Shuttleworth se aansoek ‘kan SA lelik knou’

Mark Shuttleworth se bod om Suid-Arfrika se valutabeheermaatreëls ongrondwetlik te laat verklaar kan ‘n verwoestende uitwerking op die land het, sê die regsgeleerde Jeremy Gauntlett.

Gauntlett SC, vir die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB), het aangevoer dat Shuttleworth se aansoek in die hooggeregshof in Pretoria “die mees radikale hofbevel denkbaar” vra.

“Hy het baie doelbewus besluit om die hart van die skema aan te val en te poog om die pilare van die tempel inmekaar te laat tuimel,” het Gauntlett gesê.

“Indien die aansoeker daarin slaag om artikel 9 van die geldeenheidwet ongeldig te laat verklaar en bewys dat alle maatreëls en reëls ongrondwetlik is, sou daar geen inhibisie op die verwydering van kapitaal uit hierdie land wees nie.

“Artikel 9 is die hart van die wisselkoersstelsel en hy wil dit klop.”

Gauntlett het gesê Shuttleworth beweer dat dit in die belang van alle Suid-Afrikaners is dat die geheel van die wisselkoersbeheerstelsel in die land vernietig word.

“Hy kon nie sy geld uit die land kry nie. Nou wil hy die hele stelsel aftrek. Waarom moet hierdie finansiële vlugteling, wat op die eiland Man [vir belastingontduiking] skuil, namens die hele Suid-Afrikaanse samelewing praat?”

Afgesien van sy grondwetlike uitdaging, wil Shuttleworth die hof nader om die heffing van meer as R250 miljoen wat hy betaal het om sommige van sy bates uit die land te kry in 2009, ter syde laat stel, en die SARB dwing om die geld terug te gee.

Hy wil verder ‘n bevel verkry sodat die SARB se sogenaamde “geslote-deur-beleid” wat aan lede van die publiek gekommunikeer word deur die bemiddeling van die gemagtigde banke as ongrondwetlik en ongeldig verklaar word.

Shuttleworth het die huidige stelsel van valutabeheer in Suid-Afrika blameer wat hom “gedwing” het om te emigreer in 2001.

Hy het bates ter waarde van meer as R4.27 miljard in Suid-Afrika gehad toe hy geëmigreer het, maar hy het die bates uit die land in 2008 en 2009 geneem, elke keer onderhewig aan die betaling van ‘n 10% “uitgangbeheerfooi”.

Die regering het die heffing ‘n jaar nadat Shuttleworth die res van sy bates uit die land geskuif het, laat vaar.

Gauntlett het aangevoer dat Shuttleworth se aansoek die verkeerde besluitnemer teiken, want die SARB het net die uitvoering van ‘n besluit aangekondig deur die minister van finansies tydens ‘n toespraak in die Parlement in 2003.

Zuma ontmoet Mandela se mediese span

Pres. Jacob Zuma het die dokters wat voormalige president Nelson Mandela behandel, ontmoet, het die presidensie Dinsdag gesê.

“Pres. Jacob Zuma het Maandagaand die mediese span wat Mandela behandel ontmoet vir ‘n deurtastende inligtingsessie,” het Mac Maharaj, woordvoerder van die presidensie, in ‘n verklaring gesê.

“Pres. Zuma het volle vertroue in die mediese span en is tevrede dat hulle hul beste gee om Madiba beter te maak.”

Mandela was steeds in ‘n “ernstige, maar stabiele” toestand in ‘n hospitaal in Pretoria.

Maharaj het berigte dat Zuma Mandela Dinsdag sou besoek van die hand gewys.

“Dit is onwaar. Die president is in Kaapstad,” het hy gesê.

Die presidensie het Saterdag bekendgemaak dat Mandela in die vroeë oggendure by ‘n hospitaal opgeneem is.

Die presidensie het Maandag gesê Mandela se toestand was “onveranderd” van Saterdag af en dat hy intensiewe sorg ontvang.

SA jeug glo buitelanders is sleg vir land

Baie jongmense dink buitelanders is “sleg vir die land”, toon ‘n opname wat Dinsdag vrygestel is.

