Robert McBride, voormalige Ekurhuleni-metropolisiehoof, is vrygespreek het Volksblad berig.
Hy is Donderdagoggend in die Pretoriase hooggeregshof nie skuldig bevind op die klagtes van dronkbestuur en poging tot regsverydeling nie. McBride is voorheen tot vyf jaar tronkstraf gevonnis vir dié oortredings.
McBride het teen sy skuldigbevinding en vonnis van September 2011 geappelleer. Regter Cynthia Pretorius het bevind dat daar “vreemde aksies” was wat kon gelyk het na verdoeseling in sy getuienis, maar dit is nie bo redelike twyfel bewys nie.
“Dit is egter nie genoeg om iemand skuldig te bevind nie. Die staat moes dit steeds bo redelike twyfel kon bewys, en hulle het dit nie gedoen nie,” het sy gesê.
“Dit is die hof se bevinding dat die staat geen van die klagtes teen die beskuldigde bo redelike twyfel kon bewys nie,” het Pretorius gesê.
Sy het gesê die getuienis van McBride se drie kollegas wat hom op die betrokke aand bygestaan het, moet verwerp word. Volgens hulle was McBride smoordronk.
Hulle het dié getuienis gelewer nadat hulle vrywaring van vervolging gekry het.
