Mandela ernstig, maar bestendig

Die presidensie het Maandag bevestig dat pres. Jacob Zuma die oudpresident Nelson Mandela in die hospitaal gaan besoek, berig Eyewitness News.

Die presidensie het vroeër ‘n verklaring uitgereik oor Mandela se gesondheidstoestand wat steeds onveranderd bly.

Mandela is vroeg Saterdagoggend in die hospitaal opgeneem.

Mac Maharaj, presidensiële woordvoerder, het ook berigte ontken dat slegs Mandela se familie by hom toegelaat word.

Intussen wag talle joernaliste buite ‘n Pretoriase hospitaal waar Mandela vermoedelik behandel word, het Sapa berig.

Ten spyte van die koue is joernaliste en fotograwe buite die twee hekke van die hospitaal saamgetrek.

Parkering in die straat oorkant die hospitaal was teen 07:00 Maandagoggend vol. Meer as sewe voertuie van TV-kanale is op die toneel en kameras hou die ingange van die hospitaal in die visier.

Mandela is steeds in ‘n ernstige, maar bestendige toestand in die hospitaal, berig RSG.

Die polisie het intussen die veiligheidsmaatreëls by die hospitaal waar hy behandel word, oorgeneem. Polisielede bewaak albei ingange na die hospitaal en die gebied voor die hospitaal is afgesper.

Mandela word vir ‘n vierde dag vir ‘n herhalende longinfeksie in die hospitaal behandel.

“Hy is in intensiewe sorg,” het Mac Maharaj, presidensiële woordvoerder aan AFP gesê.

Verskeie familielede het die oudpresident Maandag besoek, maar dit is nog nie duidelik wanneer pres. Jacob Zuma hom sal besoek nie.

Maak 'n opvolg-bydrae