Altesaam 1 845 mense tussen die ouderdom van 18 en 34 het deelgeneem aan die opname, wat deur die verbruikersnavorsingsmaatskappy Pondering Panda gedoen is.

Volgens die opname glo jongmense dat buitelanders wat in Suid-Afrika woon en werk, ‘n negatiewe impak op die land het.

Minstens 42% van die respondente glo buitelanders is sleg vir die land, terwyl 28% gesê het hul teenwoordigheid maak geen verskil nie. Altesaam 24% glo buitelanders het ‘n positiewe impak op die land.

Die opname het bevind dat 85% van jongmense bewus was van die onlangse xenofobiese geweld in verskeie gemeenskappe.

Die respondente is ook gevra hoekom hulle dink inwoners in die gemeenskappe gewelddadig is teen buitelandse winkeleienaars.

Die meeste van die respondente het gesê hulle dink buitelanders lok klante weg van ander winkels, en 42% het gesê dit is hoekom mense wil hê hulle moet dié gemeenskap verlaat.

“Indien die studie die houdings van alle Suid-Afrikaners weerspieël, het ons ‘n groot probleem,” het Shirley Wakefield, woordvoerder van Pondering Panda, gesê.

Respondente glo ook xenofobiese geweld in die land is besig om toe te neem.

In die Vrystaat glo byna tweederdes van die respondente die geweld gaan vererger.

Opinies verander ook volgens streek. Meer as die helfte van respondente van Limpopo het ‘n negatiewe siening van buitelanders, gevolg deur Gauteng en die Wes-Kaap.

In die Oos-Kaap glo 36% buitelandse werkers is sleg vir die land.

Jeugliga laat meer as R100 miljoen verdwyn

Julius Malema, voormalige leier van die ANC-jeugliga, se kool- en tamatieplaas is Maandag vir R2,5 miljoen verkoop, berig enca.com. Die plaas is sowat R4 miljoen werd.

In Mei is Malema se halfvoltooide huis in Sandown, Johannesburg, vir R5,9 miljoen verkoop op ‘n veiling wat die kurator vir die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gereël het.

Malema skuld die SAID R16 miljoen aan belasting.

Intussen het Beeld berig dat fondse van die ANC-jeugliga, wat tot in 2009 deur sy omstrede “beleggingsvleuel” bestuur is, verdwyn het.

Magasela Mzobe, koördineerder van die ANC-jeugliga se nasionale taakspan, het Maandag erken dat dié organisasie nie weet wat geword het van die miljoene rande wat tot vier jaar gelede nog in Lembede Investment Holdings was nie.

Mzobe het volgens Beeld gesê die taakspan ondersoek bewerings dat die bates van meer as R100 miljoen deur ‘n jeugligalid vir net R3 miljoen verkoop is.

Dis ook nie duidelik wat van dié R3 miljoen geword het nie. Die liga staar likwidasie in die gesig weens agterstallige skuld van R15 miljoen.

Uitspraak in die saak is Vrydag in die hooggeregshof in Johannesburg voorbehou.

Tony Mundell, waarnemende regter, het gesê die saak is “uniek”, en dat hy nie dadelik ‘n besluit sal kan neem nie.

Pule Mabe, wat sedert 2008 in beheer van die jeugliga se geldsake was, kon gister nie vir kommentaar bereik word nie.

Mandela ernstig, maar bestendig

Die presidensie het Maandag bevestig dat pres. Jacob Zuma die oudpresident Nelson Mandela in die hospitaal gaan besoek, berig Eyewitness News.

Die presidensie het vroeër ‘n verklaring uitgereik oor Mandela se gesondheidstoestand wat steeds onveranderd bly.

Mandela is vroeg Saterdagoggend in die hospitaal opgeneem.

Mac Maharaj, presidensiële woordvoerder, het ook berigte ontken dat slegs Mandela se familie by hom toegelaat word.

Intussen wag talle joernaliste buite ‘n Pretoriase hospitaal waar Mandela vermoedelik behandel word, het Sapa berig.

Ten spyte van die koue is joernaliste en fotograwe buite die twee hekke van die hospitaal saamgetrek.

Parkering in die straat oorkant die hospitaal was teen 07:00 Maandagoggend vol. Meer as sewe voertuie van TV-kanale is op die toneel en kameras hou die ingange van die hospitaal in die visier.

