Paaie stil voor nog petrolprysverhogings

Paaie is nie so besig oor die Paasnaweek soos wat verwag is nie, het verkeersbeamptes Vrydag gesê.

Dit sluit een van die besigste roetes tussen Limpopo en Gauteng in.

“Tot dusver is niks groot aangemeld nie en die paaie is nie so besig soos wat ons verwag het nie,” het Ashref Ismail, woordvoerder van die Padverkeerbestuurskorporasie, gesê.

“Desnieteenstaande is ons bekommerd oor mense wat nie hul veiligheidsgordels dra nie, te veel mense in voertuie prop en nie die regte volgafstand hou nie. Mense moet baie versigtig op die pad wees,”” het hy gesê.

Ismail het gesê motoriste moet verseker dat hul motors padwaardig is voordat hulle reis en al die nodige veiligheidstoetse moet gedoen word.

Intussen het Joshua Kwapa, woordvoerder vir Limpopo se departement van paaie en vervoer, gesê verkeer op die N1-noord en die R101 tussen Polokwane en Limpopo vloei.

Kwapa het bygevoeg dat verkeer Donderdag begin afneem het, maar dat dit na verwagting Saterdag gaan toeneem.

Tussen 09:00 en 10:00 Vrydagoggend is 3 100 motors per uur by die Phumlani-tolhek op die N1 in ‘n noordelike rigting getel, het supt. Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie, gesê.

Een van die redes mag die hoë brandstofprys wees.Verbruikers kan verwag om van 3 April af meer te betaal vir brandstof.

Die pryse van petrol en diesel sal op 3 April met ongeveer 7c tot 12c per liter styg, afhangende van die graad van die brandstof en die geografiese ligging van die vulstasie waar dit gekoop word.

“Die onverwagse styging is hoofsaaklik aan ‘n onvoorspelbare styging van 10,96c per liter in die sogenaamde leiheffing (slate levy) te wyte,” het Paul Joubert, senior navorser by Solidariteit se Navorsingsinstituut, gesê. “Die feit dat die styging twee dae vroeër as gewoonlik aangekondig is, het ook ‘n klein invloed gehad, aangesien die berekeningstydperk vir die prys slegs 18 dae was en nie 20 soos aanvanklik verwag nie. Daar sal wel met die prysverandering in Mei hiervoor opgemaak word.”

Die prys van 95-oktaan petrol sal in Gauteng met 12c per liter styg, terwyl dit aan die kus met 10c sal styg.

Die prys van 93-oktaan petrol in Gauteng sal 10c per liter hoër wees.

Die groothandelprys van ‘n liter diesel met ‘n 0,05% swawelinhoud sal in Gauteng 9,06c hoër wees, terwyl dit 7,16c hoër sal wees aan die kus.

Die groothandelprys van ‘n liter diesel met ‘n 0,005% swawelinhoud sal in Gauteng 10,06c hoër wees, terwyl dit 8,16c hoër sal wees aan die kus.

“Die prysstygings kan ook verder van distrik tot distrik verskil, aangesien die vervoerdifferensiale tussen distrikte ook aangepas is.” het Joubert bygevoeg.

McBride kom los

Robert McBride, voormalige Ekurhuleni-metropolisiehoof, is vrygespreek het Volksblad berig.

Hy is Donderdagoggend in die Pretoriase hooggeregshof nie skuldig bevind op die klagtes van dronkbestuur en poging tot regsverydeling nie. McBride is voorheen tot vyf jaar tronkstraf gevonnis vir dié oortredings.

McBride het teen sy skuldigbevinding en vonnis van September 2011 geappelleer. Regter Cynthia Pretorius het bevind dat daar “vreemde aksies” was wat kon gelyk het na verdoeseling in sy getuienis, maar dit is nie bo redelike twyfel bewys nie.

“Dit is egter nie genoeg om iemand skuldig te bevind nie. Die staat moes dit steeds bo redelike twyfel kon bewys, en hulle het dit nie gedoen nie,” het sy gesê.

“Dit is die hof se bevinding dat die staat geen van die klagtes teen die beskuldigde bo redelike twyfel kon bewys nie,” het Pretorius gesê.

Sy het gesê die getuienis van McBride se drie kollegas wat hom op die betrokke aand bygestaan het, moet verwerp word. Volgens hulle was McBride smoordronk.

Hulle het dié getuienis gelewer nadat hulle vrywaring van vervolging gekry het.

