Opskudding in die Oscar Pistorius-saak duur voort nadat dit aan die lig gekom het dat die ondersoekbeampte in die saak, adjudant-offisier Hilton Botha, tereg staan op sewe aanklagte van poging tot moord saam met nog twee kollegas in verband met ‘n voorval in 2011.
Botha is gister as die Staat se eerste getuie geroep in Pistorius se borgtogaansoek, berig Eyewitness News.
Botha en drie ander beamptes was na bewering dronk toe hulle ‘n staatsvoertuig bestuur en op ‘n taxi met swart passasiers losgebrand het. Hulle is in 2011 in hegtenis geneem.
Botha, wat die polisie-ondersoek lei na die skietery wat op Valentynsdag in Pistorius se huis plaagevind het, en die twee ander beamptes sal in Mei in die hof verskyn.
Die polisie het bevestig dat Botha in verband met die skietery in hegtenis geneem is. Die aanklagte is aanvanklik laat vaar, maar is intussen weer heropen.
Neville Malila, polisiewoordvoerder, het gesê Botha is gekies om die Pistorius-saak te hanteer omdat hy ‘n ervare speurder is en daar is geen planne is om hom van die ondersoek te onttrek nie.
Die hofverrigtinge hervat vandag om 11:00.
Die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius het gevra dat ‘n Bybel na hom gebring word, het sy oom, Arnold, in ‘n onderhoud gesê.
“Carl en Aimee (Pistorius se broer en suster) het gesê hulle sit saam met hom en dat hy veral baie die Bybel lees, soos sy ma hom geleer het,” het Arnold Woensdagaand in ‘n onderhoud met die eNCA-nuuskanaal gesê.
Volgens Arnold het die ster-atleet eers Dinsdag weer begin eet.
Arnold het gesê dit is ‘n moeilike tyd vir die familie, maar hulle staan bankvas agter die atleet.
Hy het ook sy kommer uitgespreek oor wat hy as Pistorius se “openbare verhoor” beskryf.
“Die saak gaan aan en jy kan oordeel vir jouself… die waarheid sal seëvier.”
Arnold het gesê die Pistorius-familie was in kontak met die Steenkamps, maar respekteer hul verlies en privaatheid.
Op die vraag oor bewerings dat Pistorius ‘n geskiedenis van geweld het, het Arnold die atleet as ‘n “vredemaker” beskryf.
Pistorius is in erge skok en rou in die “emosioneel moeilike tyd,” het sy oom gesê.
“Die wêreld sal ‘n ander Oscar sien; niemand kan weer dieselfde wees ná so ‘n tragedie nie, maar hy sal weer opstaan en beter as ooit wees.”
Steenkamp is Dinsdag tydens ‘n private diens in Port Elizabeth veras.
Die “testosteroon” wat in die atleet se huis gevind is, was ‘n kruiemiddel en nié ‘n verbode middel nie, het sy advokaat, Barry Roux, Woensdag in die Pretoriase landdroshof gesê.
“Dit is ‘n kruiemiddel. Dit is nie ‘n steroïed nie en dit is ook nie ‘n verbode middel nie,” het Roux gesê.
Ao. Botha, het vroeër getuig dat ‘n boks testosteroon en naalde in ‘n boks onder ‘n TV in Pistorius se huis gevind is. Die New York Times se swart verslaggewer het die vonds as “verbode middels” in ‘n voorbladberig beskryf.
Die polisie het nog nie die middels laat toets nie, het Ao. Botha bevestig. Botha getuig vir die staat, wat Pistorius se borgtog teenstaan.