Mandela is steeds in ‘n ernstige, maar bestendige toestand in die hospitaal, berig RSG.

Die polisie het intussen die veiligheidsmaatreëls by die hospitaal waar hy behandel word, oorgeneem. Polisielede bewaak albei ingange na die hospitaal en die gebied voor die hospitaal is afgesper.

Mandela word vir ‘n vierde dag vir ‘n herhalende longinfeksie in die hospitaal behandel.

“Hy is in intensiewe sorg,” het Mac Maharaj, presidensiële woordvoerder aan AFP gesê.

Verskeie familielede het die oudpresident Maandag besoek, maar dit is nog nie duidelik wanneer pres. Jacob Zuma hom sal besoek nie.

Swartes se grondaansprake onrealisties en opruiend

“Lulu Johnson, voorsitter van die portefeuljekomitee oor landbou in die parlement, se stelling dat niemand in die verlede uit Europa hier aangekom het met grond op ‘n skip nie, kan nie onaangeveg gelaat word nie,” sê mnr. Werner Weber, die VF Plus se woordvoerder oor grondsake en provinsiale leier in Mpumalanga.

Volgens Weber is die voor die hand liggende teenvraag aan Johnson: Watter grond die swart mense oor die Limpoporivier saamgebring het toe hulle vanaf die groot mere gebied oor die Limpoporivier suidwaarts migreer het. Het hulle die grond met kruiwaens aangery of op pakesels gelaai? Soos die wittes, is die swart mense tog ook nie inheems van Suid-Afrika nie.

Selfs nou nog maak die ANC ‘n gerieflike verskil tussen swart mense en die Khoi-San in hul aanstellings in die departement van korrektiewe dienste in die Wes-Kaap. Geskiedkundig is slegs die Khoi-San inheems aan Suid-Afrika.

Volgens Weber behoort Johnson tereggewys te word vir ‘n uitlating wat onnodig emosies opjaag en wat tot haatspraak kan lei.

Weber het ook gepleit vir die behoud van Nelspruit se naam. “Die VF Plus in Mpumalanga ondersteun die Lowveld Chamber of Business and Tourism (LCBT) se veldtog om die naam van Mpumalanga se hoofstad, Nelspruit te behou,” sê hy.

Volgens Weber bestaan daar geen basis vir ‘n naamsverandering nie. Toe Andries Hendrik Potgieter en sy trekkers in 1845 in die gebied aangekom het, was die hele gebied totaal onbewoon. Slegs een Swazi het ‘n uitkykpos in die gebied beman.

Daarna het Potgieter daardie hele gebied in 1846 van die Swazi koning Mswati die eerste vir 100 beeste gekoop en ook ‘n ooreenkoms met die Pedi-opperhoof Sekwati aangegaan. Die ooreenkoms is met ‘n bindende getekende traktaat bevestig.

Die wittes het daarna die dorp gebou. Die ANC het geen reg of aanspraak om die naam te verander nie. Dit is om hierdie rede dat die VF Plus die LCBT heelhartig steun om die naam Nelspruit te behou. Weber het die LCBT sterkte en sukses toegewens in sy geregverdigde regstryd.

Hou op kla, sê Ramaphosa

Cyril Ramaphosa, adjunk-president van die ANC, het ‘n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om op te hou kla oor die probleme in die land, het die Sunday Times berig.

“Suid-Afrikaners moet daarvan wegskram om die grootste klakouse te wees,” het hy die naweek in ‘n toespraak aan die Black Management Forum (BMF) gesê.

Ramaphosa sê Suid-Afrikaners het die reg om te kritiseer, maar hy meen landsburgers moet ook oplossings aanbied wanneer hulle kritiek lewer.

“Moenie ‘n gemakstoelkritikus word nie; sak in die skrum en wys wat jy kan doen.”

Ramaphosa sê groot ondernemings kla dikwels oor sake soos die huidige onrus in die mynbedryf, maar hulle erken nie hul aandeel daaraan nie.

Die regerende party se adjunk-president meen verder dis nie nét die regering se verantwoordelikheid om dié tipe probleme op te los nie.