Lyk van sakeman met Zuma-bande in rivier gevind

Die lyk van ‘n vooraanstaande KwaZulu-Natalse sakeman is in die Tugelarivier in die provinsie gevind, het die polisie gesê.

Lt.kol. Vincent Mdunge sê inwoners het die lyk opgemerk en die polisie in kennis gestel.

“Hy het talle steekwonde opgedoen.”

Eyewitness News het die oorlede geïdentifiseer as Nhlanhla Gasa, wat met pres. Jacob Zuma verbind word. Hy is ook die pa van die televisiepersoonlikheid Noni Gasa.

Mdunge sê polisiebeamptes het die oorledene se verbrande voertuig ‘n paar meter verder gevind.

“Beamptes het toe na sy huis in Umhlanga gegaan… waar hulle bloed in die huis gevind het. Hierdie bevestig dat die aanval in sy huis gebeur het en dat hy na die rivier geneem is.”

Geen waardevolle items is gesteel nie.

‘n Saak van moord met verswarende omstandighede en opsetlike saakbeskadiging is met die polisie in Durban-Noord geopen.

Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.

Mandela met longontsteking opgeneem

Voormalige staatshoof Nelson Mandela is Woensdagaand weens longinfeksie in die hospitaal opgeneem, het die presidensie gesê.

Mandela is glo Woensdagaand kort voor middernag opgeneem.

“Dokters kyk na hom en verseker dat hy die beste moontlike behandeling ontvang en gemaklik is,” het Nuus24 berig.

Pres. Jacob Zuma het Mandela ‘n spoedige herstel toegewens.

“Ons doen ‘n beroep op Suid-Afrikaners en mense oor die wêreld heen om vir ons geliefde Madiba te bid en in hul gedagtes te hou. Ons het volle vertroue in die mediese span en weet dat hulle alles moontlik sal doen om sy herstel te verseker,” het Zuma gesê.

Die voormalige staatshoof is verlede jaar op 8 Desember ook in ‘n hospitaal opgeneem om ‘n longinfeksie te behandel.

Mandela is meer onlangs op 9 Maart in die hospitaal opgeneem vir ‘n geskeduleerde mediese ondersoek en die volgende dag reeds ontslaan.

Resies vir hulpbronne in SAR

Terwyl talle vrae opduik oor Suid-Afrika se militêre betrokkenheid in die oorloggeteisterde Sentraal-Afrikaanse Republiek, het dit na vore gekom dat maatskappye met skakels na invloedryke politici en sakemanne gretig is om olie en minerale in die streek te ontgin.

Ten minste een maatskappy, Divine Inspiration Group Oil wat besit word deur invloedryke sakevrou Andrea Brown is tans bedrywig in die SAR.

Brown, wat die enigste direkteur van die maatskappy is, is ‘n belangrike sakevennoot met Encha Group, ‘n beleggingsmaatskappy wat gestig is deur Tiego Moseneke, die broer van die huidige adjunk-hoofregter Dikgang Moseneke. Sy het ook opgetree as ‘n konsultant en met die regering gewerk in die opstel van SEB-wetgewing.

Dertien Suid-Afrikaanse soldate is dood en 27 gewond oor die naweek in die hoofstad, Bangui, om rebelle te verhoed om die land se omstrede president, Francois Bozize te ontsetel. Die rebelle het intussen die hoofstad oorgeneem en Bozize is landuit.

Troepe op die grond beweer dat baie gedood is om Suid-Afrikaanse kommersiële belange te verdedig.

Ander maatskappye wat oliebelange in die naburige Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) het, wat strek tot by die suidelike streek van die SAR, is Caprikat en Foxwhelp, wat besit word deur Jacob Zuma se neef, Khulubuse Zuma. Beide van hierdie maatskappye is in die Maagde-eilande geregistreer.

Nie een van hierdie individue kon gister vir kommentaar bereik word nie.

Presidensiële woordvoerder Mac Maharaj het gister gesê hy het “geen aanduiding” nog van Zuma oor die “wat die volgende stap in die SAR sal wees nie”.

Ten spyte van swak ekonomiese groei, beskik die SAR oor ‘n oorvloed van onontwikkelde minerale hulpbronne, en mynboumaatskappye van regoor die wêreld stel daarin belang. Die hulpbronne sluit in koper, grafiet, ilmeniet, ystererts, ligniet, mangaan, monasiet, kwarts, rutiel, sout, tin en uraan, volgens die Amerikaanse Geologiese Opname.

