Baie jongmense dink buitelanders is “sleg vir die land”, toon ‘n opname wat Dinsdag vrygestel is.
Altesaam 1 845 mense tussen die ouderdom van 18 en 34 het deelgeneem aan die opname, wat deur die verbruikersnavorsingsmaatskappy Pondering Panda gedoen is.
Volgens die opname glo jongmense dat buitelanders wat in Suid-Afrika woon en werk, ‘n negatiewe impak op die land het.
Minstens 42% van die respondente glo buitelanders is sleg vir die land, terwyl 28% gesê het hul teenwoordigheid maak geen verskil nie. Altesaam 24% glo buitelanders het ‘n positiewe impak op die land.
Die opname het bevind dat 85% van jongmense bewus was van die onlangse xenofobiese geweld in verskeie gemeenskappe.
Die respondente is ook gevra hoekom hulle dink inwoners in die gemeenskappe gewelddadig is teen buitelandse winkeleienaars.
Die meeste van die respondente het gesê hulle dink buitelanders lok klante weg van ander winkels, en 42% het gesê dit is hoekom mense wil hê hulle moet dié gemeenskap verlaat.
“Indien die studie die houdings van alle Suid-Afrikaners weerspieël, het ons ‘n groot probleem,” het Shirley Wakefield, woordvoerder van Pondering Panda, gesê.
Respondente glo ook xenofobiese geweld in die land is besig om toe te neem.
In die Vrystaat glo byna tweederdes van die respondente die geweld gaan vererger.
Opinies verander ook volgens streek. Meer as die helfte van respondente van Limpopo het ‘n negatiewe siening van buitelanders, gevolg deur Gauteng en die Wes-Kaap.
In die Oos-Kaap glo 36% buitelandse werkers is sleg vir die land.