Vrou in koele bloede doodgeskiet

‘n Vrou is die naweek op ‘n plaas naby Gravelotte in Limpopo doodgeskiet.

Kol. Ronel Otto sê Melinda Bam (30) en haar vriend het in die bed gelê toe drie of vier mans die kamer binnegestap het. Die voorval het Saterdagoggend net ná 01:00 plaasgevind.

Die aanvallers het die vrou doodgeskiet, terwyl die man in die been en lies gewond is.

Otto sê vier tot vyf kinders was ook ten tyde van die aanval in die huis. Hulle het hulself in ‘n kamer toegesluit en is ongedeerd.

Die aanvallers het selfone en kontant gesteel.

“Die polisie ondersoek nog die motief vir die skietery. Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie,” het die polisiewoordvoerder gesê.

Geen nuus van Mandela nie

Oudpresident Nelson Mandela het vir ‘n derde nag in ‘n hospitaal in Pretoria deurgebring sonder dat enige verdere inligting oor sy toestand bekendgemaak is.

Volgens berigte het Mandela se mediese span aangedui dat hulle verkies om slegs bekend te maak as daar ‘n belangrike verandering in sy toestand is.

Die oudpresident sukkel weer met ‘n terugkerende longinfeksie. Hy is Saterdagoggend in die vroeë oggendure na die hospitaal geneem.

Verskeie familielede was gister by die hospitaal opgemerk waar honderde joernaliste toegesak het vir nuus oor die bejaarde staatshoof.

Boodskappe van bemoediging stroom van regoor die wêreld in. Die presidensie het Saterdag gesê Mandela se toestand is ernstig maar stabiel.

Mulder ontmoet Georgië se landbouminister

Suid-Afrikaanse landbouers se kundigheid en bydrae in Georgië word steeds waardeer nieteenstaande die nuwe regering daar.

So het dr Pieter Mulder, adjunkminister van landbou, bosbou en visserye na afloop van ‘n bilaterale vergadering met die nuwe adjunkminister van landbou van Georgië, mnr. David Natroshvili gesê.

“In Oktober 2012 het ‘n nuwe regering in Georgië aan bewind gekom. Onder druk van kiesers het die nuwe regering belowe om die wetgewing wat grondbesit deur buitelanders bepaal, te herformuleer. Van die voorstelle is dat buitelanders slegs 2,5 hektaar grond mag besit. So ‘n besluit sal die huidige Suid-Afrikaanse landbouers in Georgie regstreeks raak. Dit is dus belangrik om die Suid-Afrikaanse boere wat reeds daar is en wat beplan om eersdaags daarheen uit te brei, by te staan deur amptelik met Georgië te onderhandel,” het dr Mulder gesê.

Gedurende 2010 is daar ‘n memorandum van verstandhouding tussen die Transvaalse Landbou Unie (TLU) en die vorige regering van Georgië geteken. Die doel van die ooreenkoms was om Georgië by te staan met die ontwikkeling van hul kommersiële landbou en om meer Suid-Afrikaanse landbouers na Georgië te trek. Meer as 90 Suid-Afrikaanse boere het reeds Georgië besoek en vyf het reeds grond in die land aangekoop en daar begin boer. Met ‘n nuwe regering mag dit hierdie landbouers se situasie raak.

Mnr. Natroshvili is tans in Suid-Afrika op ‘n amptelike besoek om formele diplomatieke bande tussen Georgië en Suid-Afrika te versterk.

Die vergadering se doel was om ‘n wedersyds voordelige inter-regerings en kommersiële vennootskap en samewerking met betrekking tot die landbousektor tussen Suid-Afrika en Georgië te bespreek. Tydens die gesprek is ook spesifiek oor die Suid-Afrikaanse landbouers se posisie in Georgie gepraat.

Waar vorige ooreenkomste nie op regeringsvlak was nie, is ooreengekom om aan so ‘n ooreenkoms te begin werk. Dit kan uitloop op ‘n amptelike ooreenkoms oor samewerking op landbougebied wat tussen Georgie en Suid-Afrika geteken word.

Die versterking van handelsverhoudinge met lande anders as Suid-Afrika se tradisionele handelsvennote is in die huidige ekonomiese klimaat van kardinale belang, het dr. Mulder gesê.