Op sy webwerf, het Divine Inspiration Group Oil verklaar dat ‘n ooreenkoms onderteken is om ‘n olie-veld te ontgin wat strek van die suid-weste van die land tot in die naburige Demokratiese Republiek van die Kongo onder presidensiële dekreet.

So vroeg as 2007 het dit begin as ‘n Suid-Afrikaanse en Kongolese inisiatief wat daarop gemik is om geleenthede in die DRK en die SAR te ontgin.

Khulubuse Zuma se maatskappye het ooreenkomste onderteken vir die beheer van minerale regte op dieselfde ondergrondse oliebron toegeken deur die DRK se President Joseph Kabila.

Khulubuse het die regte vir Caprikat, terwyl Michael Hulley, Zuma se spesiale raadgewer en sakevennoot van Khulubuse, die regte vir Foxwhelp het.

Die maatskappye het na berig word ‘n totaal van $6 miljoen betaal vir die regte.

Rotbendes val Kapenaars aan

Yslike rotte wat in groepe aanval is besig om die inwoners van ‘n Kaapse losieshuis te terroriseer, het die Cape Argus Woensdag berig.

Lundi Galanda, van die Dura-losieshuis in Langa op die Kaapse Vlakte, het aan die koerant gesê sy kan snags hoor hoe die rotte aan die voordeur krap.

“Hulle oë skyn soos die hoofligte van ‘n motor. Die rotte is nes vampiere want hulle verskyn slegs in die aand. Hulle het reeds hul pad deur ‘n metaaldeur oopgeknaag…daar is niks wat die goed kan keer nie,” het Galanda gesê.

Die rotte het glo reeds deur die deksels van boontjiebotter-houers en plastiekhouers gebyt.

Galanda woon saam met sewe ander gesinne in die gebou.

Eunice Phatiwa (65), ‘n gemeenskapsleier in Langa, woon reeds die afgelope 40 jaar in die losieshuis.

“Die rotprobleem het oor die jare vererger en hulle is nie meer bang vir ons nie. Hulle begin elke aand omstreeks 20:00 met hul aanvalle. Wanneer ons slaap trek ons die komberse oor ons koppe, selfs in die somer,” het Phatiwe gesê.

“Hulle byt ons in die gesig, kop en aan ons voete…die rotte weet wat hulle wil hê…hulle is doelbewus in hul bewegings, net soos mense.”

Die Stad Kaapstad het onlangs aangekondig dat R530 843 begroot is om van die stad se rotplaag in die stad ontslae te raak.

Dié aankondiging het gevolg kort na ‘n twiet van die Wes-Kaape premier, Helen Zille, wat vertel het van ‘n rot wat haar aan haar toon in die tuin gebyt het.

‘Vermeende’ stropers doodgeskiet

Drie vermeende renosterstropers is doodgeskiet ná ‘n konfrontasie met wildbewaarders in die Krugerwildtuin, het die Valke Donderdag gesê.

Kaptein Paul Ramaloko het gesê die wildbewaarders het omstreeks 18:00 Woensdagaand ‘n skoot hoor afgaan.

Hulle het op drie Mosambiekers in hul 20’s afgekom en ‘n skietery het uitgebreek.

Die wildbewaarders is nie in die voorval gewond nie, het Ramaloko gesê.

‘n Jaggeweer en ammunisie is op die toneel gevind.

Ramaloko het gesê die wildbewaarders kon geen dooie of beseerde renosters in die gebied vind nie, maar hulle bly steeds op die uitkyk.

Menslike weefsel in vleis gevind

Wetenskaplikes het spore van menslike weefsel in vleis bedoel vir openbare verbruik gevind, maar dit hou “geen bedreiging” vir die verbruikers wat dit eet in nie.

Dit is ook bevind dat slegs 15% van die vleis wat verkoop word korrek gemerk is, wat beteken dat 85% van die vleis in die mark is twyfelagtig. Die bevindings is Dinsdag in die parlement tydens ‘n inligtingsessie oor vleisinspeksies weergegee.

Die Universiteit van Stellenbosch se wetenskaplike Louw Hoffman het gesê dat sy span in ‘n ​​mikrobiese voedselanalise, ‘n “snapshot”, soms menslike DNS in die vleismonsters opgetel het. Hy het gesê dit is egter nie ‘n aanduiding van risiko nie.

“As ek in ‘n fabriek rondloop, en die monster wat ek lukraak gekies het om te toets is ‘n monster van vleis waar die persoon in sy neus gekrap het en dan aan die vleis geraak het, sal ek ‘n heeltemal verskillende mikrobiese lesing kry,” het hy gesê .

