Rotbendes val Kapenaars aan

Yslike rotte wat in groepe aanval is besig om die inwoners van ‘n Kaapse losieshuis te terroriseer, het die Cape Argus Woensdag berig.

Lundi Galanda, van die Dura-losieshuis in Langa op die Kaapse Vlakte, het aan die koerant gesê sy kan snags hoor hoe die rotte aan die voordeur krap.

“Hulle oë skyn soos die hoofligte van ‘n motor. Die rotte is nes vampiere want hulle verskyn slegs in die aand. Hulle het reeds hul pad deur ‘n metaaldeur oopgeknaag…daar is niks wat die goed kan keer nie,” het Galanda gesê.

Die rotte het glo reeds deur die deksels van boontjiebotter-houers en plastiekhouers gebyt.

Galanda woon saam met sewe ander gesinne in die gebou.

Eunice Phatiwa (65), ‘n gemeenskapsleier in Langa, woon reeds die afgelope 40 jaar in die losieshuis.

“Die rotprobleem het oor die jare vererger en hulle is nie meer bang vir ons nie. Hulle begin elke aand omstreeks 20:00 met hul aanvalle. Wanneer ons slaap trek ons die komberse oor ons koppe, selfs in die somer,” het Phatiwe gesê.

“Hulle byt ons in die gesig, kop en aan ons voete…die rotte weet wat hulle wil hê…hulle is doelbewus in hul bewegings, net soos mense.”

Die Stad Kaapstad het onlangs aangekondig dat R530 843 begroot is om van die stad se rotplaag in die stad ontslae te raak.

Dié aankondiging het gevolg kort na ‘n twiet van die Wes-Kaape premier, Helen Zille, wat vertel het van ‘n rot wat haar aan haar toon in die tuin gebyt het.

Maak 'n opvolg-bydrae