Lyk van sakeman met Zuma-bande in rivier gevind

Die lyk van ‘n vooraanstaande KwaZulu-Natalse sakeman is in die Tugelarivier in die provinsie gevind, het die polisie gesê.

Lt.kol. Vincent Mdunge sê inwoners het die lyk opgemerk en die polisie in kennis gestel.

“Hy het talle steekwonde opgedoen.”

Eyewitness News het die oorlede geïdentifiseer as Nhlanhla Gasa, wat met pres. Jacob Zuma verbind word. Hy is ook die pa van die televisiepersoonlikheid Noni Gasa.

Mdunge sê polisiebeamptes het die oorledene se verbrande voertuig ‘n paar meter verder gevind.

“Beamptes het toe na sy huis in Umhlanga gegaan… waar hulle bloed in die huis gevind het. Hierdie bevestig dat die aanval in sy huis gebeur het en dat hy na die rivier geneem is.”

Geen waardevolle items is gesteel nie.

‘n Saak van moord met verswarende omstandighede en opsetlike saakbeskadiging is met die polisie in Durban-Noord geopen.

Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.

Maak 'n opvolg-bydrae