Hoffman het gesê die produkte wat ondersoek is, is meestal worsies en maalvleis, en 95 van 139 produkte wat geïnspekteer is, is verkeerd gemerk.

Maar Hoffman het gesê dat al is die vleis verkeerd gemerk, is daar geen gesondheidsrisiko’s aan verbruikers nie.

SA-soldate in SAR verraai!

Die eerste Suid-Afrikaanse soldate in die Sentraal-Afrikaanse Republiek is nie doodgeskiet deur die rebelle nie, maar deur muitende regeringsmagte in opstand teen president Francois Bozize.

Verslae het intussen na vore gekom oor hoe noukeurig georkestreerde aanvalle beplan en uitgevoer is deur SAR-regeringsoldate op die Suid-Afrikaanse troepe, hul sogenaamde bondgenote wat vir die afgelope ses jaar opleiding en toerusting aan hul eweknieë verskaf het.

Die R1-miljard opleidingsmissie, volgens na DefenceWeb, was bedoel om die vaardighede van 1300 SAR-soldate te slyp, en het die verskaffing van wapens en ammunisie ingesluit.

Dit is hierdie wapens wat teen die Suid-Afrikaners gebruik is deur die muiters van SAR.

SANW-woordvoerder, brigadier-generaal Xolani Mabanga het Dinsdag geweier om kommentaar te lewer.

“Ons sal nie reageer op hierdie inligting of hierdie bewerings nie,” het hy gesê.

The Times verstaan ​​dat wisselvallige lone aan SAR-soldate bygedra het tot spanning binne die weermag.

Suid-Afrikaanse militêre bevelvoerders, in ‘n klaarblyklike massiewe opbou van militêre slaankrag, het ‘n reuse-Ilyushin-76 uit Pretoria se Waterklooflugmagbasis verlede nag laat opstyg. Die Russiese maatskappy wat gebaseer is in Afrika, is op pad na Entebbe in Uganda, waar, volgens SANW bronne, ‘n opbou van magte aan die gang is.

‘n Senior beampte het gesê dat die slaankrag sal helikopters en troepe insluit.

‘n Militêre mediese fasiliteit word volgens bronne  in Uganda beplan.

Dit is die ergste dodetal vir Suid-Afrika sedert die Angolese grensoorlog, het die SA Nasionale Weermagunie gesê.

Pikkie Greeff van die Unie het gesê: “Ons troepe, wat aan ons gedetailleerde rekenskap gegee het van wat gebeur het, is woedend … hulle is belieg vanaf die aanvang van hul ontplooiing in Januarie Toe hulle daar aankom, is hulle meegedeel dat hulle nie daar is vir opleiding of die beskerming van militêre bates nie.

“Hulle was onder streng instruksies om Suid-Afrikaanse bates, toerusting, eiendom en Suid-Afrikaners te beskerm en te beveilig.”

Greeff het gesê dat dit nodig is om dadelik vas te stel aan wie die bates behoort het en waarom dit nodig was om die beskerming van die elite troepe te eis. “Die manier waarop hierdie troepe deur SAR-magte aangeval is, toon daar was iets strategiese omtrent hulle. Ons troepe is doelbewus aangeval en dit blyk met opleiding en wapens wat deur ons verskaf is.”

Greeff het gesê: “Die publiek is belieg … nie net oor wat ons troepe daar doen nie, maar ook oor hoe hulle gesterf het. Dit is ‘n blatante toesmeerdery … die president skuld die gesinne en die land antwoorde. “

Name bekend van gesneuwelde soldate in SAR

Die 13 Suid-Afrikaanse soldate wat dood is in gevegte met rebelle in die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR) is Dinsdag deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) bekendgemaak.

Volgens die SANW is korporaals Mokgadi Darius Seakamela en Ntebaleng Andrew Mogorosi en onderkorporaals Daniel Sello Molara en Lukas Mohapi Tsheke onder Sondag se slagoffers.

Die soldate wat dood is, is:

Lesego Maxwell Hertzog,

Zamani Jim Mxhosana,

Xolani Dlamini,

Vusumzi Joseph Ngaleka,

Karabo Edwin Matsheka,

Khomotso Paul Msenga,

Maleisane Samuel Thulo,

Motsamai William Bojane,

Thabiso Anthon Phirimana.

“Die SANW wil ook bekendmaak dat die lid wat as vermis aangemeld was lewend gevind en gesond is,” het die SANW in ‘n verklaring gesê.