“Lulu Johnson, voorsitter van die portefeuljekomitee oor landbou in die parlement, se stelling dat niemand in die verlede uit Europa hier aangekom het met grond op ‘n skip nie, kan nie onaangeveg gelaat word nie,” sê mnr. Werner Weber, die VF Plus se woordvoerder oor grondsake en provinsiale leier in Mpumalanga.
Volgens Weber is die voor die hand liggende teenvraag aan Johnson: Watter grond die swart mense oor die Limpoporivier saamgebring het toe hulle vanaf die groot mere gebied oor die Limpoporivier suidwaarts migreer het. Het hulle die grond met kruiwaens aangery of op pakesels gelaai? Soos die wittes, is die swart mense tog ook nie inheems van Suid-Afrika nie.
Selfs nou nog maak die ANC ‘n gerieflike verskil tussen swart mense en die Khoi-San in hul aanstellings in die departement van korrektiewe dienste in die Wes-Kaap. Geskiedkundig is slegs die Khoi-San inheems aan Suid-Afrika.
Volgens Weber behoort Johnson tereggewys te word vir ‘n uitlating wat onnodig emosies opjaag en wat tot haatspraak kan lei.
Weber het ook gepleit vir die behoud van Nelspruit se naam. “Die VF Plus in Mpumalanga ondersteun die Lowveld Chamber of Business and Tourism (LCBT) se veldtog om die naam van Mpumalanga se hoofstad, Nelspruit te behou,” sê hy.
Volgens Weber bestaan daar geen basis vir ‘n naamsverandering nie. Toe Andries Hendrik Potgieter en sy trekkers in 1845 in die gebied aangekom het, was die hele gebied totaal onbewoon. Slegs een Swazi het ‘n uitkykpos in die gebied beman.
Daarna het Potgieter daardie hele gebied in 1846 van die Swazi koning Mswati die eerste vir 100 beeste gekoop en ook ‘n ooreenkoms met die Pedi-opperhoof Sekwati aangegaan. Die ooreenkoms is met ‘n bindende getekende traktaat bevestig.
Die wittes het daarna die dorp gebou. Die ANC het geen reg of aanspraak om die naam te verander nie. Dit is om hierdie rede dat die VF Plus die LCBT heelhartig steun om die naam Nelspruit te behou. Weber het die LCBT sterkte en sukses toegewens in sy geregverdigde regstryd.
