Cyril Ramaphosa, adjunk-president van die ANC, het ‘n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om op te hou kla oor die probleme in die land, het die Sunday Times berig.
“Suid-Afrikaners moet daarvan wegskram om die grootste klakouse te wees,” het hy die naweek in ‘n toespraak aan die Black Management Forum (BMF) gesê.
Ramaphosa sê Suid-Afrikaners het die reg om te kritiseer, maar hy meen landsburgers moet ook oplossings aanbied wanneer hulle kritiek lewer.
“Moenie ‘n gemakstoelkritikus word nie; sak in die skrum en wys wat jy kan doen.”
Ramaphosa sê groot ondernemings kla dikwels oor sake soos die huidige onrus in die mynbedryf, maar hulle erken nie hul aandeel daaraan nie.
Die regerende party se adjunk-president meen verder dis nie nét die regering se verantwoordelikheid om dié tipe probleme op te los nie.
