Riah Phiyega, die nasionale polisiekommissaris, het Donderdag tydens ‘n mediakonferensie in Pretoria gesê die ondersoekbeampte in die moordsaak van die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius sal vervang word.
Phiyega het bekendgemaak dat Hilton Botha deur “die mees senior speurder in die SAPD” vervang sal word, het ‘n @Jacanews-twiet gelui.
Die ondersoek sal deur lt.genl. Vinesh Moonoo gelei word.
Dit volg nadat dit Donderdag aan die lig gekom het dat Botha deur sewe aanklagte van poging tot moord in die gesig gestaar word.
Die aanklagte hou verband met ‘n skietvoorval wat plaasgevind het terwyl drie polisiebeamptes, insluitend Botha, na bewering dronk was, het Eyewitness News berig.
Botha het Woensdag in die hof getuig in Pistorius se borgtogaansoek nadat die Paralimpiese atleet aangekla is van die moord op sy meisie, Reeva Steenkamp, by sy huis in Pretoria.
Phiyega het Donderdag gesê die saak sal voortaan op nasionale vlak aandag geniet.
