Londen.

Maar die verdediging se advokaat Barry Roux het aangevoer dat elke keer as Pistorius deur die sekuriteit by die lughawe, gaan, daar oproer is weens sy metaalbene wat verklikkers laat afgaan. Hy kandus nie ongesiens deur die lughawe sekuriteit gaan nie.

Sy prostetiese hulpmiddels benodig instandhouding en aanpassing op ‘n maandelikse basis, en hy vereis mediese aandag.

Die stampvol hofsaal het goeie vriende van Reeva Steenkamp, die vriendin geskiet deur Pistorius, en die man wat nou die leiding van die ondersoek oorgeneem het, luitenant Geneal Vineshkumar Moonoo, ingesluit.

OP: Nuwe ondersoekbeampte aangestel

Riah Phiyega, die nasionale polisiekommissaris, het Donderdag tydens ‘n mediakonferensie in Pretoria gesê die ondersoekbeampte in die moordsaak van die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius sal vervang word.

Phiyega het bekendgemaak dat Hilton Botha deur “die mees senior speurder in die SAPD” vervang sal word, het ‘n @Jacanews-twiet gelui.

Die ondersoek sal deur lt.genl. Vinesh Moonoo gelei word.

Dit volg nadat dit Donderdag aan die lig gekom het dat Botha deur sewe aanklagte van poging tot moord in die gesig gestaar word.

Die aanklagte hou verband met ‘n skietvoorval wat plaasgevind het terwyl drie polisiebeamptes, insluitend Botha, na bewering dronk was, het Eyewitness News berig.

Botha het Woensdag in die hof getuig in Pistorius se borgtogaansoek nadat die Paralimpiese atleet aangekla is van die moord op sy meisie, Reeva Steenkamp, by sy huis in Pretoria.

Phiyega het Donderdag gesê die saak sal voortaan op nasionale vlak aandag geniet.

OP: Ondersoekbeampte staan self tereg op moord

Opskudding in die Oscar Pistorius-saak duur voort nadat dit aan die lig gekom het dat die ondersoekbeampte in die saak, adjudant-offisier Hilton Botha, tereg staan op sewe aanklagte van poging tot moord saam met nog twee kollegas in verband met ‘n voorval in 2011.

Botha is gister as die Staat se eerste getuie geroep in Pistorius se borgtogaansoek, berig Eyewitness News.

Botha en drie ander beamptes was na bewering dronk toe hulle ‘n staatsvoertuig bestuur en op ‘n taxi met swart passasiers losgebrand het. Hulle is in 2011 in hegtenis geneem.

Botha, wat die polisie-ondersoek lei na die skietery wat op Valentynsdag in Pistorius se huis plaagevind het, en die twee ander beamptes sal in Mei in die hof verskyn.

Die polisie het bevestig dat Botha in verband met die skietery in hegtenis geneem is. Die aanklagte is aanvanklik laat vaar, maar is intussen weer heropen.

Neville Malila, polisiewoordvoerder, het gesê Botha is gekies om die Pistorius-saak te hanteer omdat hy ‘n ervare speurder is en daar is geen planne is om hom van die ondersoek te onttrek nie.

Die hofverrigtinge hervat vandag om 11:00.

Die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius het gevra dat ‘n Bybel na hom gebring word, het sy oom, Arnold, in ‘n onderhoud gesê.

“Carl en Aimee (Pistorius se broer en suster) het gesê hulle sit saam met hom en dat hy veral baie die Bybel lees, soos sy ma hom geleer het,” het Arnold Woensdagaand in ‘n onderhoud met die eNCA-nuuskanaal gesê.

Volgens Arnold het die ster-atleet eers Dinsdag weer begin eet.

Arnold het gesê dit is ‘n moeilike tyd vir die familie, maar hulle staan bankvas agter die atleet.

Hy het ook sy kommer uitgespreek oor wat hy as Pistorius se “openbare verhoor” beskryf.

“Die saak gaan aan en jy kan oordeel vir jouself… die waarheid sal seëvier.”

Arnold het gesê die Pistorius-familie was in kontak met die Steenkamps, maar respekteer hul verlies en privaatheid.

Op die vraag oor bewerings dat Pistorius ‘n geskiedenis van geweld het, het Arnold die atleet as ‘n “vredemaker” beskryf.

Pistorius is in erge skok en rou in die “emosioneel moeilike tyd,” het sy oom gesê.

“Die wêreld sal ‘n ander Oscar sien; niemand kan weer dieselfde wees ná so ‘n tragedie nie, maar hy sal weer opstaan en beter as ooit wees.”

Steenkamp is Dinsdag tydens ‘n private diens in Port Elizabeth veras.

Die “testosteroon” wat in die atleet se huis gevind is, was ‘n kruiemiddel en nié ‘n verbode middel nie, het sy advokaat, Barry Roux, Woensdag in die Pretoriase landdroshof gesê.

“Dit is ‘n kruiemiddel. Dit is nie ‘n steroïed nie en dit is ook nie ‘n verbode middel nie,” het Roux gesê.

Ao. Botha, het vroeër getuig dat ‘n boks testosteroon en naalde in ‘n boks onder ‘n TV in Pistorius se huis gevind is. Die New York Times se swart verslaggewer het die vonds as “verbode middels” in ‘n voorbladberig beskryf.

Die polisie het nog nie die middels laat toets nie, het Ao. Botha bevestig. Botha getuig vir die staat, wat Pistorius se borgtog teenstaan.